
Willem Fransman Jr is, soos so baie van sy kreatiewe tydgenote in Worcester, Wes-Kaap in 1957 gebore. Alhoewel hy op ‘n plaas in die Brandwacht-distrik gebore is, verlaat sy ouers die landelike lewe om ‘vir hul kinders ‘n toekoms in die Kaap te loop soek’. Na ‘n aanvanklike rondvallery, land die gesin in Tiervlei (vandag Ravensmead).
Reeds op skool word die liefde vir die taal en taalverwante aktiwiteite deur sy opvoeders en ouers aangewakker. Alhoewel hy hom later as natuurwetenskaplike kwalifiseer, is dit letterkunde wat sy voorliefde word. Dis sy ‘passie van die nag’ wat maak dat hy bekendheid as kreatiewe skrywer verwerf. Hy skryf in feitlik alle genres van Afrikaans. Hy is ‘n bekroonde dramaturg met meer as agt radiodramas, etlike gepubliseerde kortverhale, gedigte en selfs etlike opdrag verhoogdramas het al uit sy pen gevloei.
In 1997 is hy die eerste wenner van die RSG/Sanlam radiodrama-kompetisie met Om te bedel is ’n kuns. Ander opdrag-radiodramas is Die belofte in ’n skilpaddop (die verhaal van Sarah Baartman in die vreemde) en Martelaar van Calvinia (verhaal van die bruin versetleier, Abraham Esau, gedurende die Anglo-Boereoorlog.)
Die volgende dramas uit sy pen is al by kunstefeeste opgevoer: Om te bedel is ’n kuns (1999), Die mense van Langesaan (2000), Leipoldt soos nog nooit vantevore (2004-opdragwerk), Ma se melk (2005) en Paljas van Dirk Ligter (2006-opdragwerk).
Daarby is hy ook ‘n bruikbare storieveteller, voordragkunstenaar (performance poet) akteur en regisseur. Voeg daarby sy Westelike Provinsie erekleure in atletiek, en dis duidelik dat Fransman ‘n holistiese lewe prbeer lei.
Hy en ‘n ontslape vriend, Zavey Goliath inisieer in 1998 ‘n projek, “Digter/skrywer in die klaskamer” wat gesien kan word as die voorloper van die huidige Woorde-Open-Wêrelde-projek van die Universiteit van Stellenbosch.
Tans is hy ‘n vryskut joernalis vir Son op Sondag en Netwerk24 as rubriekskrywer.
Vir sy gemeenskapsbetrokkenheid en die ontwikkeling van kreatiewe skryfwerk, beloon die Wes-Kaapse regering in 2003 hom met ‘n Wes-Kaapse Eerbewys en in 2009 ken die Ministerie van Kultuursake en Sport van die Wes-Kaap aan hom ‘n toekenning vir die bevordering van letterkunde aan die agtergeblewe gemeenskappe van die Wes-Kaapland.
Luister na ‘n video-greep van ‘n voorlesing tydens Versindaba 2007.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
