Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
16 September 2025

Joan Hambidge. Die waterman en Die helfte is jou nie vertel nie  

 

I

Herman Wasserman se bundel waterman het sopas by Quellerie verskyn. In hierdie digbundel navigeer die hier-en-nou met ‘n terugkyk op die jeug, ‘n kartering van lewensveranderinge, politiek en reise. Die parateks soos Genette dit tipeer met  ‘n kunswerk van John Murray, aktiveer versplintering: ‘n hand teenoor ‘n vrou wat swem …

Véral die einde van ‘n intieme verbintenis word besonders ver-dig. Dit is die ondergrond van die bundel.

 

Kirstenbosch

 

ek wonder of hy nog so staan,

daardie boom waaronder

ek jou die eerste keer kon soen

jou rok geil botanies groen

 

sou ‘n tuinier haar nog elke dag

water gee, kompos voer

onkruid uitroei wat dreig

om water stadig weg te suig

 

iemand wat deur die vaal winters,

skelblou sonskyn, droewe wolke,

halsstarrig wag vir iets om te groei

vir die tak om weer te bloei

 

of het hy al ophou glo nog een lente sal gebeur

in ‘n Kirstenbosch van kleur?

(70)

Soen en groen / dreig en suig / groei en bloei / gebeur en kleur bewys hoe die rymwoorde die betekenis van die gedig anker in hierdie sonnet.

 

Die boom is aanvanklik manlik (hy) waaronder die geliefdes soen.

 

Dan word die boom ‘n haar (vroulik) wanneer die Eden van die liefde bedreig word met onkruid wat dreig om die water weg te suig. Dan is daar ‘n iemand (die spreker) wat wag vir die tak om weer te bloei …

Of dui op die wending in die gedig: het die spreker al ophou glo dat daar nog een lente sal wees in ‘n Kirstenbosch van kleur in hierdie behendige hantering van personifikasie? Of dalk hoop hy steeds?

 

Hierdie vraagstelling is so bekend aan die liefdesvers.

 

Ons dink aan Olga Kirsch se klassieke vers:

 

Illusie

Soms as ek in die silwer skemering stap

met oë half toe, want die ligte reën

prikkel my wange, dans en trippeltrap

verby my lippe en om my oë heen,

dan sak die stilte in ‘n klamme vlaag

oor alles, donkergroen en silwergrys

die denne, en ek slaan my jas se kraag

-hoër om my nek. Daar’s iets wat eis

dat ek meteens met ligter tred moet gaan,

met tintelende ekstase in my bloed.

Dalk aan die einde van die lange laan

gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

 

 

Thérèse Bartman se Die helfte is jou nie vertel nie verskyn sopas by Naledi. Hier kyk die vrou na die man.

 

Polaroid

Belville 1984

In dié oomblik skerp gestel

is ons laggend met ons arms om mekaar.

 

Jou oopknoophemp is groen katoen,

jou nek bedwelmend suurlemoen.

 

Vir jou en my, die paradys,

hou ek hierdie klein bewys.

 

‘n Pragvers met die terugkyk na hierdie foto waar die eerste strofe nie rymwoorde het nie. Asof die kyker reeds in daardie oomblik die einde besef het? Tog wás daar ‘n paradys waarvan die foto die bewys is.

 

 

II

In al die aangehaalde gedigte speel die rymwoorde ‘n belangrike rol. Daar waar die rymwoorde ontbreek, moet die leser fyn kyk.

En by Olga Kirsch word die rym behendig hanteer. Ons sien hoe die geliefdes mekaar eens omarm het. Toe daar ‘n tintelende ekstase was.

Dig mans anders oor pyn? Het ‘n gedig ‘n gender? Wasserman laai sy gedig met manlike en vroulike aanwysings; by Bartman is die oopknoophemp dalk die aanwysing dat sy praat oor ‘n man.

Die meervoud van verdriet (soos Johann de Lange dit klinkend stel):

 

Daar is ʼn tyd wat die sterre hou

 

Daar is ʼn tyd wat die sterre hou,

vir nietige passies soos ons s’n:

die hunkering om bemin te word

vir ewig & desnietemin.

 

Hy verwys ook in Die Algebra van nood (2009) na bedrieglike paradyse. En die “handgrepe van hartstog”.

Daar staan  in al hierdie bundels (implisiete of eksplisiete) verwysings na Ina Rousseau, ‘n digter wat eweneens hierdie tematiek uitsonderlik ontgin het in Die verlate tuin (1954).

