Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
28 October 2025

Resensie: “Poëme” deur Wium van Zyl

 

 

Resensie: Poëme deur  Wium van Zyl. Turksvy Uitgewers, 2025.

Resensent: Fanie Olivier

 

BYKANS 35 jaar het verloop sedert Wium van Zyl se digtersdebuut in 1991 met die bundel Oggendvuur, en sy tweede bundel, Poëme, wat onlangs by die klein bedrywige uitgewery Turksvy, verskyn het.

“Die rym neem ook ʼn hele lewe in beslag”, lees ons in D.J. Opperman se Periandros van Korinthe, maar oor Poëme sou ʼn mens ook kon sê die lewe neem ʼn hele bundel in beslag. As die wye reeks betekenisse van ‘beslag’ hiermee bygeroep word, word hierdie bundel ʼn besondere soort verkenning van Van Zyl se soort poësie, maar ook ʼn outobiografiese verslag waarmee die digter ons op reis neem.

Reeds die bundeltitel plaas die leser op sy hoede. Poëem is ʼn ou woord, argaïes amper, vir ʼn gedig, wat iets wat deftig is en effens verhewe oproep. Soveel anders as ʼn bundel wat gewoonweg eintlik net ‘Gedigte’ as titel sou moes hê. Maar die keuse is vol ironie, die digter spot met die hoë verwagtings wat die titel sou moes impliseer. Maar dit wil die leser ook vroegtydig waarsku dat die taal waarmee ons gaan kennis maak, nie wil saamgesels met byderwetse taalgiere nie.

Laat in die bundel, in die vierde afdeling, verwoord hy dit ook uitdruklik in “Standaardtaal” [83]:

 

Eensaam die digter

stuiptrekkend

aan sy eie stamboom

opgehang.

 

Poëme is in hierdie opsig ook ʼn taalreis rondom die digter se stamboom. Die leser ontdek die taal van die digter se jeugwêreld, die Overberg, en reste van ʼn ouer Afrikaans waarin vergete en amper verlore woorde teruggeroep word. Die laaste afdeling, (“herdigte uit die Edda”), gryp nog verder terug in die kollektiewe geheue na die vroeg-Middeleeuse Yslandse versameling gedigte, waarin nie alleen die spore van die oerbron van Afrikaans lê nie, maar ook ʼn mitologiese onderbou waarvan ons byna vergeet het.

Die bundel is dus ‘n verslag van ʼn reis en ʼn bereidwilligheid om te reis. Amper teen die einde van die bundel, in “Hávamál”, haal die digter hierdie waarheid uit die Edda: “Wie baie reis dra verstand / in sy bagasie” [88] en ons leer, amper onbewus, hoe swaar die gedigte se bagasie eintlik is.

Die Nederlandse digter, Adriaan Roland Holst, eindig een van sy mooiste gedigte soos volg

 

“een kamer en een vensternis / waar langvervlogen wel-en-wee / weer intrekt als het avond is: / van een veelbelovend leven / is tenminste dit gebleven.”

 

Hierdie bundel is ʼn besondere inkyk in, blik op die verbygegane wel en die wee van die digter wat intrek geneem het in die 66 gedigte waaruit Poëme bestaan.

Die outobiografiese voorveronderstelling word reeds met die motto gevestig: “Vir hulle wat die donker water van die Duiwenhoks geproe het”. Die rivier ontspring in die Langeberge en loop by Puntjie in die see. In die lang gedig “Boosman keer terug”[16] beskryf hy dit so:

 

oor die plooi van voetheuwels, die kroesige vlakteveld

die gladgeslpe kornkel van die Duiwenhoks

die dynserige vermoede van ʼn see.

 

Reeds in Oggendvuur is hierdie rivier as ʼn belangrike deel van die digter se kinderjare in die kontreie van die Wes-Kaapse Heidelberg gevestig en die eerste afdeling van Poëme se 11 gedigte dra dan ook die titel “Hartland”.

