Stil punt van die aarde
JdL
In Roland Barthes deur homself,
lees ek op oor die inkvis: behorend
tot die orde van Coleoidea.
Ek onthou ‘n seekat
in jou sitkamer in Seepunt,
wat snags stilletjies glip
sit in een tenk en soggens
in die tweede alleen
aangetref word.
Hoe hierdie outjie,
‘n platgesmeerde blits
van kleur kan verander;
boonop sy mantel draai
soos dit pas, verduidelik jy
wetenskaplik-korrek.
Later in ‘n akwarium,
(nes ons besoeke aan ‘n dieretuin)
weet ek Barthes had gelyk:
singe entre les signes …
as jy nie ‘n bekende taal besit nie,
steel een soos alle digters doen:
altyd immer voortdurend
in ballingskap, verbanning
of ‘n interne verhuising.
Met potlood of swart ink,
on le sait, ‘n amfibioloog.
L’envoi
En nou woon jy tussen die sterre
in daardie ballingskap
buite woorde of taalsisteme soekend
na die stil punt van die aarde.
JdL, johnnypanic, Johannes …
Ek wou nog sê …
© Joan Hambidge, 2025

Ontstemmend mooi.
Die essensie van Johann de Lange vasgevang, of verlos.
Baie dankie Joan.
Bitterlik mooi Joan!
Ek is seker jou hart is aan flarde…
Liefde liefde…
Wat ‘n wonderlike huldiging. Nou is daar net een van die oorspronklike “enfant terribles” oor in ons digkuns. My medelye ook aan u.