Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
10 April 202511 April 2025

Aankondiging van wenners: Kyk hoe ver het ons gekom

 

 

 

 

 

AANKONDIGING VAN WENNERS |

KYK HOE VER HET ONS GEKOM:

’n gedigte- en kortverhaalkompetisie

 

Aangebied deur PEN Afrikaans in samewerking met Versindaba en LitNet

Moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal

 

PEN Afrikaans het op 8 Junie 2024 ’n kortverhaal- sowel as ’n gedigskryfkompetisie in samewerking met die aanlyn platforms LitNet en Versindaba aangekondig. Hierdie kompetisie met die breë tema “Kyk hoe ver het ons gekom” is geloods as deel van die viering van Afrikaans Amptelik 100 en kon ’n werklikheid word danksy ’n ruim borgskap van Kruger Internasionaal.

Die tema kon vanuit enige invalshoek en in enige variëteit van Afrikaans benader word en dit was verblydend om te sien hoe kreatief daarmee omgegaan is in die 188 kortverhaalinskrywings en 231 gediginskrywings wat die kompetisie gelok het.

Inskrywings is deurlopend gelees en gekeur en, ná besluitneming oor die publiseerbare gehalte, al dan nie, is die kompetisie-inskrywings aanlyn gepubliseer: die gedigte op Versindaba en die kortverhale op LitNet. Vanuit hierdie poel het ’n beoordelaarspaneel in elke kategorie pas die wenners aangewys.

Ons dank aan die keurders en beoordelaars op wie se kundigheid ons kon reken. Heilna du Plooy het die keuring van die kortverhale behartig en die beoordelaarspaneel het bestaan uit (alfabeties volgens van): Frederick Botha, Lynthia Julius en Deborah Steinmair.

Daniel Hugo was die keurder in die gedigte-afdeling en die beoordelaarspaneel het bestaan uit: Danie Marais, Jolyn Phillips en Alfred Schaffer.

Dit is ’n plesier om die wenners in die onderskeie kategorieë aan te kondig. Die prysgeld in beide inskrywingskategorieë beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

 

Kortverhale

  • Eerste plek: “Bargoens” deur Gerda Taljaard

(Sien: https://www.litnet.co.za/bargoens/)

  • Tweede plek: “Al die voëls het neste begin” deur Charl-Pierre Naudé

(Sien: https://www.litnet.co.za/al-die-voels-het-neste-begin/)

  • Derde plek: “En vergewe ons ons wonde” deur Mercia S Burger

(Sien: https://www.litnet.co.za/en-vergewe-ons-ons-wonde/)

 

Oor die wenverhale sê die beoordelaars die volgende:

“Op kreatiewe wyse word ‘Bargoens’ ’n bemoeienis met Afrikaans as taal se komvandaan. Die verhaal is ’n betowerende uitbeelding van Afrikaans se kreoolse agtergrond, ’n eertydse kombuistaal wat geminag was, maar weldra die gesofistikeerde woordeskat ontwikkel het wat tot uiting kom in hierdie poëtiese en fyn geskakeerde verhaal,”  sê Frederick Botha. Hy vervolg: “Onder die tema van Suid-Afrikaanse oorlewering gee ‘Al die voëls het neste begin’ erkenning aan die koloniale geskiedenis waaraan Afrikaans haar ontstaan te danke het.”

Deborah Steinmair sê oor die derdeplekwenner: “‘Vergewe ons ons wonde’ is universeel-menslik en terselfdertyd slaan dit subtiel op Afrikaans se geskiedenis, waar Standaard-Afrikaans haar eie bloedverwante stief behandel het. Dit spreek oor verwydering en berou. Die karakterisering is uitstekend en die vertelstem treffend en sonder smuk.”

 

Gedigte

  • Eerste plek: “my taal, no ghap” deur Keith Oliver Lewis
  • Tweede plek: “evolusie” deur Gerda Taljaard
  • Derde plek: “oorsprong” deur Ilse van Staden

Wat die drie wengedigte vir die beoordelaars laat uitstaan het, is dat al drie op verskillende maniere daarin slaag om die kompleksiteite van taal en kommunikasie te belig sonder om ’n eenduidige betekenis aan die leser te dikteer.

In Ilse van Staden se “’n oorsprong” en Gerda Taljaard se “evolusie” word taal nie vanuit ’n spesifieke kulturele perspektief bekyk nie, maar meer afstandelik binne ’n groter antropologiese konteks beskou. Hierdie gedigte vang iets vas van die oerbehoeftes waaraan taal gestalte gee, maar kyk ook na taal as ’n tweesnydende en ontoereikende tegnologie.

Die wengedig, Keith Oliver Lewis se “my taal, no ghap” wat grootliks in Kaaps geskryf is, verwoord pyn en ’n verskeurdheid binne die groter taalfamilie deur vaardig gebruik te maak van registerwisseling, woordspel en meerduidighede. Deur Kaaps, Standaard-Afrikaans en taalkundige terminologie naas mekaar te stel word die geskiedenis, magstrukture, identiteite, leefwêrelde en ongelykhede wat met verskillende variëteite van Afrikaans verstrengel is, treffend verken. By implikasie het ons al ver gekom, want ons kom van ver, maar ons het nog ’n lang pad om te loop.

PEN Afrikaans wens die wenners hartlik geluk toe en bedank die deelnemers en ons medewerkers vir die positiewe deelname ter viering van Afrikaans en Afrikaanse skryfwerk.

Navrae kan gerig word aan penafrikaans@gmail.com.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Gerda Taljaard: Tweedeplekwenner: Kyk hoe ver het ons gekom gedigtekompetisie
Keith Oliver Lewis: Eersteplekwenner: Kyk hoe ver het ons gekom gedigtekompetisie →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Anne-Marie Bartie
  • Stephan du Toit. Witgatboom

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Brief, 10 November 2025
  • Carina van der Walt. Paryse dagboek
  • Joan Hambidge. Philip de Vos – die boek op die regte oomblik
  • Nuwe publikasie: “Troilus and Criseyde” in Afrikaans vert. deur Johan Boje
  • Digtersprofiel: Mari Grobler

Nuutste kommentaar

  1. Peet van Schalkwyk on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek10 November 2025

    Baie dankie Vds

  2. VDS Brink on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek8 November 2025

    Peet, dit is aangrypend mooi!

  3. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)31 October 2025

    Was es ist! Puik vertaal.

  5. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)30 October 2025

    Dankie, Willemien du Preez. Fried skryf verrassend boeiende gedigte vol abstrakte selfstandige naamwoorde - dit waarteen gewoonlik gewaarsku word deur…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d