I
Hierdie portretvers van El Primo deur Diego Vélasquez is ‘n klassieke skildery. El Primo, ‘n spotnaam vir Sebastián de Morra.
‘n Hofnar vir Philip IV in Spanje, geskilder in 1644.
Hy sterf in 1649.
Dit hang in die Prado.
En deur Johan van Wyk opgevang in ‘n gedig. En vertaal van Afrikaans na Engels.
Die dwergie se bestaan is ‘n klein bietjie bekend aan my. ‘n Goeie vriendin van my is een. Sy het deur die jare baie van die problematiek róndom haar bestaan vir my verduidelik: soos dat hulle nie daarvan hou om met ander, soos hulle, te sosialiseer nie. En dat sy veral haar roem op agentskap en haar lewe met trots uitleef. Een aand het ons twee op Dancing Queen gedans in ‘n kroeg. Ek lank; sy kort. Ek gay; sy straight. En vir my vertel hoe sy deur die jare mans moes afweer wat net wil weet hoe dit is om met haar te slaap.
Tot haar eindelose irritasie. Sy het eweneens ‘n rol vertolk in ‘n toneelstuk Haikoe geplaas in ‘n sandput. Aangrypend. Dit was 25 jaar gelede …
In Skokiaan wat nie meer bestaan nie. Daar waar sy die bekkige kroegvrou was, staangemaak op ‘n bankie om bó die toonbank uit te staan.
Ander benamings vir dwergie (wat nie politiek-korrek is nie): gnome, midget, dwarf, Lilliputian, midge, manikin, pygmy.
Don Sebastián de Morra
Na ‘n skildery van Velázquez
In sy stomp vuisies kan hy ‘n blom
frommel soos ‘n sakdoek, sy beentjies
is plat op die vervelige vloer. Sy verouderde oë
verwyt: My? U?
Party kinders is altyd speelgoed
van vreemdelinge. “U wat hom mismaak het,”
sê die skilder, “meer blom as mens,
mag ek hom vertoon
sodat hy oë streel
met, versluier, sy mensoë.”
Johan van Wyk vang die woede op van hierdie mens. Die verwyt wat ons sien in die verouderde oë. En God word aangespreek as “U”.
Dalk ook die kyker wat deel word van hierdie patroon van misbruik?
Van Wyk beklemtoon hoe hy misbruik word:
Party kinders is altyd speelgoed
van vreemdelinge.
Speelgoed impliseer ook dat hy dalk ‘n seksobjek was?
Die skilder tree vir hom in die bresse:
“U wat hom mismaak het,”
sê die skilder, “meer blom as mens,
mag ek hom vertoon
sodat hy oë streel
met, versluier, sy mensoë.”
Hy is meer blom (versiering) as mens en in hierdie skildery sal die skilder hom verlos uit sy pyn en vervelige bestaan. Bekend as sogenaamde sabandijas of slangetjies: vasgekeer in die paleis. ‘n Soort besitting van die meester.
Meer blom as mens aktiveer die idioom “mossie maar man” of “klein maar getrein”.
Kabouter of dwergie is nie meer polities-korrekte woorde nie.
Lengte-gestremde? Dit sal helaas nie deug in ‘n gedig nie.
II
Don Sebastián de Morra
After a painting by Velázquez
In his blunt fists he could fumble
a flower like a handkerchief, his short legs
is flat on the boring floor. His aging eyes
reproaches: Me? You?
Some children are always the toys
of strangers. “You that mismade him”
says the painter, “more flower than man,
may I show him
so that he could caress eyes,
with his, veiled, human eyes.”
En die vertaling? Dit mis die grinterigheid van die Afrikaanse gedig.
“Stomp vuisies”, die verkleining word “blunt fists”. “Mismaak” word vertaal as “mismade”.
Mismaak is so ‘n gelade woord wat eweneens die woord misbaksel in sig dra. “Beentjies” word “short legs” en die verkleining in Afrikaans gaan dus verlore. Dis altyd moeilik om ‘n gedig van een taal na ander digterlik te transporteer.
Waarskynlik illustreer hierdie gedig hoe sterk Afrikaans werk met verkleinwoorde.
III
Kyk hoe netjies word Van Wyk Louw se “Klipwerk” vertaal deur Robert Schall van Afrikaans na Duits:
kyk die fieteljienies
alkant toe trap hy
bo in die mied se blom
onder in die mied se kom
schau die firlefänzchen
er tritt nach allen seiten
oben auf die diemendecke
unten in das diemenbecken
https://versindaba.co.za/2020/03/05/n-p-van-wyk-louw-50-robert-schall-vertaling-in-duits-2/ Besoek 5 Maart 2025
En kyk net hoe verkeerd vertaal google translate na Engels en Frans.
‘n Goeie vertaling vang iets op van die oorspronklike segging. Hierom was Uys Krige so ‘n uitstekende vertaler met sy coplas in Afrikaans gebloemlees deur M.M. Walters in sy reeks Poësie uit die verre lande: Spaanse dans. Spaanse gedigte vertaal deur Uys Krige:
Elke korrel stof
kan ek in ‘n copla verander.
Skaars klaar met een
of hier sing reeds ‘n ander.
(1991: 102).
‘n Goeie gedig moet dans en sing in die nuwe taal.
Fieteljienies!
Bronne:
Walters, M.M. (red.) 1991. Poësie uit die verre lande: Spaanse dans. Spaanse gedigte vertaal deur Uys Krige. Johannesburg: Perskor.
Joan Hambidge
5 Maart 2025