Die openingsgedig, “Grootvadersbos”, is ‘n pragtige lofsang aan die natuur, waarin die bos inderdaad as ʼn oerbos gestalte kry. Die vers is terselfdertyd ook ʼn voorbeeld van die tegniese aard van die gedigte in die bundel: rymlose vers, subtiele maar opvallende klankbinding, sinvolle reëleindes en enjambemente, maar met n eiesoortige aanwending van die stylfiguur waarna in die omgang as ‘personifikasie’ verwys word.

In hierdie spesifieke gedig is die mens as persoon volkome afwesig; in die beskrywing van hoe dit oggend word, word een natuurelement in terme van ʼn ander beskryf:

 

Grootvadersbos

 

Bosbokstil beweeg die oggend

deur onderbos oor mos en klip

deur katdoring en boegoe

oor vermolmde reuse

en ligweg

bo-oor die hoogste toppe –

versigtig agtervolg

deur die vogtig sluipende

reuk van die nag.

Êrens durf ‘n loerie sy roep

drup ‘n waterval

kraak twee stamme

teen mekaar.

Verdwaal op oerou paadjies

verloor ‘n sagte wind

sy geduld.

 

In hierdie eerste afdeling beweeg die gedigte, soos die rivier, tussen die berge se oerbos en die see. In “Gety”, nog ʼn uitsonderlike vers, lees ons “Die gety se inkom is opgewek / dalk lig aangeklam” [20], maar terselfdertyd berei die slot die leser voor op die digter se besef dat daar anderkant die hartland ander wêrelde wag: “teenoor hierdie oewer / lê ʼn ander een / leef die omgekeerde / miskien”.

Hierdie verlies [en wins, natuurlik] neem in “Jong meeu” ʼn ander metaforiese gestalte aan: die gevaar dat in die gewaande losmaak [eers sy “kreet kenter / net ligweg / sy vlerke toets” en daarna “hoogtes getoets / wydtes versit / oor nuwe / blertse eilande op kreukels blou”] en die reis oor die einders wat steeds “mistiger” word, “die meeu sy kreet vergeet” [21].

In “Boosman keer terug” herinner die digter die leser daaraan dat die Grootvadersbos nog ouer voorvaders gehad het, onder wie se vel hy wil inkruip en deur wie se oë hy weer van voor af wil kyk, noudat hy die “voos kombers van omhelsings” [16] afgegooi het. Dit is vol verwonderende waarneming van die gang van die natuur, waaruit hy skielik weer “woorde […] sien glim” en in die volgende vyf strofes aan die leser voorhou.

In die derde strofe is dit die progressie van “ʼn drupgeluid, ʼn geduldige syfering, / ʼn kabbelklank […] / en wellig ʼn vloed wat verruk / afgronde bestorm” en dan, in die volgende strofe,  die “somerspinnekop” wat oplos in haar “trossie” eiers.

In die vierde strofe is die water terug, nou “donker water wat palingwakker / wegskiet oor witgeskuurde klip / dan weer beskroomd stroom tussen palmiet” waarin die vissies “ʼn poel / se droombeeld breek.”

In die voorlaaste strofe sien die leser die “soek-soek-soek” van die hoep-hoepie, in detail beskryf, totdat die voël “diep in die bo-kors […] krý.”

Die verwondering oor die gang van die natuur beweeg in die laaste strofe tot diep onder die bo-kors:

 

[…] oor haarfyn wortels, oor sap,

oor dít

wat omkeerbaar weer en weer

verbysterend na bowe  beur

[…]

voorwêreldlik volmaak. [18]

 

In albei voorafgaande aanhalings sien ʼn mens Van Zyl se gebruik van die akuut [“krý” en “dít”] om betekenis te beklemtoon, maar ook om die ritme van die vers te bepaal. Dit word n opvallende aspek van die gedigte in die bundel en is nog ʼn illustrasie van hoe ernstig die digter met die ding van táál omgaan. Dit vestig die belangrikheid op fýn lees, om te hóór hoe die gedig sy betekenis inlê.

