Wium van Zyl, die bekende literator, se bundel Poëme (Turksvy) volg op sy debuut Oggendvuur (1991). Die voorblad, die sogenaamde parateks, aldus Gérard Genette, gee vir die leser ‘n belangrike sleutel met kliptafels waardeur ons die veld en ‘n berg kan sien.
Die argaïese titel is eweneens slim gekies. ‘n Terugkeer na die kliptafels van die Bybel tot in die Edda-afdeling van die Yslandse wêreld met ou Noorse mitologie en legendes. Dit bevat ‘n versameling van anonieme gedigte oor Odin, Thor, Loki en die Vikings.
“Háfámal” (88) is ‘n gedig in die Codex Regis oor die Wiking-tyd (900 en 1000 N.C.)
https://www.youtube.com/watch?v=j3D51rEwSRY Besoek 4 September 2025
Van Zyl herdig die oorspronklike verse.
Die sterk buiteblad aktiveer dus ‘n argetipiese wêreld wat ons in die Afrikaanse digkuns vind onder andere by digters soos Louw se “Klipwerk”, Boerneef se gedigte, George Weideman en by hierdie digter se hartland van die Langeberge.
Argetipiese gedigte waarin die spreker terugkyk na sy jeug en wat uitwaaier na vele buitelandse reise én ontdekkings. Uys Krige se “Dwaal” tot by ‘n vers oor Odusseus.
Hartland
Ewig die profiel
van die Langeberge
glasblou glasgroen
nooit te bepale palet
die klowe lokkend
vir verken
nimmer
te kenne
bron wat helderbruin bly ruis.
Wat jy agterlaat
is jy nooit ooit kwyt.
(28)
Die dagbreek is aalwynrooi in “Eggo” (25). Ons lees van die wiggelspel van maan, wind en seisoen in “Gety” (20). Daar staan ‘n belangrike gedig oor Van Wyk Louw “Die wit pad, Utrecht, 20.9.1948” met belangrike toespelings op bekende gedigte van Louw. Die voetpad en klipsweet, spekbos wat spou …
(48).
II
Oor argetipiese digkuns het véral Maud Bodkin (1875 – 1967), ‘n Britse klassikus en teoretikus, uitgebreid geskryf. Sy is sterk beïnvloed deur Jung se siening van argetipes.
Die ewige sirkelgang van geboorte tot hergeboorte; hemel teenoor hel: met die digter wat dit konkreet en primordiaal vergestalt.
Ook filmmakers gebruik argetipes. In The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert (1994) word die drag queens en transseksueel se danse en klere geplaas teenoor die woestyndiere. Daardie verbluffende film van Stephan Elliot met Terence Stamp, Hugo Weaving en Guy Pearce bly ‘n kultusfilm wat indertyd by Cannes bekend gestel is.
Al die spanninge tussen genderdiskoerse is hier met die woestyn as ‘n soort ewige simbool van onverganklikheid en oorlewing.

Die liewe aarde is nie eens ‘n spellepunt; die mens ook nietig soos ‘n droë drol staan daar in “Insig” op bladsy 45 in Van Zyl se bundel.
In Priscilla is daar ABBA-drolletjie om die drag queen se nek.
In “Rûenspad” (39) is daar ‘n landskap wat voor die oog uitwaaier tot by die droomblink môrester.
By Wium van Zyl is daar ook guitige humor.
Winkelstoep, Klein Karoo
Lóóf die here
wat jou
so mooi gemaak het
met daai lekka tiete.
(27)
Ons weet ook dat Terence Stamp (wat onlangs oorlede is) wou bedank as akteur. Toe hy na sy agnet gaan, omdat hy sat was vir al die stereotipe rolle wat hy moes vertolk, oorhandig sy aan hom die draaiboek van The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert.
Die res is geskiedenis. ‘n Film met kwinkslae en wonderlike humor. Maar onder draai die argetipiese duiwels om en om …
Die aanname oor maskuliniteite, die vrees vir anders wees, die natuur wat groots is en die aangrypende slot wanneer daar uitgeklim word tot bó ten spyte van die ABBA-fan club se uitbarstings of ‘n feministiese kritiek op die film dat dit vroue verminder. Die aborigines wat heerlik saamdans (een selfs in drag) en hul prokureur wat dit as negatief ervaar.
III
So kom twee verskillende mediums bymekaar uit.
Daar is nog veel meer wat belig moet word in Poëme. Soos die fyn spel met Magritte se pyp en die verslag van besoeke aan die buiteland (in die afdeling Te Velde) en die aangrypende liefdesverse.
En die gesprek met Broeder Braam daardie kortverhaalskrywer wat eweneens argetipes begryp het.
Of die trekpadstories van George Weideman.
Joan Hambidge
Kaapstad
4 September 2024
Bronne:
Bodkin, Maud. 1934. Archetypal Patterns of Poetry: Psychological Studies of Imagination. Londen: Oxford University Press.
Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Dell.
Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
