
Resensie: Klaarte deur Louis Esterhuizen. Naledi, 2025
Resensent: Ihette Senekal
Daar is iets gerusstellend daaraan om ’n nuwe bundel te lees deur ’n deurwinterde digter soos Louis Esterhuizen. ’n Mens weet wat om te wagte te wees en word omarm deur die gedigte, soos deur ou vriende. So is dit met Esterhuizen se nuutste bundel, die twaalfde uit sy pen, naamlik Klaarte. Dié bundel is reeds deur resensente getipeer as laatwerk en dit is ongetwyfeld die geval, die digter-spreker neem daarin ’n volle lewe in oënskou en kyk ook “die krag / waarmee verrimpelling ontnugtering bring” (44) in die oë.
Die titel van die bundel het dadelik N.P. van Wyk Louw se bekende gedig “Groet in bruin” (uit Tristia en ander verse, voorspele en vlugte (1950 – 1957), 1962) by my opgeroep. Die openingsreëls van hierdie gedig lui soos volg “ Nou wil ek jou in een soort mediterreense / klaarte sien”. Esterhuizen se Klaarte is deurgaans deurspek van intertekstuele verwysings, waarvan talle aanknopingspunte met die werk van D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw deel vorm. Die digter verweef kennis van klassieke musiek, klassieke literatuur en ’n wye verwysingsveld van poësie met die gediginhoud en verryk daardeur ’n bundel wat aanvanklik bedrieglik eenvoudig voorkom.
Klaarte word voorafgegaan deur twee bundelmotto’s wat belangrike rigtingwysers is vir wat die leser in hierdie bundel gaan aantref. Die motto van José Ángel Valente wys vooruit na die aard van die bundel as laatwerk, terwyl die motto deur Breyten Breytenbach ook hierdie funksie verrig, en verdere temas en motiewe wat in die bundel ’n rol speel, oopsluit. Laasgenoemde motto gee die essensie weer van wat die digter in Klaarte doen. Berusting in waar ’n mens tans in jou lewe is, is slegs moontlik as daar berusting is in dit wat was en dit wat sal kom. Dít laat die “mistigheid wat in die tuin oornag het […] onttrek” en so word daar “’n bloeiselboom in die klaarte onthul” (7).
Die bundel word verder ingelui deur ’n losstaande openingsgedig en daarnaas verdeel in sewe afdelings. Die slotreëls van die openingsgedig, “Selfportret” (9), lui “[h]ierdie is ’n gewone verhaal / soos geen ander nie” en ontsluit een van die werkswyses van die bundel. Die digter-spreker neem bestek van sy lewe en hou dit as verhaal vir die leser voor. Die lewe van die digter-spreker is egter slegs “’n gewone verhaal”, maar ’n “verhaal soos geen ander nie” – ’n stelling wat die universaliteit van elke lewe betrek. Die leser kan hierdeur reeds vroeg in die bundel met die digter-spreker identifiseer, want elke leser se lewe is ook “’n gewone verhaal / soos geen ander nie.” Die gedigte werk dus nie vervreemdend nie, maar het eerder ten doel om die digter-spreker gestroop voor die leser te laat staan, sodat die leser saam met die digter-spreker tot ’n bepaalde klaarte kan kom.
Die sewe bundelafdelings het elk ’n bepaalde fokus, maar sluit tematies by mekaar aan. In die eerste afdeling word ’n terugskouing op die digter-spreker se jeug aangewend om ’n narratief van die vroeëre jare van die sy lewe te konstrueer. Hier maak die leser kennis met die ontluikende digter (“Die reisiger ontwaak”, 21) en die pynlike prosesse van selfontdekking waardeur hy moes gaan – waaronder die afrekening met die vaderfiguur tel (“Lord of the rings”, 18-19) – in die reis na selfontdekking en ’n soeke na klaarte. Een gedig uit die eerste afdeling wat noemenswaardig is, is “Die skag” (14-16). Die digter skryf hierin, deur middel van onder meer intertekstuele werking met Dante se “Inferno”, belangrike temas en motiewe van die bundel oop:
Nogtans huiwer ek nie, ek gaan die duisternis
tegemoet, struikel, en val deur die vlakke
van ’n uitgediende skag by ’n menigte ligstroke
en -bane verby, iedereen presies die sirkel
van ’n spiraal wat om my sluit, tegelykertyd,
die alles wat ek is,
wat ek nog altyd onthou – […]
[…]
want in die amper klaar van my dae bevind ek my
plotseling in hierdie stadige ooptes van ’n niks,
bemerk ek nogeens die kraai wat my heenwys
na waar die skag aldeur op my wag.