“Tuin” [23] begin ook met een van daardie eiesoortige stylfigure waarna reeds verwys is

 

Ritselend die laatsomeraand

geel nog, meer met muskeljaatgrys spikkels

wat sluipend aankom uit die bome

oor die werf

 

maar staan in die teken van “al vaer onthou van kontoere”.

Alles in die herroeping van die hartland is nie volmaak nie en in enkele gedigte kom staan die vergrype van dié kontrei se mense ook voorop, dit wat in “Tuin” se geheue agterbly as “die ligte plof / van perskes, pruime oorryp / wat losraak.”

Van Zyl skram nie weg van hierdie stories nie – lees maar “Nag, Witsand” [19] en “Pyp, plaasskool” [24] – want dit is kontrei wat “Boers” is, die titel van ʼn klein reeks van 6 flitse wat herinner aan N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk”.

Hierdie hartland oorheers ook die 10 gedigte oor en rondom liefdes, ʼn ander soort hartland, dus, wat in die tweede afdeling van die bundel onder die titel “Amoreus” saamgebring is. Op twee uitsonderings na, word al hierdie gedigte in die Overberg geplaas of hou daarmee verband. Dit is ook nie gedigte wat vassteek by die persoonlike “ek” nie, maar wat juis in hulle verkenning van wat verlief wees beteken, iets ruimer omvat.

Van die gedigte is oor jeugliefdes, oor die “witkop meisiekind van die Witsand” en “die skaam seun” wat “wanhopig soos ʼn drenkeling / sy deun toekurk” [“Sage”, 33] of die seun in “Onverhoeds” [37] wie se vorige “bestaan / in die kontrei van die onbevange woord” eindig en hom “knopindiekeelstom” laat, sodat die wonder kan gebeur: “onder die geurende frangipani / bloedbedwelmend / vat sy sy hand.”

Daar is ook dramatiese liefdesvertellings soos “Twee grafte, Strandveld” [38], wat pasklaar ʼn kortverhaal is, ʼn rolprent, Huisgenoot se ware lewensdrama: ons lees van die “bronstige bobaassaaigrond”, “die kampie met sipres” en “die flessie sianied.” Of ʼn kontreigeskiedenis in “Weerkeer, 1945” [35], waar die meisie in haar liefde verlaat, haar verbeel dat haar soldaat uit en oor die see gaan terugkom “dáár / waar die dag begin lek, langsaam kantel, vergaan.”

Die eerste drie gedigte is ek-gedigte, totaal verskillend in toon en aanslag, wat goed demonstreer hoe Van Zyl taal kan manipuleer om soms baldadig en soms heel anders hasies uit die liefdeshoed te haal.

Die laaste gedig in hierdie afdeling sou ook die eerste kon gewees het, want “Rûenspad” is ʼn aangrypende lofsang op die liefde, in die gedaante van die “droomblink môrester” [39], en die versugting dat die ster sal wag soos die liefde sy kronkelende loop neem:

 

wág, wág tog eers

voor jy wegsink

o droomblink môrester

 

In die derde afdeling het die spreker afskeid geneem van die ou hartlande. Die digter kies die titel van Braam de Vries se bundel Soms op ʼn reis om die inhoud van hierdie afdeling aan te dui. Dit is die langste afdeling met 23 gedigte en doen verslag van hierdie deel van sy lewe se kontoere.

Iewers in hierdie afdeling, op bladsy 53, verskyn “Dwaal”, ʼn klein ars poetica, wat direk die verwys na die “haltjie” in Uys Krige se “Tram-ode”. In hierdie gedig herroep Krige die “wakker mars van name deur my gees / van stede, dorpe, plase – plekke waar ek eens gewees het”, en dit is presies wat ook gebeur in Van Zyl se bundel

Dit begin met die gestroopte “Herinnering” van ʼn kindertjie se uitreis met ʼn kapkar na ʼn onbekende bestemming. Die meerderheid van hierdie reis kry hier neerslag in gedigte oor Suid-Afrika anderkant die Langeberge en portrette van gewone mense in ‘n eenvoudige bestaan.

