Murasie in die Karoo
Tyd het die murasie stukkend gebyt;
die mure is tot hopies verweer.
’n Rolbos nestel teen die koelkamer;
’n Geitjie skarrel deur ’n skeur.
By die voordeur was ’n kapstok,
en portrette in die gang.
In die sitkamer het versierings
aan ’n kersboom gehang.
Op die koolstoof in die kombuis
het die ketel eens gefluit.
Uit die oond het die geur gekom
van varsgebakte anysbeskuit.
Omring het die draadloos, luid,
die aandstorie uitgesaai.
Om en om het die prentjiehond
op die grammofoon gedraai.
Genadeloos kasty die somerson
alles wat in die Karoo kan hou.
Onder die kapkar op die werf
lê ’n bokram en kou.
In die veld het ek ’n ystervarkpen
langs ’n gannabos opgetel.
En ’n skilpad het met kieriepas
verby ’n kanniedood gesnel.
Kwashale tint die skemer tot nag –
vol helder sterre, winkend daarbo.
In die nagstilte voel ’n mens
die verlatenheid van die Karoo.
Volmaan oor die berg;
silhoeët van die windpomp, alleen…
In die groentetuin was hase –
nou deur bossies oorgeneem.
© Peet van Schalkwyk, 2025
