
Joan Hambidge (JH)
Geluk met jou bundel, Wium. Dit is ‘n leesavontuur vir die speurende leser. Jy het in 1991 met Oggendvuur gedebuteer. Nou hierdie sterk besinnende bundel met ‘n outydse titel.
Waarom die lang wag?
Wium van Zyl (WvZ)
Baie dankie. Ek voel geëerd dat jy bereid is om aandag te gee aan my poëme.
My toetrede tot die beroepswêreld het plaasgevind in Beeld se nagkantoor waar ek met groot waardering geleer het om vinnig en doeltreffend met joernalistieke taal om te gaan. Toe ek daarna om den brode akademikus geword het, kon ek hierdie vaardigheid met klein aanpassings bly gebruik in ’n bedryf waar oorlewing toenemend afgehang het van akademiese skryfwerk. Dit was egter vir my ’n omgang met die taal in wat ingaan teen die soort kreatiewe hantering daarvan waarmee ek poësie wil skep. Ook die blik op die werklikheid is vir my essensieel anders. Dat ek in 1991 Oggendvuur kon publiseer, verbaas my daarom steeds. Daarná het ek dit bowendien op myself geneem om nuwe moontlikhede te soek vir ’n taal en vak wat deur sowel vyand as vriend onder druk geplaas is. Ek het my energie bestee aan gasdosentskappe in die buiteland, die bevordering van internasionale studente-uitwisseling in die vak, die oprigting en uitbou van die Letterkunde Ondersteuningskomitee vir senior Afrikaansonderwysers in die Wes-Kaap, bestuurswerk en werkwinkels by die Afrikaanse Skrywersvereniging, die heropbou van die departement Afrikaans en Nederlands by UWK na byna vernietigende afdankings, die vestiging van literêre toerisme om ’n belangstellende publiek te aktiveer. Ensovoorts, ensovoorts. Waansinnig. Uiteindelik het dit maar dikwels ’n stryd geblyk te wees teen die Groot Onbevredigbaarheid. Hoe dan ook was dit vir my moeilik om die lier te bespeel in die loopgrawe.
JH
Jy skryf verse met ‘n argetipiese onderbou. Ons sien dit reeds met die voorblad se kliptafels.
Die wêreld van Machu Picchu tot jou komvandaan. Lees jy enige teorie hieroor (soos C. G. Jung of Maud Bodkin) of volg jy gewoon jou eie intuïsie?
WvZ
Jy het natuurlik reg oor die argetipiese onderbou. My jarelange werk as letterkundige het my noodwendig met hierdie benaderingswyses en teorieë laat kennismaak. Een van die eerste boeke wat ek as student in Nederland aangeskaf het, was trouens ’n werk van Jung. My eerste volwaardige akademiese pos was in Algemene Literatuurwetenskap. Ek is dit egter eens met Opperman dat dit – net soos die filosofie – groot gevare inhou vir die digter. Ten minste soos ék gebek is. Daarvoor moes ek terugkeer na die mense met wie ek saam skaap aangejaag het in die velde by Doornkraal, saam gerwe gegooi en mied gepak het, vir wie ek beluister het by die Saterdagse drankwinkeljoligheid op Heidelberg of op straat in my geliefde Bellville. Wat ek danksy my eks-hippie-vriend Jerry ook in Nederland kon herontmoet: die posman wat kla oor die mislukking van die pas afgelope staking omdat daar by die politici alweer sprake was van “links lullen en rechts vreten”, die besope klompemaker van Bunnik wat wil dat ek Afrikaans praat en dit dan nie kan herken nie omdat hy elke woord verstaan (met genoeg alkohol word Afrikaans en Nederlands een), die twee iets te gevorderde dames wat op die Walletjies dit by mekaar staan en bekla dat die dag nog geen besigheid opgelewer het nie, letterlik “ouwehoeren”. Ja, ek volg my intuïsie, ek hoor en sien wat ek teenkom en versamel dit soos dunhout, maar dit is helaas nie volkome gesuiwer van teorie nie.
JH
Jou bundel tree in gesprek met Louw se “Klipwerk” en ook met sy hele oeuvre.
Hoe sien jy die invloed van Nuwe verse vandag? En daardie pragvers oor Louw moet jy aanhaal vir jou leser.
