Jagter
teen dagbreek is hy op
eerste lig streel oor die staalloop
in sy hand
deur hom spoel
die reuk van die kalahari
sy oë sluit as hy ‘n diep asemteug neem
suurgrassaad klou aan sy sokkies
skuins teen die kliprant loop sy spoor
tot by die duine daarbo
asof gegiet waak meerkatte
in die oggendstraal
langs die waterpoel ontplof
‘n swerm patryse in
spikkels van wit en bruin
twee namakwaduifies huiwer
huiwer
en vlieg dan wel
die middaguur bring
‘n verposing in die skadu
van ‘n kameeldoringboom
die gemsbokke is wild:
tweekeer ‘n swart stertkwas
wat hom koggel
langs die haak-en-steek
sy enigste prooi
‘n paar slukkies uit die fles koffie
‘n biltong-en-botterbroodjie
jongmensdrome oor more se more…
(later jare sou hy terugdink met kennis van die mens
se strewe en feil diep gekeep)
maar nou…eers die gemsbok!
© Stephan du Toit, 2025