kring van lafaards
die voorste linie se gretige oë
verlustig hulle (by voorbaat)
aan sy oudheid, sy mankoliek
soos hyself wat eintlik,
in retrospek,
met bloed in sy baard,
sy eie lippe blink sou lek
hy ken die reuk
van die voorste reun
in sy vervloë jare
het hyself daardie alfa
se drumpel tot stof getrap
toé kon hy hulle nog inhaal
en in enkel grasieuse sweep
‘n welp vergruis, uitspoeg,
oplaas een ander kuddelid
se keel afruk
morsig met sy tande slag
hier in sy eie blik,
voorsien hy sy lot
sy vlees is net ‘n instink ver
hy proe reeds sy ondergang
sien dit in die onderduimse loer
hoe die skare lafhartig lag
sy bitterste vrees is uiteindelik waar:
hy, uitgelewer aan die polkahond
wat om-om rieldans met hulle lae romp,
en fluks, honger, draf in stoppelgras
sy tyd is verstreke in die bos
hulle gaan vraatsig smul
aan die maanhaarfees
van hom, die koning,
wat uitgelewer as maaltyd
vir hulle wag
© Anne-Marie Bartie, 2025