“Voorbaat” se skaapwagter word voorgestel “met struisveer […] afgedraagde ferweel / met bokknieë” en “selfgemaakte voetgoed”, om dan verrassend in die slotreëls in sy eie stem en Afrikaans denker te word oor “hoelat skelpad se kjeend / inpas in hom se dop in.” [43]

Ons reis saam deur Boesmanland en die Karoo, die Sani-pas oor tot

 

[o]p eina stukkies grond tussen bottende klip

stry gekromde vroue moedig met skoffelpik

teen die skraal ding uit die berge. [51]

 

Hierdie eerste faset van die reis uit die hartland gaan draai diep in die verre ou Noord-Transvaal, daar “Langs die Mololotsi” waar die “ingetoë vrou” haar daglank besig hou met die skep van kleipotte. Soos hierdie gedig self, kom daar uit die vuur se as “haar geronde skat”: “Beskut in die leegte binne / die nut.” [44]

In “Deuskant Koebees” [nog een van die talle literêre verwysings in die bundel wat lesers gaan besig hou] word die Boesmanlandse reën met die intrapslag ʼn uitgebreide metafoor vir die nadraaie van te veel drank:

 

Soetjiesaan, ja soetjiesaan

ʼn intrekreën

sink die kan weg

in die man.

En kyk net hoe gou bot

skaapbos, kesieblaar, misbredie. [49]

 

Maar mettertyd loop dinge skeef, “trek dit toe / dié keer / donker, geniepsig […] woede, wrok en weersin”, totdat die metafoor in die slotreëls deur die gebruik van die “sil” in plaas van “sal” ‘n hartseer werklikheid word: “Hiervoor, hiervoor / sil vrougoed moet boet.”

Soos in Krige se gedig, loop Van Zyl se ode ook anderkant die landsgrense heen. “Die wit pad, Utrecht, 20.9.1948” [48], ʼn huldigingsgedig opgedra aan N.P. van Wyk Louw en wat reeds lank gelede elders verskyn het, is een van die sterkste gedigte in die bundel en vol verwysings na daardie digter se werk, veral “Beeld van ʼn jeug: Duif en perd”.

Die belangrikste wending wat Van Zyl gee, is dat die ou geskiedenis, twee millenia s’n, rondom die Nederlandse stad Utrecht “alles tesame net een Groot Vertelsel” is: daardie stad se storie

 

[…] vurk net so wel na Gunsfontein

of af met Veerlatekloof na winterweiding

onder se Jafta, Josef en September se velskoensole

onder die moftrop se swartblink drollie-tjies:

voetpad en klipsweet, spekbos wat spou – ook

die bloubos het die goue pit.

 

Die gedig self wys egter ook vooruit na die voorlaaste afdeling, “Te velde”, omdat die paaie wat deur Utrecht loop, besaai is met konflik en oorlog en dat die “goue pit” ook ʼn heel ander betekenis kan kry.

Die reise in hierdie afdeling maak dan ook wye draaie. In “Berlynse buitewyk, 1991” verdwyn die ek-spreker in die nadraai van ‘n ander era, ʼn ommekeer waarin die reisiger in die vreemde besef “Alles huiwer” en

 

Hy ril:

ook híér leef

wat hy wou kwyt én wat hy wil vind

ontsettend sy aan sy [50]

 

soos ook daardie groot reisiger Odusseus in die gelyknamige gedig wil ontsnap “weg van die sober soutdruppels van die nóú” [52], maar sal beland by ʼn “kus besaai / met beendere wat stinkend immer bly vergaan.”

