Hoe maak ‘n mens ‘n bestekopname van ‘n vriendskap wat in 1982 begin het? ‘n Digter wat ons besiel het? Sy laaste bundel Miniatuur gee hy aan my met ‘n inskripsie:
Miniatuur
Mikro – of makro, mini – of maksi –
dit bring dieselfde satisfaksie.
Maksimaal of minuskuul,
als gehoorsaam die molekuul.
In ‘n bewerige handskrif. My laaste bundel Asindeton dra ek dan ook aan hom op.
Die gesprek, voortdurend, tussen ons.
Maar sy gedigte. Akwarelle van die dors sy debuut (1982) som die essensie van sy digkuns op. Die lewe as ‘n paradoks.
Ons vriendskap was ‘n literêre een en persoonlik kon hy dikwels ‘n skerp blik gooi op die bedryf met sy interne politiek. Hy het my voorgestel aan Wilma Stockenström.
In die tagtigerjare begin ons Ensovoort saam met Johann Lodewyk Marais en Renée Marais.
As vertaler was sy werk uitstaande.
Op 26 Maart, die laaste e-pos van hom aan my:
OOR DIE MARTELAARSKAP VAN F. GARCIA LORCA
Roy Campbell
Hy’t nie net sy lewe verloor
deur sluipmoord uitgehaal:
maar met ‘n handbyl en ’n mes
is hy agterna – vertaal.
(Vertaal deur Johann de Lange)
On the Martyrdom of F. Garcia Lorca
Roy Campbell
Not only did he lose his life
By shots assassinated:
But with a hammer and a knife
Was after that—translated.
Bekroonde digter, vertaler en kortverhaalskrywer. En bloemleser. Die gesprekke met Ingrid Jonker en Van Wyk Louw. Die algebra van nood. My laaste e-pos aan hom was na aanleiding van ‘n brief wat ek in my eksemplaar van Eybers se Noodluik ontdek het.
Die afgelope paar maande skryf ek rubrieke vir die Versindaba oor Johan van Wyk, ‘n digter vir wie De Lange die hoogste agting had.
Sy e-pos-adres was veelseggend: johnnypanic666@gmail.com
In sy lewe moes hy die vroeë selfdood van sy vader verwerk. As jong kind was hy uitgelewer aan sy familie. Op ‘n besoek aan die plaas (naby Nylstroom) het ek iets van sy jeug beleef. Selfs die emmer waaroor hy gedig het in die veld gesien …
Sy verse oor sy pa is klassieke werk wat sowel Sylvia Plath as Anne Sexton se verwonde verhoudings met húl vaders oproep.
Op my blog Woorde wat weeg staan die inskrywings oor sy werk. As eindredakteur van die AVBOB-reeks (I wish I’d said) bring hy al die inheemse tale bymekaar saam met ander redakteurs.
Hy was veral die meester van die spaars gedig.
‘n Mini-vers van hom:
Liefde
Meet die matelose af: gee
genoeg speling: die skakels
van die hoop anker
tot in die laaste senuknoop.
Vanoggend kyk ek in die Versamelde gedigte op my rekenaar: 82 keer kom die woord liefde voor. Dit sou hom tog ontroer het dat soveel mense per e-pos, whatsapp en oproepe hul skok en ongeloof verwoord. Met dieselfde mantra: wat ‘n besondere digter is hy nie.
Genadiglik bly dit is. Die iteratief-duratief van die digkuns.
Ons vriendskap was ‘n kritiese een. Ons het mekaar se gedigte met ‘n skalpel gelees en Johann kon onmiddellik ‘n fout in ‘n gedig raaksien. As hy ‘n gedig aanvaar het, was dit reg.
Boondocks
Vir JdL
Op ‘n keer vra ek jou na die betekenis
van ‘n slengwoord. Jy trek die woordeboek
nader. Dit was in Pretoria circa 1984: jy
in Kerkstraat woonagtig; ek toe in Pietersburg.
Briewe en foonoproepe en ontmoetings
(selfs een aan die heldeakkker; ‘n besoek
aan jou Oom se plaas met Bertus sodat
ek jóú komvandaan beter kon verstaan).
My ouers ontmoet jy nooit; dog uit my
vertellings en verse leer hulle ken van jou.
Met jou Ouma sou ek oor die telefoon praat;
lank en uitgebreid oor haar gunstelingkind.
Deur die jare bly ons verse draadlose seine:
seismograwe wat ‘n digterlike bestaan nes
vulkane, aardbewings en ontploffings meet.
Ek hoor jou krities vra: “Meet of registreer?”
Helaas, helaas ek weet nie meer nie;
vandag uit op die digterlike boondocks.
*
Mag hy sag oorreis sonder pyn. Want hy sal vir altyd bly woon in ‘n stanza (kamer) van die digkuns. En die meeste sterre is nie dood nie. Digterlike sterre bly voortleef …
En niemand kon dig oor die hunkering se grein soos Johann de Lange nie. JdL. Johnnypanic. Johannes.
En ten slotte ‘n lykdig vir hom: …
Stanno tutti bene?
Soos Salvatore Quasimodo
leer, staan ons elkeen alleen
op die hart van die aarde.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Deur ’n straal van die son
deurboor en skielik ja skielik
word dit aand, nee nag.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Tyd is glo die skool waarin
ons leer, tyd is die vuur
waarin ons brand, meen
Delmore Schwartz alleen,
‘n versaakte in ’n lykhuis deur
nagwandelinge erg verweer.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Lorca wys op die hemelse heuning
vloeiend uit die onsigbare
heuningkoek soos verbittering
genaamd poësie, in die siel
vervaardig; want dig is
speel met vuur, skryf Cussons.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Die meeste sterre is lankal dood,
meen De Lange soekend
na die stil punt van die aarde.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Met Eugenio Montale skyn
’n rosekrans van roes en pers
met die son ’n trompetgeskal.
En ek? Tussen oggend- en aandster
wetend mý spitsberaad blote
naskynsels van jy-het-net-verdwyn.
So alles is wel in hierdie private hel.
So alles is wel in hierdie private hel.
Joan Hambidge
Kaapstad 28 – 31 Maart 2025

“Wanneer ‘n digter sterf
mag sy gedigte tog ‘n ewige leser beërf” -Joan Hambidge
Sjoe, dit kan nie mooier gesê word nie. Dankie vir die deel. Hy word ten seerste gemis, met groot ontsteltenis. Met opregte deelneming: sterkte in hierdie dae en verder.
Groete, Hannes van Loggerenberg