“Michaelangelo in his final years on Display at British Museum”
Associated Press, London, 30 April, 2024
Al jou grootse skeppinge
kan nie deesdae iewers gesien word nie:
daarvoor het jy wel goed gesorg
toe jy marmer kerf
en kwasse laat spat
want jy het die hele hemel self geverf!
Blykbaar het jy vir eeue vooraf al geweet
Mussolini sal jou blyplek
in die Piazza Rusticucci sloop
saam met die Santa Caterina
della Cavallerotte kerk
in die hoop
om só ‘n meer imposante uitsig te skep
‘n spoggerige wyer straat net om
die Sixtynse Kapel
a prima vista
beter ten toon te stel.
Dáár, bo teen die plafon,
waar jy, Il Divino, staan-staan,
met stywe nek op stellasies sukkel
om die hele hemel
druppel
vir
druppel
te skilder; weer te gee
kompleet met engele en die Here,
die ganse uitspansel,
soos bestel deur die delle Rovere pous:
in toto
vanaf God wat uitreik na die menshand
aan die genesis-begin
en nuut geskepte malse velde
tot by die apokalips,
insluitende alle Ou Testament helde
en profete, van jonk tot ouer
veral Sagaria, met sy grandiose retoriek,
vlieënde strydwaens
en tsemach: die spruit wat tempels bou.
Dus, wetende dat jy eendag
‘n tuiste kwyt sal wees,
sluip jy suutjies jou eie beeld hierin
as Michael, aartsengel en beskermer,
(want jou naam is mos só)
en verewig daarmee jouself
vir almal om te besigtig:
eeue ná die sloping
is jou blyplek nou inderdaad
hier verseker met dié visie van jouself
as die tsemach-akolitaat.
© Meyer van Rensburg