Ondergang kom as tema sterker na vore soos die afdeling se reis einde toe staan. In “Karibies” [58], die gewaande eksotiese paradyseilande, omskep Van Zyl ʼn tropiese storm in ʼn dramatiese sprekende musiekstuk waarin die mens uit sy “skulplikheid” en “sieklike selfbehoud” uitgerol gaan word. In die daaropvolgende vers, “Bao” [ʼn bordspel wyd oor Oos- en Sentraal-Afrika versprei], sien die spreker in Zanzibar die standbeeld van Abeid Karume, ʼn vryheidsvegter vir sy mense teen die bewind van die eertydse sultan, wat in ʼn sluipmoordaanval sterf en daardeur so “sy diepdeurdagste skuif sou fnuik.” [59]

Teenoor die mag van die Karibiese stormsee, die drang na bevryding en vergelding en ander ontstemmende dinge, leer Wium van Zyl die leser in “Al-Qadir” van die toweruur wanneer die natuur gaan dut, die sterkste strome stil word. Dan “versaak selfs die halsstarigste bose geeste / die waak” en, veral, word “denkers verwek / en hulle wat woorde lemblink slyp.” [61] En binne hierdie Islamitiese sfeer word Opperman se “smal poort van die wonder” dan “die naaldsmal oog van die agterpoort”, en sy skippie hier “ʼn grys kameel”, die skip van die woestyn.

Met die lang “Onbenullige afskeid” [die lengte maak dit alreeds nie onbenullig nie] besweer die digter die idee dat ʼn lewe onbenullig is. Deur die opnoem van ʼn reeks uiteenlopende redes hoekom die gedig begin met “ʼn Skepsel het verdwyn en is weggewerk” en ons later lees die skepsel is “weggewerk na ʼn armmensgraf” word die eenvoudige karakters uit die digter se hartland weer ingevoer. Die versugting in die slot is dat daar vir almal inderdaad soms op hulle skynbare onbenullige lewensreis ʼn oomblik sou wees wat hulle

 

die geluk gewaar:

ʼn onbeskryflike nagblou

die skielike kosbare geur van jasmyn

die skroomvallige geluid van onsigbare vleuels? [65]

 

Die boeiende derde afdeling eindig met “Ontdekker” [66] waarin die gedig betoog dat die reisproses self die ware beloning is. “Erg is op see die verveling” terwyl jy tussen bestemmings beweeg en jy “die klotsende heimwee” het na wat daar op jou wag. Maar dan tog

 

die telkense ontdekking

dat die wyn, die wywe, die nuus

nog eindeloser as al

sewe seë tesame verveel.

 

Reeds met die oopmaakslag van die bundel, sou dit vir die leser duidelik word dat daar baie van hom of haar verwag sou word om self heelwat te doen om die verwysingswêreld van die gedigte te gaan verken. “Soms op ʼn reis” vra ook in hierdie opsig dat jy nie as passiewe leser kan saamreis nie.

Hierdie verkenning beteken ook dat mens bedag moet wees op hoe die digter deur klankherhaling en versluierde ryme sorg dat die gedigte nie verloop nie, iets wat dwarsdeur die bundel opval. Deur net met ʼn gevoelige oor te luister na die stukke wat in die bespreking aangehaal word, sal dit duidelik word hoe die digter hiermee te werk gaan.

In die voorlaaste afdeling, “Te velde”, word die soektog rondom verwysings, waarvan daar so pas melding gemaak is, vir die leser nog belangriker. Die berigte te velde in hierdie 14 gedigte het dit oor konflik en mag, oor werklike fisiese oorlogsgebeure en oor idees rondom die wese van ʼn slagveld waar idees slagters of slagoffers is. Dit strek oor eeue en oor baie lande; Van Zyl gebruik ʼn uiteenlopende klompie figure en plekke, daardie “far away places with strange-sounding names” wat ouer lesers nog sal onthou, om die problematiek te demonstreer, sonder om moraliserend te word.

Die afdeling se tweede gedig, “Duet” [69], is ʼn gedig waarvan die opdrag duidelik is: Lees maar, daar staan nie wat daar staan nie, om die Nederlandse digter Martinus Nijhoff se beroemde  versreël aan te haal.

Die aanslag van die gedig is dié van ‘n idille, bedrieglik so, want daar kom ʼn “veldslag” wat ʼn ironiese einde daaraan bring.

