Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 September 2025

Joan Hambidge gesels met Gilbert Gibson oor “vloei / stof”

 

 

 

Joan Hambidge (JH)

Jou verse kan tipeer word as hermeneutiese digkuns of gedigte wat veral die gedig as talige konstruksie vooropstel soos in Die grammatika van liefhê (1975) van J.C. Steyn en die digkuns van e.e. cummings. Kommentaar.

Gilbert Gibson (GG)

Ek wonder dikwels hoe koelbloedig of met voorbedagte rade daardie proses tot ʼn tipe gedig is. ʼn Mens sou duidelik nie in beginsel weg wou skryf van betekenis nie? Of dalk sou jy, soms? As voorbeeld die verhouding tussen swael en neerbuiging/ verootmoediging – dit maak net sin op ʼn talige verband (sulfur uit supplicant). Hierdie sprong maak die brein onopsetlik – die vraag is dalk eintlik hoeveel vrye teuels jy die brein moet gee? Op hierdie manier voel ek al minder in beheer van wat ek skryf, al meer uitgelewer aan (vorige) woorde en sinne, meer afhanklik van en eintlik onderworpe aan memorie.

JH

Ek sien jou gedigte as sogenaamde language poetry, ‘n beweging met figure soos Charles Bernstein en Bruce Andrews. Gertrude Stein en William Carlos Williams word ook hierby ingesluit. Jy het Jim Jarmusch se puik film Paterson Hierin sien ons verwysings na William Carlos Williams en Ginsberg.

Kommentaar.

GG

Ek het iewers gelees dat in language poetry ʼn parataktiese (wat ʼn aanskoulike woord) struktuur in die gedig beklemtoon word.

Hierdie klem val soos ʼn vorm van disleksie in die taal. Op hierdie manier word nie-kongruente voorwerpe beklemtoon, sodat die woorde ʼn tekstuur kry van ʼn hoofsaaklik taalkonstruksie (teenoor bv. ʼn betekenis-konstruksie).

As resultaat vorm nog ʼn stuwing tot die vreemde en verborge, sodat die leser net so belangrik word om (broodnodige) betekenis aan die gedig te gee.

Soos in Paterson, byvoorbeeld:

Die busbestuurder-digter (Adam Driver) maak al die ander karakters in die film slagoffers van sy poetry – ook die vrou in sy lewe, ook die busse wat hy bestuur, ook die hond wat ongenooid op stoele sit en slaap. Omdat sy taalbesmette bestaan so vervleg is met gedigte, word alles in sy lewe sydelings deel van sy verse. Vuurhoutjies. ʼn Taiwannese boekesak. ʼn Casio horlosie op die bedkassie. Alles om en in hom beland in die penumbra van poësie. Sy taal ook, daar in die skadukant van sy gedagtewêreld. Op die manier is die herinterpretasie van sy wêreld, die digterlike bril waarmee hy kyk eintlik sy verdedigingstrategie teenoor die lewe. Teenoor ʼn ondermaanse gevul met kruiwaens en vuurhoutjies en verbintenisse met Buffalo Bill.

JH

So klink ʼn gedig op bladsy 40:

 

die son was ’n bloederige knou

oor onrustige doringdrade

en kampe gevolglik omkring met roes en verval

windpompe in sirkulasie oor modifikasies uit die boorgat

en die opkomende blik van vloeistof veel donkerder geskik

’n dassie het op ’n klip gesit sy oë jasknope

langs erosieslote met die verklewende wrang van katbos

dat populiere in die wind hulle blare beweeg soos ’n grys mantel

tot sonbesies tydelik stil word voor die honde nader hardloop ’n tarentaal

as ’n voorbeeld van ’n spruit, met ’n belang in aanpasbaarheid

 

Die titel word onderaan die gedig geplaas:

 

aanpasbaarheid

Hoekom plaas jy titels onderaan gedigte? Ken jy Pirow Bekker se studie oor die titel in die poësie wat in 1970 verskyn het?

In 2005 debuteer jy met Boomplaats. In 2007 volg Kaplyn en 2009 Oogensiklopedie. 2011 vii, 2015 vry en 2017 Die sin van die hut.

