I
Herman Wasserman se bundel waterman het sopas by Quellerie verskyn. In hierdie digbundel navigeer die hier-en-nou met ‘n terugkyk op die jeug, ‘n kartering van lewensveranderinge, politiek en reise. Die parateks soos Genette dit tipeer met ‘n kunswerk van John Murray, aktiveer versplintering: ‘n hand teenoor ‘n vrou wat swem …
Véral die einde van ‘n intieme verbintenis word besonders ver-dig. Dit is die ondergrond van die bundel.
Kirstenbosch
ek wonder of hy nog so staan,
daardie boom waaronder
ek jou die eerste keer kon soen
jou rok geil botanies groen
sou ‘n tuinier haar nog elke dag
water gee, kompos voer
onkruid uitroei wat dreig
om water stadig weg te suig
iemand wat deur die vaal winters,
skelblou sonskyn, droewe wolke,
halsstarrig wag vir iets om te groei
vir die tak om weer te bloei
of het hy al ophou glo nog een lente sal gebeur
in ‘n Kirstenbosch van kleur?
(70)
Soen en groen / dreig en suig / groei en bloei / gebeur en kleur bewys hoe die rymwoorde die betekenis van die gedig anker in hierdie sonnet.
Die boom is aanvanklik manlik (hy) waaronder die geliefdes soen.
Dan word die boom ‘n haar (vroulik) wanneer die Eden van die liefde bedreig word met onkruid wat dreig om die water weg te suig. Dan is daar ‘n iemand (die spreker) wat wag vir die tak om weer te bloei …
Of dui op die wending in die gedig: het die spreker al ophou glo dat daar nog een lente sal wees in ‘n Kirstenbosch van kleur in hierdie behendige hantering van personifikasie? Of dalk hoop hy steeds?
Hierdie vraagstelling is so bekend aan die liefdesvers.
Ons dink aan Olga Kirsch se klassieke vers:
Illusie
Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in ‘n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
-hoër om my nek. Daar’s iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Thérèse Bartman se Die helfte is jou nie vertel nie verskyn sopas by Naledi. Hier kyk die vrou na die man.
Polaroid
Belville 1984
In dié oomblik skerp gestel
is ons laggend met ons arms om mekaar.
Jou oopknoophemp is groen katoen,
jou nek bedwelmend suurlemoen.
Vir jou en my, die paradys,
hou ek hierdie klein bewys.
‘n Pragvers met die terugkyk na hierdie foto waar die eerste strofe nie rymwoorde het nie. Asof die kyker reeds in daardie oomblik die einde besef het? Tog wás daar ‘n paradys waarvan die foto die bewys is.

II
In al die aangehaalde gedigte speel die rymwoorde ‘n belangrike rol. Daar waar die rymwoorde ontbreek, moet die leser fyn kyk.
En by Olga Kirsch word die rym behendig hanteer. Ons sien hoe die geliefdes mekaar eens omarm het. Toe daar ‘n tintelende ekstase was.
Dig mans anders oor pyn? Het ‘n gedig ‘n gender? Wasserman laai sy gedig met manlike en vroulike aanwysings; by Bartman is die oopknoophemp dalk die aanwysing dat sy praat oor ‘n man.
Die meervoud van verdriet (soos Johann de Lange dit klinkend stel):
Daar is ʼn tyd wat die sterre hou
Daar is ʼn tyd wat die sterre hou,
vir nietige passies soos ons s’n:
die hunkering om bemin te word
vir ewig & desnietemin.
Hy verwys ook in Die Algebra van nood (2009) na bedrieglike paradyse. En die “handgrepe van hartstog”.
Daar staan in al hierdie bundels (implisiete of eksplisiete) verwysings na Ina Rousseau, ‘n digter wat eweneens hierdie tematiek uitsonderlik ontgin het in Die verlate tuin (1954).
Eden
Staan daar nog in Eden êrens,
verlate soos ‘n stad in puin,
met poorte grusaam toegespyker,
deur eeue die mislukte tuin?