WvZ
My kennismaking met “Klipwerk”, Boerneef en Braam de Vries se Proegoed het my op ’n lewenslange soektog geplaas na die geheime note van die taal, om haar nakend te probeer sien soos Peter Blum omtrent Boerneef beweer het. Daarom fassineer Van Wyk Louw se “bekering” met “Klipwerk” my al baie jare. ’n Moment en prikkels daartoe waarop W.A. de Klerk en Sheila Cussons die sluier effens vir my gelig het. Ongelukkig het ek Louw self nooit ontmoet nie en hy sou dit bowendien seker nie met ’n snuiter bespreek het nie. Die gedig waarna jy verwys, het ek op Daniel Hugo se versoek geskryf by Louw se 100ste geboortedag. Eers onlangs het ek iets gesnap wat ek eintlik al lank geweet het: “Utrecht” is die Romeinse woord vir drif/deurgang, oorsteekplek. (Utrecht is die stad van my hart waar ek jare deurgebring het.)
Die wit pad, Utrecht, 20.9.1948
Vir NPvWL.
Al met ’n wit pad langs – die bruin
Romeinse legioene het ook hier gedraf
Belge, Bataviërs, Friese gestraf, gesnoei
blonde vrouevlees deurgedraf
saad in die modder gelaat waaruit
soms Boergondies uitspattig maar styf
’n deftigheid, ’n hoflikheid
van jas, hoed en sjaal sou spruit
tot waar jy nou moet twyfel tussen wit of swart
vir die stropdas by jou toga
vir die eregraad in die stip skadu van ’n domtoring,
’n du nader aan professorale weledelgeleerdheid.
Ná die carrilon beier die groot klok van ’n verhewe U,
hoë koue paaie, ’n aristokratiese ideaal.
Buite op ’n plein loop son-blink duiwe onversteurd
oor ’n oude gracht skeer ’n windvlaag,
uitgelate stalhings wat verkwik rimpeltjies blaas
áánblaas aan ’n óú vermoede:
alles tesame is net een Groot Vertelsel.
Die wit pad vurk net so wel na Gunsfontein
of áf met Verlatekloof na winterweiding
onder Jafta, Josef en September se velskoensole
onder die moftrop se swartblink drollie-tjies:
voetpad en klipsweet, spekbos wat spou – ook
die bloubos het die goue pit.
JH
Jou bundel gee ook blyke en lewer verslag na verre, verre plekke. Watter invloed het reis op jou?
WvZ
Ten eerste ’n abstraksie, neem my daarvoor nie kwalik nie: Ek glo dat ruimtewisseling tot verlenging van tyd lei, ten minste in die menslike belewing. En dan: Hoe vreemder die nuwe omgewing, hoe meer word ’n opskerping van die sintuie vereis. Die verwondering oor wat vir die eerste keer gesien word en die onvermydelike desperate aangryp van die reeds bekende, ‘n reddingsboei in stroomversnelling en draaikolk, is vir my ’n asembenewende ervaring. Van Jakarta tot Calvinia, St. Petersburg tot Vanwyksdorp. Op die uitreis volg bowendien die tuisvaart, die ekstatiese herwaardering van die skoonhede onder kleurvolle haarkrullers in ’n Vrydagmiddagse Bonnievale, die maagdelike golwe wat aanbeuk teen die riwwe by Agulhas.
JH
Daar is ook ‘n durende gesprek met Abraham H. de Vries en George Weideman.
Albei hierdie skrywers het ook die komvandaan argetipies voorgestel soos Borges in sy verhale wat Sheila Cussons vertaal het as Die vorm van die swaard en ander verhale (1981).
Hoe beleef jy hierdie uitsonderlike skrywers nou, wat jy persoonlik geken het?
WvZ
Dit is moeilik om kort te antwoord. Sheila was die digter wat my die meeste geraak het en by wie ek steeds as beginneling in die klas sit. Opperman het destyds die pas verskene Plektrum as ’n werkstuk-opdrag na my toe uitgeslinger – ‘n hospitaal-aangee wat ek nog altyd onder die arm vasknyp. Die werkstuk is uiteraard onvoltooibaar. Met Braam en George gaan die kreatiewe bogpratery steeds voort, tussen geselsers wat gelyktydig kan lag en bedroef raak oor gestaltes wat so onverwags verskyn en verdwyn, en uiteindelik oor eie onvolkomendheid. En Dan Sleigh, mede-rubyspeler, matroos, VOC-landsverkenner met wie ek kon gekskeer oor ’n terrein waaraan ons albei verknog was, die Nederlandse geskiedenis aan die Kaap. Die korswel duur.
JH
Jy het W.F. Hermans se Nooit meer slapen in 2018 vertaal. Hoe sien jy die vertaalproses? Stuur jy die vertaling weg of bring jy dit huis toe?