Immers is jou titels gelaai met implikasie…

GG

Ek het al vantevore onrus ervaar oor die titel in die gedig. Die rol daarvan. Die belang as objek.

En het al (heel onsuksesvol) probeer om die titel volledig te ondermyn, of te verhef tot ʼn belangrike deel van die gedig. In vorige skrywes as slegs titels (nomen). Of alfabeties. Of genommer. Of herhaling in die eerste reël. Of beskrywende (afgebakende) onderdele van ʼn huis.

En in vloei/stof die titel as eggo (aan die einde van die gedig).

Ek is nie seker of die titel los of vas aan die gedig moet wees nie, en of die titel apart soos ʼn padteken kan staan met eie belang: Pirow Bekker se proefskrif is aan my onbekend.

JH

Jy is ʼn internis en dus behoort jy tot die lang tradisie van digtende dokters. Het jou werk ʼn invloed op jou digkuns?

GG

Dink en vertrou so. As jou eie aarde nie impakteer op jou poësie nie, sou ek darem wonder oor die bewussyn en vermoë tot hoor en sien. Meer gedugte digters het vantevore al hulle pad in medisyne nageloop, soos bekend Keats, William Carlos Williams, die Wallieser Danny Abse, Schiller, Leipoldt, en so meer.

Almal betrokke by geneeskunde, wat ek skat die praktyk van verlies is.

JH

Jou kennis van idiome wat jy verdraai is opvallend. Hoekom retoriese huis? Dalk omdat die huis van die digkuns vele wonings het soos in Die Bybel?

alom is

 

ver by die water. van

ver die retoriese huis. ’n keer

ver by die oorbrug (heen en weer)

ver oop. wat stom is

ver by alkant ontken. die vloed

maak reg wat alom is

GG

Miskien volg die besering (die insult) aan idiome op daardie limbiese disleksie wat in spraak/ taal ontstaan – op die manier die sprong van die appel (nie ver van die boom nie), die boom (gevul met kennis van goed en kwaad), tot die teenwoordigheid van ʼn slang verklaar word. Al is so ʼn gemaakte beeld iets wat die limbus van betekenis oorskry.

 

Die retoriese huis verwys na alle-huise-dieselfde. Soos jy opmerk, “in die huis van my vader is daar baie wonings (alle-huise-dieselfde); as dit nie so was nie, sou ek dit vir julle gesê het.

 

JH

Die motto van Jo Nesbo:

 

… because water, like cowardice and lust, always finds the lowest level …

 

Jo Nesbø daardie ‘n Noorweegse skrywer, musikant en betrokke by Di Derre, ‘n band. Sy boeke is ook verfilm.

Hoekom Nesbo? Dalk jou liefde vir musiek en kitare?

GG

Ek lees Nesbø is nie net ʼn opgevoede skrywer nie – hy is inderdaad ʼn kitaarspelende polimaat.

En oor die ligging van water: toe ek veel jonger was, was water bo. ʼn Mens het na die wolke gekyk en gehoop op verlossende reëns. Vloede was meestal afwesig.

 

Vandag my waters onder. Laag. En, weet ek, toe onder die stof.

 

JH

Jou gedig werk met die grimmige en die dood dikwels.

 

vou

 

ek maak my mond ’n strandwolf

jou keel kom op soos ’n kadawer

jou skouers groot en oppervlakkig in

’n beduidende landskap wat my hande

verras en tot pas markeer

as my vingers oor jou mortal

coil en konstrueer hoe my tande

oor jou nek se weerloos vou  (16)

 

‘n Moord?

 

Waarom ‘n kadawer?

 

‘n Aweregse liefdesvers dalk?

GG

As ʼn mens kyk na iemand wat lag of iemand wat huil, lyk die gesig kompleet dieselfde.

 

Nes liefde en dood, dikwels, dieselfde.

Hier die kadawer, wat jy vroeër op universiteit moes dissekteer: ʼn dooie, aangewend in die konteks van opleiding of navorsing. ʼn Lyk is net dood. ʼn Kadawer word bestudeer.