 

Klinkendste van klank die oggendduet

van die bokmakieriepaar

vreugde

tril blinkblaar in die olien

lig-lig roer selfs

snare van die spinnekop se web

skugterder laer in die takke

die dagbreekblydskap

van die janfrederikke

wat verstil

by die swiepende skeer van ʼn tortel

in sagte blou, rouband om die nek

úít voor ʼn klieeeugeluid wat klief

uit die snydende snawel van die geelbekgonster

stert en vleuels onverbeterlik belyn

supersonies soms

tot dié twee se hoogste noot

in splinterende harmonie

onder ʼn nog skemer prieel die glasdeur tref.

 

[Ek neem aan dat die “gonster” eintlik die geelbekwou is, maar kon geen bevestiging kry dat dit kontreitaal uit die digter se hartland is nie.]

Die ironie is natuurlik daarin geleë dat die jagter en sy prooi albei in hierdie klein metaforiese veldslag sterf, en dat die uitkoms van die oorlog, enige oorlog, op die lange [of korte] duur, net verwoesting en opskorting van die idille tot gevolg het.

In die daaropvolgende gedig, die lang “Augrabies”, word konflik en oorlog vanuit ʼn mitiese perspektief beskou. “Die Almagtige Hy” kyk na die mens wat hy geskep het en in oorvloed versorg, maar wat hy nou sien op mekaar jag, “mekaar beroof / wat die een die ander / met die knopkierie disnis slaan / dan die maag oopsny / en die grootaar met die hand afruk // […] besiel deur ou vetes / oorspronge al lank vergete, / ʼn diep lus vir stryd / die koestering van die bloedwraak.” [70]

In Sy “Goddellike Deernis” vernietig hy hulle egter nie, maar met sy mag suiwer Hy hulle van hierdie “ettervuil” wanneer hy “met ʼn enkele weerligslag” die “water van sy Binnebron / ruisend laat deurbreek” en “hulle algar ondergedompel [het] / in ʼn poel helder tot op die bodem.”

Anders as die reënboog van die Noag-verhaal, het Hy “snydend / ‘n ravyn gekloof / waarin die waters ewig stort”, waarna hy in “ʼn heilige miswolk / grimmig verdwyn.” In die mitologiese gegewe is die Augrabies-waterval dan die teken van God se deernis. Maar sou die mens terugval in hulle “ettervuil”, wag daar ‘n ander uitkoms, die wraak van die “Almagtige Hy”, wat in Augrabies aanwesig is: “Maar die bulder bly.”

Die ander tien gedigte in hierdie afdeling, moet dan gelees word teen  “Duet” en “Augrabies” se boodskappe, en enkele gedigte van vroeër in die bundel kry ruimer betekenis.

Die tien gedigte staan, helaas, in die teken van te velde trek en dat die mens doof geword het vir die “bulder” en wat dit mag inhou. Die verse bestryk weer ʼn hele geografiese en historiese wêreld en, soos daar vroeër vermeld is, word daar van die leser verwag om hom of haar vertroud te maak met dinge waarna daar verwys word.

Daardie wêreld strek wyd en het baie gesigte. Daar is die Middeleeuse Boergondië van “Le bon Chevalier”, waarin die strydperk skielik ongelyk word wanneer die “ontheiligende nuwigheid van kanon en donderbus / duyvelen der hellen” [73] die ridder-era se einde beteken, “verneder tot in die goor Vlaamse modder in”.

Dit steek oseane oor saam met die ontdekkingsreisigers soos “Magalháes” [Magellaan] en die besef dat die aarde groter is as wat “Iberiese klapperkoppe ooit sou kon bevat […] ʼn moerse hoeveelheid bedek met water” [74]. En, ook, in die “kersteningswaan” ontdek dat die plundering van rykdomme sou afhang van “die snelste skepe en die honger van haaie”.

