Gegee aan ons die Gees
Gegee aan ons die Gees van Ewig-God
om te heers oor die veelvoud van lewe;
gegiet in ons hart die liefdesgebod:
ons groot verlange, ons hoogste strewe.
Skeppingsgeheimenis, begrens deur lig;
met kwantumsprong, relatief tot die uur,
ontbloot ons met trots die Hemelgesig,
na die beeld van die Skepper skep ons sekuur:
Requiem met trompet in D-mineur,
agtiende sonnet oor liefde en smart,
glimlaggende Lisa verewig in fleur,
in marmer beeld ons die man na Sy hart.
Toe Hy die mens met hierdie gawes kroon,
kon Hy voorsíén dat hul Hom sou verloën?
© Stephan du Toit, 2025