Word daar nog die swoele dae
deur swoele skemering en nag vervang
-waar donkergeel en purpur vrugte
verrottend aan die takke hang?
Sprei daar ondergronds ‘n netwerk
soos sierkant deur die rotse heen:
die sware onontgonne riwwe
van goud en onikssteen?
vloei daar deur die natgroen struike
nog met kabbeling wat ver weerklink,
die viertal glasblink waterstrome
waarvan geen sterfling drink?
Staan daar nog in Eden êrens,
verwaarloos soos ‘n stad in puin,-
gedoem tot langsame verrotting
deur eeue die mislukte tuin?
So vertaal J.M. Coetzee hierdie vers:
Eden
Somewhere in Eden, after all this time,
does there still stand, abandoned, like
a ruined city, gates sealed with grisly nails,
the luckless garden?
Is sultry day still followed there
by sultry dusk, sultry night,
where on the branches sallow and purple
the fruit hangs rotting?
Is there still, underground,
spreading like lace among the rocks
a network of unexploited lodes,
onyx and gold?
Through the lush greenery
their wash echoing afar
do there still flow the four glassy streams
of which no mortal drinks?
Somewhere in Eden, after all this time,
does there still stand, like a city in ruins,
forsaken, doomed to slow decay,
the failed garden?
https://www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poems/49319/eden-56d22b4995df2
Die vertaling transporteer nie die rym en metrum reg nie en is te letterlik.
III
Die ondergrondse netwerk van die digkuns word wel bewys deur hierdie gedigte van De Lange, Wasserman en Bartman. Sowel Wasserman as Bartman gebruik ‘n tatoe om hul ellende te verbeeld. ‘n Inkprentjie op sy pols (“van golwe, water of ‘n rivier”) om permanent te laat onthou om nie dryfhout vas te klou nie. By Bartman klink dit so:
Tatoe
Vooroorgebuk was ek vir lank.
Jou weggaan het in my bly brand.
Nou is my rug swart van die swaels.
(43)
Die bundels neem ons na twee bakens:
Ina Rousseau: Digter van die kwiksilwerwoord met Daniel Hugo as redakteur en Die stil middelpunt: ’n keur, met nuwe gedigte, ook van Daniel Hugo.
Wasserman gee erkenning aan Daniel Hugo as een van sy lesers en sy bundel het implisiete verwysings na Van Wyk Louw en Opperman, o.a.
En die helfte is jou vertel nie wanneer die leser ‘n komplekse digbundel lees. Dit neem jou ook na die Genesis-verhaal, iets wat ons sien in Wasserman se “Kersdag” (56) met die slot wat Opperman se buffel wat geen metafisika ken nie, betrek:
….
die pofadder ken geen teologie
wag net vir hom wat, oog op die horison,
vergeet op wie se grond hy trap
Elke digter op soek na die stil middelpunt.
Joan Hambidge
Kaapstad
15 September 2025
Bronne:
Bartman, Thérèse. 2025. Die helfte is jou nie vertel nie. Gansbaai: Naledi.
De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hugo, Daniel. 2023. Ina Rousseau: Digter van die kwiksilwerwoord. Gansbaai: Naledi.
Kirsch, Olga. 1946. Die soeklig. Pretoria: J.L. van Schaik.
Rousseau, Ina. 1954. Die verlate tuin. Kaapstad: A.A. Balkema.
Rousseau, Ina. 1970. Taxa. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rousseau, Ina. 1978. Kwiksilwersirkel. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rousseau, Ina. 1979. Soutsjokolade. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rousseau, Ina. 1980. Heuningsteen. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rousseau, Ina. 1989. Grotwater. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rousseau, Ina. 1995. ’n Onbekende jaartal. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rousseau, Ina. 2003. Die stil middelpunt: ’n keur, met nuwe gedigte. Saamgestel en ingelei deur Daniel Hugo. Kaapstad: Human & Rousseau.
Wasserman, Herman. 2025. waterman. Kaapstad: Queillerie.