Hierdie hongerte kry ʼn ander gedaante in die “Germaanse waan” en die “Groot Kakkerlak se hool”, natuurlik verwysings na Hitler en sy nasionaaal-sosialistiese projek. Die wapentuig het verander, meer gesofistikeerd geword en met “vrye trajekte.”

In “Digby Stunde Null, Berlyn” [75] keer die digter terug na Berlyn, wat die leser vroeër leer ken het, in die stuiptrekkings van die Tweede Wêreldoorlog wanneer die Russiese magte die verwoeste stad inneem. En ook uiteindelik oorneem, soos die slotstrofe wil suggereer, met die geboorte en doop van “Piotr” en nie Peter nie.

In die pragtige “Onuitgeklaar” [76] kom ons ʼn meer as ʼn halfeeu later te velde ook in Suid- en Suidelike Afrika, waar die FN-variante met “streelwoorde” en ʼn proses van enumerasie teruggeroep word. En ons terselfdertyd in beide eietydse anti-koloniale en destydse ontwakende Boergondiese en Europese nasionalismes betrek word met die “wulpse Waals” van “Fabrique Nationale”, die oorsprong van die FN waarmee die wapen benoem is.

Rondom stryd en oorheersing word ook ander figure en opvattings in hierdie afdeling ingevoer. Die klassieke Japanese meester van die gevegkuns, Akiyoma Shirobei, het reeds vroeg in die natuur gesien dat in die ysige winters die dik tak van die kersieboom sal knak, terwyl die soepel wilger sal buig, maar oorleef [77].

Hierdie oorlewing word in “Gewet” [nog een van die ou, amper vergete Afrikaanse woorde wat Van Zyl dikwels in sy verse weer laat klink] geïllustreer: “katvoet loop in die ooptes / en anderpad kyk al hou jy dop” [80].

Die Hongaarse opstand in 1956 en die Russiese onderdrukking daarvan met brute geweld, het in N.P. van Wyk Louw se aangrypende “Hongarye: November 1956” blywend staanplek gekry in die Afrikaanse poësie. Die slotgedig van die vierde afdeling, sluit hierby aan, want ons is daarmee te velde in Boedapest. Die titel, “Paloczi-Horvath”, verwys na George Paloczi-Horvath, Hongaarse skrywer en versetstryder. Eers teen die ideologie van daardie Groot Kakkerlak uit Berlyn en later teen die massiewe Oos-Europese verdrukking deur die Russiese bevryder, spesifiek soos dit in Hongarye in 1956 afgespeel het. Hiervoor het hy ook ʼn prys betaal as gevangene, om dit ligtelik te stel.

Die spesifieke verwysing na die “muwwe selle benede Andrássyboulevard 60” [81] plaas die voorstelling van die gebeure in die gedig direk in daardie Boedapest, want vandag nog is dit die museum waarin die verskriklike marteling vir besoekers kenbaar word:

 

die kreun die huil die krete

ontsetting doodsangs

selfs nog voor die begeleier die boei inkort

op jou rug spring

jou bespeel tot ongehoorde

onwelluidendheid uit menslike mond

Nog groter die marteling om

ten diepste

te besin saam met oorlewende medegebrokenes,

sisteemgelowiges, fyn filosowe

[…]

verpletter deur die versplinterende las

ondraaglike

ruïnes van hul kollektiewe skoonste droom.

Die bulder het, inderdaad, gebly.

 

Hierbo is daar in “Gewet” gepraat van ʼn lewenshouding: katvoet loop, onopsigtelik, maar steeds besig om jou mes te slyp vir daardie dag as jy dit nodig gaan hê. Daardie gedig is een van ʼn hele paar versprei deur Poëme, wat aansluit by die laaste afdeling van die bundel, die klompie “herdigtings” uit die Edda, waarna ek reeds verwys het.

