Spoorsny
nege-en-neëntig het hy laat staan
laat staan naby die buitepos
waar die gras geil streep
langs die nossob
sy kierie het hy gevat
biltong, droëperskes, koffie en water
op soek na die
één
het hy gegaan
sy oë sekuur op die spoor
kronkelend in die kalaharisand
waar die spoor wegraak teen die kliprant
het sy vingers sag om klossies wol
in die haak-en-steek gevou
verderaan was vars tekens
onder ‘n kol kameeldoringbome
teen skemer
te midde van die sweet en stof
het sy helder oë haar bespeur
hy het haar versigtig op sy skouers getel
en, in die doflig van die maan,
teruggegaan
© Stephan du Toit, 2025