 

Eden

Staan daar nog in Eden êrens,

verlate soos ‘n stad in puin,

met poorte grusaam toegespyker,

deur eeue die mislukte tuin?

 

Word daar nog die swoele dae

deur swoele skemering en nag vervang

-waar donkergeel en purpur vrugte

verrottend aan die takke hang?

 

Sprei daar ondergronds ‘n netwerk

soos sierkant deur die rotse heen:

die sware onontgonne riwwe

van goud en onikssteen?

 

vloei daar deur die natgroen struike

nog met kabbeling wat ver weerklink,

die viertal glasblink waterstrome

waarvan geen sterfling drink?

 

Staan daar nog in Eden êrens,

verwaarloos soos ‘n stad in puin,-

gedoem tot langsame verrotting

deur eeue die mislukte tuin?

 

So vertaal J.M. Coetzee hierdie vers:

 

Eden

Somewhere in Eden, after all this time,

does there still stand, abandoned, like

a ruined city, gates sealed with grisly nails,

the luckless garden?

 

Is sultry day still followed there

by sultry dusk, sultry night,

where on the branches sallow and purple

the fruit hangs rotting?

 

Is there still, underground,

spreading like lace among the rocks

a network of unexploited lodes,

onyx and gold?

 

Through the lush greenery

their wash echoing afar

do there still flow the four glassy streams

of which no mortal drinks?

 

Somewhere in Eden, after all this time,

does there still stand, like a city in ruins,

forsaken, doomed to slow decay,

the failed garden?

https://www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poems/49319/eden-56d22b4995df2

Die vertaling transporteer nie die rym en metrum reg nie en is te letterlik.

 

III

Die ondergrondse netwerk van die digkuns word wel bewys deur hierdie gedigte van De Lange, Wasserman en Bartman. Sowel Wasserman as Bartman gebruik ‘n tatoe om hul ellende te verbeeld. ‘n Inkprentjie op sy pols (“van golwe, water of ‘n rivier”) om permanent te laat onthou om nie dryfhout vas te klou nie. By Bartman klink dit so:

 

Tatoe

Vooroorgebuk was ek vir lank.

Jou weggaan het in my bly brand.

 

Nou is my rug swart van die swaels.

(43)

 

Die bundels neem ons na twee bakens:

 

Ina Rousseau: Digter van die kwiksilwerwoord  met Daniel Hugo as redakteur en Die stil middelpunt: ’n keur, met nuwe gedigte, ook van Daniel Hugo.

Wasserman gee erkenning aan Daniel Hugo as een van sy lesers en sy bundel het implisiete verwysings na Van Wyk Louw en Opperman, o.a.

En die helfte is jou vertel nie wanneer die leser ‘n komplekse digbundel lees. Dit neem jou ook na die Genesis-verhaal, iets wat ons sien in Wasserman se “Kersdag” (56) met die slot wat Opperman se buffel wat geen metafisika ken nie, betrek:

….

die pofadder ken geen teologie

wag net vir hom wat, oog op die horison,

vergeet op wie se grond hy trap

 

Elke digter op soek na die stil middelpunt.

 

Joan Hambidge

Kaapstad

15 September 2025

 

Bronne:

 Bartman, Thérèse. 2025.  Die helfte is jou nie vertel nie. Gansbaai: Naledi.

 

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Hugo, Daniel. 2023. Ina Rousseau: Digter van die kwiksilwerwoord. Gansbaai: Naledi.

 

Kirsch, Olga. 1946. Die soeklig. Pretoria: J.L. van Schaik.

 

Rousseau, Ina. 1954. Die verlate tuin. Kaapstad: A.A. Balkema.

 

Rousseau, Ina. 1970. Taxa. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Rousseau, Ina. 1978. Kwiksilwersirkel. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Rousseau, Ina. 1979. Soutsjokolade. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Rousseau, Ina. 1980. Heuningsteen. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Rousseau, Ina. 1989. Grotwater. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Rousseau, Ina. 1995. ’n Onbekende jaartal. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Rousseau, Ina. 2003. Die stil middelpunt: ’n keur, met nuwe gedigte. Saamgestel en ingelei deur Daniel Hugo. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Wasserman, Herman. 2025. waterman. Kaapstad: Queillerie.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge gesels met Gilbert Gibson oor “vloei / stof”
Nuwe Bundel. I wish I’d said … Vol. 8: Johann de Lange / NCP Golele, Reds. →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d