Fidji
langsaam
luier
die boot
verby pêrels in die Stille Oseaan
water en lug versmelt
die sekondewyser huiwer…
jy skulp ons in sagte blou
met spatsels
wit en akwamaryn
in jou mooiste rok loop jy
kaalvoet onder kokosneutpalms
henna op jou hande en enkels
agter jou oor
‘n frangipani
in ruigtes van groen, geel en rooi
val jou haarlokke
oor Viti Levu se hange
uitgelate hardloop jou dogtertjies
na die bushalte
en plant soentjies op jou wange
waar jou paadjies doodloop
wuif jou seuntjies vrolik
houtgeweertjies in hul hande
in hul oë is hoop
jy verwelkom ons met kava
by die markte van Sigatoka
Bula! en Vinaka Vavakalevu
groet ons jou
gevoed was ons in die ryk
van die Slapende Reus
mag jou lag in ons bly
en ‘n palmtak
oor ons wees
© Stephan du Toit, 2025