Die aanslag van die agt gedigte is heeltemal anders as die grootste deel van die voorafgaande verse en vang waarskynlik die toonaard van die Oud-Noors sowel as die lewensritme van die afgesonderde vroeg-Middeleeuse gemeenskap goed vas. Die konteks  van die verskillende gedigte is nie hier bekend of ter sake nie. Maar almal bevat eenvoudige en duidelike lewenslesse en waarhede, amper soos in die Bybelse Spreuke.  Of die raad wat Polonius in Hamlet aan sy seun Laertes gee as hy op vertrek staan.

Soos, byvoorbeeld, “vir ʼn verstandige is geen siekte erger / as om met niks tevrede te wees nie” [89]. Of: “Begin nooit veg met iemand / as die laaste maanstrale van agter hom kom nie” en

 

ʼn Skrander man is skoon gewas, sy hare gekam,

hy moet ook soggens genoeg eet

want dis nie seker waar hy gaan oornag nie. [91]

 

Wees altyd paraat, want “Nooit moet ʼn man op die vlaktes / buite handbereik wees van sy spies nie” [88], want “daar is kwaadaardige wesens weerskante van jou / jy sien liewer húlle vol wonde.” [91]

Poëme is ʼn bedrieglik eenvoudige bundel, met toeganklike verse, netjies opgestel in afdelings. Maar die vernuftige beeldspraak en uitgebreide metafore, die omgaan met ʼn ou en ryk Afrikaans wat saamloop met virtuose woordskeppings en die wyse waarop die “vrye” vers deur klankherhalings gebind word, bly verras. Ook hoe gedigte oor afdelings met mekaar in gesprek tree.

Dit is ʼn ruim hartland wat ons in die reis deur die bundel leer ken, uiteenlopende streke van die gees, kontreie en wêrelde, en wat van die leser as mede-reisiger dan ook heelwat vra.

Die bundel is ʼn tweede debuut, inderdaad, en een waarmee Wium van Zyl ʼn eiesoortige en besondere bydrae tot ons poësiewêreld en die lesers se hartland lewer.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Joan Hambidge gesels met Wium van Zyl oor “Poëme”

3e gedagtes oor “Resensie: “Poëme” deur Wium van Zyl”

  1. Yves T'Sjoen says:
    29 October 2025 at 09:33

    Voor de collectie Ernst van Heerden in het Poëziecentrum zal de bundel van Wium van Zyl een aanwinst zijn. Is het boek ook ergens te verkrijgen? Twee keer per jaar ontvangt het huis van de poëzie op de Vrijdagmarkt in Gent een schenking van nieuw verschenen dichtwerk in Afrikaans, dankzij de generositeit van Nicol Stassen en de uitgeverijen Protea Boekhuis, Naledi, Imprimatur, Kwela en Queillerie (Jonathan Ball Uitgewers).

    Reply
  2. Joan Hambidge says:
    28 October 2025 at 18:47

    Dank aan Fanie Olivier. Ek gaan akkoord met Olivier en die meervlakkigheid van hierdie bundel.

    Reply
  3. Marlies Taljard says:
    28 October 2025 at 17:23

    Wat ‘n uitmuntende resensie van ‘n besondere bundel! Hierdie resensent het die bundel gelees met inagneming van op hoeveel vlakke gedigte bestaan en ingeskat behoort te word.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Anne-Marie Bartie
  • Stephan du Toit. Witgatboom

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Bestekopname
  • AVBOB Persverklaring
  • Willem M. Roggeman. De meerwaarde van de verbeelding
  • Joan Hambidge. Brief, 10 November 2025
  • Carina van der Walt. Paryse dagboek

Nuutste kommentaar

  1. Marlies Taljard on Nuwe publikasie: “Troilus and Criseyde” in Afrikaans vert. deur Johan Boje10 November 2025

    Besonder insiggewende inleiding wat onmisbaar is wanneer mens so 'n vertaling lees. Baie geluk met 'n wêreldklas vertaling John Boje.

  2. Peet van Schalkwyk on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek10 November 2025

    Baie dankie Vds

  3. VDS Brink on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek8 November 2025

    Peet, dit is aangrypend mooi!

  4. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

  5. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)31 October 2025

    Was es ist! Puik vertaal.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d