Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
31 March 20254 April 2025

Joan Hambidge. Johann de Lange – Vreemder as fiksie die grein van hunkering

 

Hoe maak ‘n mens ‘n bestekopname van ‘n vriendskap wat in 1982 begin het? ‘n Digter wat ons besiel het? Sy laaste bundel Miniatuur gee hy aan my met ‘n inskripsie:

 

Miniatuur

Mikro – of makro, mini – of maksi –

dit bring dieselfde satisfaksie.

Maksimaal of minuskuul,

als gehoorsaam die molekuul.

 

In ‘n bewerige handskrif. My laaste bundel Asindeton dra ek dan ook aan hom op.

Die gesprek, voortdurend, tussen ons.

Maar sy gedigte. Akwarelle van die dors sy debuut (1982) som die essensie van sy digkuns op. Die lewe as ‘n paradoks.

Ons vriendskap was ‘n literêre een en persoonlik kon hy dikwels ‘n skerp blik gooi op die bedryf met sy interne politiek. Hy het my voorgestel aan Wilma Stockenström.

In die tagtigerjare begin ons Ensovoort saam met Johann Lodewyk Marais en Renée Marais.

As vertaler was sy werk uitstaande.

Op 26 Maart, die laaste e-pos van hom aan my:

 

OOR DIE MARTELAARSKAP VAN F. GARCIA LORCA

Roy Campbell

 

Hy’t nie net sy lewe verloor

deur sluipmoord uitgehaal:

maar met ‘n handbyl en ’n mes

is hy agterna – vertaal.

(Vertaal deur Johann de Lange)

 

 

On the Martyrdom of F. Garcia Lorca

Roy Campbell

 

Not only did he lose his life

By shots assassinated:

But with a hammer and a knife

Was after that—translated.

 

Bekroonde digter, vertaler en kortverhaalskrywer. En bloemleser. Die gesprekke met Ingrid Jonker en Van Wyk Louw. Die algebra van nood. My laaste e-pos aan hom was na aanleiding van ‘n brief wat ek in my eksemplaar van Eybers se Noodluik ontdek het.

Die afgelope paar maande skryf ek rubrieke vir die Versindaba oor Johan van Wyk, ‘n digter vir wie De Lange die hoogste agting had.

Sy e-pos-adres was veelseggend: johnnypanic666@gmail.com

In sy lewe moes hy die vroeë selfdood van sy vader verwerk. As jong kind was hy uitgelewer aan sy familie. Op ‘n besoek aan die plaas (naby Nylstroom) het ek iets van sy jeug beleef. Selfs die emmer waaroor hy gedig het in die veld gesien …

Sy verse oor sy pa is klassieke werk wat sowel Sylvia Plath as Anne Sexton se verwonde verhoudings met húl vaders oproep.

Op my blog Woorde wat weeg staan die inskrywings oor sy werk. As eindredakteur van die AVBOB-reeks (I wish I’d said) bring hy al die inheemse tale bymekaar saam met ander redakteurs.

 Hy was veral die meester van die spaars gedig.

‘n Mini-vers van hom:

 

Liefde

Meet die matelose af: gee

genoeg speling: die skakels

van die hoop anker

tot in die laaste senuknoop.

Vanoggend kyk ek in die Versamelde gedigte op my rekenaar: 82 keer kom die woord liefde voor. Dit sou hom tog ontroer het dat soveel mense per e-pos, whatsapp en oproepe hul skok en ongeloof verwoord. Met dieselfde mantra: wat ‘n besondere digter is hy nie.

Genadiglik bly dit is. Die iteratief-duratief van die digkuns.

Ons vriendskap was ‘n kritiese een. Ons het mekaar se gedigte met ‘n skalpel gelees en Johann kon onmiddellik ‘n fout in ‘n gedig raaksien. As hy ‘n gedig aanvaar het, was dit reg.

 

Boondocks

Vir JdL

 

Op ‘n keer vra ek jou na die betekenis

van ‘n slengwoord. Jy trek die woordeboek

nader. Dit was in Pretoria circa 1984: jy

in Kerkstraat woonagtig; ek toe in Pietersburg.

Briewe en foonoproepe en ontmoetings

(selfs een aan die heldeakkker; ‘n besoek

aan jou Oom se plaas met Bertus sodat

ek jóú komvandaan beter kon verstaan).

My ouers ontmoet jy nooit; dog uit my

vertellings en verse leer hulle ken van jou.

Met jou Ouma sou ek oor die telefoon praat;

lank en uitgebreid oor haar gunstelingkind.

Deur die jare bly ons verse draadlose seine:

seismograwe wat ‘n digterlike bestaan nes

vulkane, aardbewings en ontploffings meet.

Ek hoor jou krities vra: “Meet of registreer?”

Helaas, helaas ek weet nie meer nie;

vandag uit op die digterlike boondocks.

*

Mag hy sag oorreis sonder pyn. Want hy sal vir altyd bly woon in ‘n stanza (kamer) van die digkuns. En die meeste sterre is nie dood nie. Digterlike sterre bly voortleef …

En niemand kon dig oor die hunkering se grein soos Johann de Lange nie. JdL. Johnnypanic. Johannes.

En ten slotte ‘n lykdig vir hom: …

 

Stanno tutti bene?

 

Soos Salvatore Quasimodo

leer, staan ons elkeen alleen

op die hart van die aarde.

 

Alles is wel, dit weet ons wel.

 

Deur ’n straal van die son

deurboor en skielik ja skielik

word dit aand, nee nag.

 

Alles is wel, dit weet ons wel.

 

Tyd is glo die skool waarin

ons leer, tyd is die vuur

waarin ons brand, meen

 

Delmore Schwartz alleen,

‘n versaakte in ’n lykhuis deur

nagwandelinge erg verweer.

 

Alles is wel, dit weet ons wel.

 

Lorca wys op die hemelse heuning

vloeiend uit die onsigbare

heuningkoek soos verbittering

 

genaamd poësie, in die siel

vervaardig; want dig is

speel met vuur, skryf Cussons.

 

Alles is wel, dit weet ons wel.

 

Die meeste sterre is lankal dood,

meen De Lange soekend

na die stil punt van die aarde.

 

Alles is wel, dit weet ons wel.

 

Met Eugenio Montale skyn

’n rosekrans van roes en pers

met die son ’n trompetgeskal.

 

En ek? Tussen oggend- en aandster

wetend mý spitsberaad blote

naskynsels van jy-het-net-verdwyn.

 

So alles is wel in hierdie private hel.

So alles is wel in hierdie private hel.

 

 

Joan Hambidge

Kaapstad 28 – 31 Maart 2025

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Franco Colin. Magic Mike
Daniel Hugo. Verjaardagvers →

2e gedagtes oor “Joan Hambidge. Johann de Lange – Vreemder as fiksie die grein van hunkering”

  1. Jet Schafer says:
    3 April 2025 at 19:22

    “Wanneer ‘n digter sterf
    mag sy gedigte tog ‘n ewige leser beërf” -Joan Hambidge

    Reply
  2. J. van Loggerenberg says:
    3 April 2025 at 16:12

    Sjoe, dit kan nie mooier gesê word nie. Dankie vir die deel. Hy word ten seerste gemis, met groot ontsteltenis. Met opregte deelneming: sterkte in hierdie dae en verder.
    Groete, Hannes van Loggerenberg

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Jacques Boshoff. Ontoereikend
  • Sharon Goliath. Here Hoe Groot Is U
  • Ruan Fourie. kindness is modern magic
  • Cobus Kruger. Deepfakes

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Rust-mijn-ziel: Digters gedenk Aucamp
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d