Newton
Die eerste woord het God gespreek. Jy het
gehoorsaam: lig het jy van violet tot rooi
oopgebreek. Op die skouers van reuse,
dit het jý gesê, op die skouers van reuse het
jy gestaan, verder as almal kon jy sien.
Planete het jy geteuel en stiebeuel, met wette
hul opgesaal, dwingend tot ‘n vaste baan.
Geëer as een van die grootstes ooit, tog het jy
geglo net één blink skulpie lê in jou seuntjiehand,
staande op die strand voor die versluierde,
glansryke Oseaan.
© Stephan du Toit, 2025