In “Die skag” dui die digterspreker aan dat dit hier om laatwerk gaan, hy bevind hom “in die amper klaar van my dae”, maar “[n]ogtans huiwer [hy] nie” om deur die spreekwoordelike sirkels van die hel te val nie. Die digter-spreker skroom nie weg daarvan om pynlike (en goeie) herinneringe te konfronteer nie, en ook nie om in “die stadige ooptes van ’n niks” die dood in die oë te staar nie. Hierdie bundel is soms die digter-spreker se hellevaart, maar in die proses is daar soveel skoonheid en oomblikke van geluk, dat hy in “Heildronk” (76) kan sê “ hierdie dag is wel somer, / maar nog lank nie verby nie.”
“Die skag” wys verder op twee belangrike motiewe in die bundel, naamlik die sirkel en voëls. Dié twee motiewe word saam aangedui deur die illustrasie op die voorplat, ’n kunswerk getitel “Grass Circle” deur Strijdom van der Merwe”. In Klaarte word daar siklies vorentoe en agtertoe beweeg in tyd, bestek opgeneem en afgereken, vorentoe gekyk met onmag, maar ook met berusting en gelatenheid. In “Gedagtig aan ’n ui” (57) word die sirkelgang van tyd verder gekoppel aan die moontlikheid van ’n veelvlakkige menslike belewenis:
En gestel dat tyd nie reglynig is nie,
maar konsentries? Dat ons as primate
tydsverloop wel chronologies beleef,
maar gelykertyd ook teenwoordig bly
in die ander lobbe van ons
belewenis? Nie as sigveld na vore,
maar dieper, asof vlesige blare, jaarin,
jaaruit, gevorm om ’n eie leegte
met ’n krakerige skilfering
daaromheen.
Die terugskouing na jeugdige herinneringe word ná die eerste afdeling minder prominent, en daar word vervolgens tematies meer gefokus op veral die dood, die ouerwordende liggaam, die poëtikale, en die liefde. Die digter-spreker gebruik ’n variasie van motiewe om telkens dieselfde temas te onderlê, en vermy daardeur ’n gevoel van oormatige herhaling. Die sterkste motiewe in die bundel is soos genoem die sirkel en voëls, waar laasgenoemde deurgaans dien as wegwysers en bakens in selfontdekking. Nog ’n motief is dié van neste, wat ’n verbintenis skep tussen die reeds genoemde motiewe en dié van die huis, tuin, vensters, gordyne en katte wat ook deurlopend eenheidskeppend werk.
Klaarte sit die liefdesgesprek tussen die digter-spreker en sy geliefde, wat reeds in Esterhuizen se vorige bundels uitgebeeld is, voort. Een van Esterhuizen se sterkpunte is die teer en eerlike manier hoe hy die liefde verwoord. Dit is besonder teer in ’n bundel laatwerke, waar die bejaarde geliefde beskryf en besing word. Die gedig “Ampertagtig” (38) getuig hiervan:
Op ampertagtig is ek broos, sê sy,
wees daarom versigtig
hoe jy my
kantel en kneus,
en alte soetjies glip ek my hande
om haar gesig, want fragiel
is die mond
van jarigheid, soen
dan langsaam en onhaastig
hierdie lieflike verloop
van tyd.
Van die ander noemenswaardige liefdesgedigte in die bundel is “Eerste soen” (24), “Hartstog” (30), “In die klaarte” (31), “Beenaf” (39) en “Vlerke” (55). Die bundel bied ’n gevarieerde blik op die liefde, wat herhaaldelik neerkom op ’n eerlike én positiewe uitbeelding, selfs al word die liefdesgedigte in die latere bundelafdelings toenemend binnegedring deur die besef van onmag in die aangesig van die naderende dood, vergelyk “Villanelle van die onmag” (61):
En al vra sy niks hiervan, al koester sy my sag
en seker, die onmag het my stewig in sy greep.
Vir haar kan ek nie wees wat ek graag wil nie,
haar teen knal en kneusing beskerm nie.
Steeds is die liefde vir die digter-spreker ’n tipe beswering van alles wat buite die liefde lê, soos dit in “Wis en seker” (75) gestel word, “in sy laatseisoen is liefde / die somtotaal van ’n desondanks”, en in “Die judasklip” (88) word die liefde veelseggend as leerskool van die lewe uitgebeeld:
weldra sal die liefde ons leer, die lewe
is ’n handomkeer, ’n wegkap
van oomblikke
wat eers ná die vuur en vlam
kristal sal wees.
Klaarte is ’n bundel ryk aan intertekstuele verwysings, iets waarvan onder meer die erkennings aan die einde van die bundel getuig. Moontlike kritiek kan egter uitgespreek word teen die uitgebreidheid van hierdie erkennings, aangesien dit van die naspeurgenot van die leser kan wegneem. Hoewel die bundel nie noodwendig besonder baie tematiese variasie bied nie, belig die intelligente motiefgebruik die temas vanuit verskillende hoeke. Alles inaggenome is Klaarte ’n bundel van toeganklike en mooi laatverse. In die besonder kan “Die skag” (14-16), “Voorslaners” (20), “Ouer man” (44) en “Trapsuutjies” (113) vermeld word vir die vaardige aanbieding van hulle gestrooptheid en treffende beelding.