 

Met vingers wat soos Hamlet eintlik oor die geliefde se lyf shuffle.

 

JH

Jou verse is kripties.

 

Sal jy vertel hoe jy die gedig geskryf het vir Wilma Stockenström opgeneem in Nogmaals vir die bysiende leser:

 

 

in water

(: wilma stockenström)

 

jou duiklong maak jou asem na

soos ʼn biblioteek se rakke stof namaak

soos rye boeke drome onder ribbe klim en val

 

en jou diepsee bewaar sy buit

voor ʼn net wat oop soos ‘n waagstuk wag

dat jy naderswem, innige blou op ʼn vaas

tot waar kremetarte teen wolke inwal

tot waar blaaie bene maak in jou omhelsing

 

en dan sou kniel in water

en dan sou kniel in water

 

GG

Uit ʼn gedig van haar:

 

“sodat ek die aarde kon bewandel,
vol verwondering kon raak aan
ander saamgestel soos ek: water

water water water water en.

 

En sê sy in Die Kremetartekspedisie oor ʼn laaste reis:

 

“duik ek in donker water en roei met my vlerke die anderkant in na waar in sakkende stilte ek my nie meer weet te help nie”

 

En die biblioteek as vesting, uit Peter Blum en sy impak op haar digkuns.

 

Duiklong, omdat dit so ʼn mooi woord is.

 

So sou sy bid:

 

en dan sou kniel in water

 

JH

Die gedig as ‘n magic bullet (sê jy).

 

Of eerder iets tussen die sigbare en onsigbare …

 

Kommentaar.

GG

Die magic bullet (uit die Warren-kommissie se aanpassing van die gebeure rondom die sluipmoord op Kennedy. Dit moes die trajek verduidelik hoe die projektiel deur hom ook John Connaly kon tref. Die magic bullet dus nes Lee Harvey Oswald, deel van die leuen.

Ek het by geleentheid (jonger en voortvarend) ʼn dosent in Afrikaans hier in Bloemfontein probeer oortuig dat gedigte die enigste plek is waar jy volledig omgaan met die waarheid, met jou eie lewe as waarheid. Hy het my elegant tereggewys deur te sê (quote-unquote) ʼn mens lieg nêrens soveel as in die gedig nie.

Die gedig is eintlik vir hom en vir sy opmerking gemaak.

Dalk is alle gedigte verplaas tot in daardie gaping tussen die sigbare en die verborge: in Die Bybel staan iewers die oog is nie op die sigbare nie, maar op die onsigbare – die een is tydelik, die ander aanhoudend.

JH

Hoe sien jy die stand van die Afrikaanse letterkunde tans?

GG

Oor die stand van letterkunde is ek te min ingelig om ʼn sterk opinie te waag.

Miskien dalk die volgende:

Net nadat my eerste bundel verskyn het, met ʼn ondersteunende resensie vars in Die Volksblad, het ek en ʼn vriend (wat op daardie stadium bekend was as ʼn senter vir die Cheetahs) gou gery om iets by ʼn supermark te koop (iets algemeen, soos Blitz of brood). Toe ons uit die motor klim, het twee jong Vrystaatse manne van ver af op ons afgepyl, doelgerig, vasbeslote. Voor die hand liggend (naïef) het ek my klaargemaak om iets letterkundigs te sê, iets gedistingeerd, iets intellektueel.

Vlak voor ons het hulle egter na die rugbyspeler geswenk, en my in en tot stilte gemaan:

Fokkit Chris, sê die een, julle ouens het Saterdag darem gespeel.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Tristia en “Groot ode”
Joan Hambidge. Die waterman en Die helfte is jou nie vertel nie   →

1e kommentaar op “Joan Hambidge gesels met Gilbert Gibson oor “vloei / stof””

  1. Hendrik Botha says:
    16 September 2025 at 13:00

    Insiggewende onderhoud. Dankie. Hoogs voortreflike bundel waarvoor ons lank gewag het, veels geluk Gilbert, die wag was die moeite werd.
    Gegroet.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d