WvZ
Juis danksy literêre vertaling kon ek weer terugsukkel na die skryf van poësie. Ek verwys na die deurdink en deurvoel van die situasie wat die oorspronklike wil weergee en die soeke na die juiste woord en juiste toon, na toegewyde vakmanskap met die taal. Met die wete dat ‘n vertaler nooit kan bereik wat die kunswerk eis nie. Al het ek ten opsigte van Hermans self ’n tog in Lapland agter die rug gehad en ken ek sy werk so goed soos seker min van sy taalgenote. Dit is trouens hy wat my voor die poorte van die Edda te staan gebring het. My vertaaldoel is sekerlik om ’n eg Afrikaanse boek tot stand te bring en nedering aan my landgenote te presenteer. Die moeilikste vertaling vir my was Saskia de Coster se Nagouers met ‘n teendraadse styl en die een waarmee ek die naaste kon kom aan die ware jakob was George Orwell se Diereplaas. Maar dit het ook met meer as taal te make.
JH
Die Afrikaanse digkuns huisves vele uitsonderlike en teenstrydige stemme.
Wat sou Opperman nou gedoen het as hy Groot verseboek moes saamstel? Is die hek nie dalk nou te wyd oop nie?
WvZ
Jy het dit nou oor kanoniseringsproses. Ons het tereg al dekades gelede begin met die oorbruggingsmeganismes tussen Afrikaanse taalgemeenskappe net soos aan die her-standaardisering van die taal self en die letterkunde. Ek het self ’n bouklippie of wat daartoe probeer bydra soos by A.H.M. Scholtz se onvolprese Vatmaar. Daar is nie kortpaaie nie en ons gaan nog ver in die toekoms daaraan besig wees. Dit is nie slegs ’n literêre kwessie nie, maar ook sosiaal. Dit kan vir die individuele digter net so ontmoedigend wees as sensuur. Nogtans lê ek nie wakker daaroor nie en ek dink ook nie Opperman sou nie.
JH
Die uitmuntende herdigtings uit die Edda het my bekoor. Ek het op my vele reise Wiking-bote gesien. Hoe het jy dit aangepak? Hoe werk die mitologie hier vir jou?
Wat is skoner as die lyne van ’n Wikingboot!
WvZ
Ek het ná die afronding van Nooit meer slaap nie ’n volle winter lank in die Edda gaan woon of miskien moet ek sê ek het dit te voet deurreis. Wat ek hier gee, is ’n seleksie van my “aantekeninge” oor – noem dit maar mitologie – wat my ten diepste raak omdat dit die mens en sy verhoudinge met die medemens so skerp deursien. Rondom my eie onhandige rune-skrif is daar veel wat soos in die oorspronklike nie direk neergepen is nie, maar roep om invulling. Ek volstaan met die laaste reël van die laaste vers in die bundel uit die mond van Gudrun – watter klinkende eensaamheid:
Ek vertrou hulle nie.
JH
Jou bundel bring verskillende en op die oog af teenstrydige wêrelde byeen. Oos- en Wes- Europa, Indonisië, Afrika (o.a.). Verskillende tale met eiesoortige taalpolitiek.
Standaardtaal
Eensaam die digter
stuiptrekkend
aan sy eie stamboom
opgehang.
Tot watter stamboom behoort die Afrikaanse digter soos jy?
WvZ
As digter erken ek nie ’n enkele taalgrens nie al is ek natuurlik van kop tot tone Afrikaans. Afrikaans is vir my deel van ’n groter ekologie en net so oud soos enige Germaanse taal, selfs ouer. Ek weet daar is al dekades lank by ons pogings om dit te ontken, beskuldigings rond te slinger, variante af te baken en selfs op te eis, om ’n eie veilige plekkie te soek, soms sommer net om halsstarrig te wees. Ek het medelye, ook met die digter wat swaai aan die stamboom, maar verkies die groter, onbegrensde geheel, vir my die plesierige werklikheid.
Laat ek tog dit byvoeg na aanleiding van die gedig “Standaardtaal”, maar ook die res van die bundel en die titel: Ek het ’n professor gehad met die veelseggende naam De Deugd wat ’n keer ’n eenvoudige uitspraak gemaak het wat my bloed ’n oomblik laat stol en daarop my hart ’n nuwe ritme gegee het: “Letterkunde”, het hy gesê, “is iets wat ’n mens nie te ernstig moet opvat nie”. En dan is daar Kafka wat, wanneer hy gevra is oor die ysingwekkende situasies wat hy beskryf, onbedaarlik aan die lag geraak het.
“Poëme” sien ek self in dié lig, as ’n vryheidskreet. Onder meer…
https://versindaba.co.za/2025/09/05/joan-hambidge-poeme-en-argetipes/
