Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 October 2025

Joan Hambidge. Pasolini en opera

 

I

Met ‘n verdere besoek aan Pasolini se film oor Koning Oedipus vra Oedipus:

Waarheen gaan my lewe, waarheen gaan my jeug?

Kreon word gedreig met die dood of verbanning omdat hy die waarheid onthul, soos die blinde Tiresias.

Tussendeur op die skerm tekste in Italiaans met Pasolini as ‘n soort ouktoriale verteller wat sy siening oor die lotgevalle openbaar:

Wat ons nie wil weet nie, bestaan nie, maar dit wat ons wil weet, bestaan wel.

Lyke op oop kiste wat verbrand word. En hier word die Moeslemkultuur geaktiveer. Die boodskapper speel fluit en dieselfde musiek word later herhaal wanneer die blinde Oedipus op ‘n trap sit.

Die kamera fokus op oë en Jokaste beweeg na buite met haar diensmeisies.

Oedipus weier om sy fout te erken dat hy die moordenaar van Laius was en projekteer al sy woede op Kreon.

Jokaste in ‘n verdere toneel onthul die waarheid. Met Pasolini se kommentaar.

Wil alle seuns nie met hul moeders slaap nie?

Met Oedipus wat waansinnig raak met vrees.

‘n Boodskapper bring goeie nuus. Koning Polibus is oorlede en sy seun gaan die opvolger word.

Maar Oedipus se konfrontasie met Laius se dienskneg bring alles tot ‘n keerpunt.

Oedipus ná sy verblinding wens hy het ook sy ore afgesny sodat hy nie kan hoor nie.

Ten slotte, as die blinde bedelaar, roep hy na Angelo wat hom begelei deur ‘n moderne Italiaanse stad. Die spelende kind teenoor die verslaande ouer man.

 

II

In 2016 het ek ‘n libretto geskryf vir ‘n kort opera by Artscape. Op versoek van die dekaan.

Die musiek is gekomponeer deur die bekroonde Adrian More.

Madama Butterfly is gebruik as basisteks: met die twee volksliedere …

Met Kamal Khan as dirigent en Geoffrey Hyland as regisseur.

Dit is vier keer opgevoer met verskillende operasangers van die Universiteit van Kaapstad  se Musiekskool:

  Sangers: Goitsemang Lehobye, Makudupanyane Senaoana, Johan Slabbert, Garth Delport.

 

Anti-Laius

 

Bedryf een

 

In die agtergrond sing Maria Callas “O mio babbino caro” uit Gianni Schicchi van Puccini. ‘n Man, ‘n regsgeleerde, sit by ‘n tafel omring met regsboeke. Die skuifdeur staan oop. Hy werk op sy rekenaar.

‘n Vrou stap in. Sy het ‘n koerant in haar hand. Sy lyk omgekrap.

Vrou:  Daar was weer ‘n aanval in Parys. ‘n Aanval deur terroriste op jou vaderland …

Man: My versaakte vaderland. Ek het my hier kom inburger in jou moederland …

Vrou: En telkemale voor dooiemansdeur gestaan met vadermoord? Onthou jy die man wat jy moes verdedig oor die moord op sy kind?

Man: Die vader het hom in ‘n woedebui doodgemaak. Die kind was slapeloos …

Vrou: Na die hof verdaag het, was hy ‘n vry man. Sy straf was net solank as wat die hof in sitting was …

 

Man: Maar sy straf sal vir altyd duur. Hoe vorder jou opera Laius en Oedipus?

Vrou: Laat ek jou vertel waarmee ek reeds begin het …

 

Oedipus: Waarom haat jy my? Waarom het jy my weggegee?

Laius: Ek haat jou nie – ek  moes jou weggee – jy het my bedreig … jy sou groter word as ek …

Oedipus: Jy het my voete vermink en as dit nie was vir die skaapwagter nie, het ek nie oorleef nie.

Laius: Wat jy nie wis nie, is dat ek ‘n dubbel-lewe gelei het.

Jou aard was duideliker as myne.

Ek het gevrees dat mense sou uitvind van my donker bestaan en dat ek ‘n liefde vir jongelinge had.

 

Oedipus: En hierom het jy my in hierdie ellende gedompel?

Hoekom moes ek grootword in ‘n vreemde huishouding en op 21 jarige ouderdom uitvind dat ek ‘n aangenome kind is …?

 

Laius: En toe maak jy my per ongeluk dood en jy begin ‘n verhouding met jou moeder?

So wie is die grootste oortreder: ek of jy?

 

Oedipus: Sofokles het gesê dat dit beter sou wees as ons nooit gebore was nie …

 

Laius: Maar toe slaan jy my in ‘n woedebui dood. Op ‘n kruispad. Sou jy my doodgemaak het as jy geweet het ek is jou vader?

 

Oedipus: Sou ek met my moeder geslaap het as ek geweet het sy is my moeder?

 

Laius: Plaas jy nou al die skuld op Jokaste?

 

Oedipus: Jy vergeet dat ek blind is …en dat sy dood is … aan haar eie hand. As jy, vader, my nie destyds weggegee het vir die skaapwagter nie, sou ek nie in hierdie hel beland het nie …

 

 

Bedryf twee

 

Man:  Waarom moderniseer jy nie die vadermoord nie? O laat ek jou vertel van ‘n vader wat sy talentvolle seun doodgemaak het …

 

Vrou: O ek weet van wie jy praat … fillicide versus patricide …

 

Man:   Vertel dáárdie verhaal …

 

Vrou: Hoe vertel ‘n mens ‘n verhaal waar beide karakters dood is?

 

Man: Dies Bildnis ist bezaubernd schön … Ek sal vir jou alles wys wat jy behoort te weet … dokumente … briewe … en van die sanger se voorgevoel dat iets verskrikliks gaan gebeur met hom …

 

Vrou: Maar dan is dit nie meer my verhaal nie. Dan vertel ek jóú storie.

 

Man: Die storie behoort nie aan my nie … dis allemansgoed en in die publieke domein.

 

Skryf oor die orde wat versteur word … die vader wat die kind vermoor …

 

Vrou: Hoe weet jy nie dit was ‘n ongeluk nie? Dat die vader dalk by ‘n kruispad gestaan het … dat daar dalk iets gesê is .. “What can glory be, / If high renown be infamy?”.

 

Man: ‘n Woedeuitbarsting? Dalk uitsetting van die plaas? Dalk ‘n rusie oor geld? Dit bly ‘n toe deur … ons het net wonde … “What mind conceive if heaven be hell?”

 

Vrou: En hieroor moet ons marsjeer. In opstand kom. Die vader wat sy kind sukses misgun …

 

Anti-Laius!

 

Man: Je suis Anti-Laius. Ook teen Moslems se terreurdade …

 

Vrou: Maar wat van die Amerikaners wat weer in die Midde-Ooste mense uitwis? Mense wat sien hoe skole afgebrand word en mense vermoor word?

 

Nous sommes Anti-Laius …

 

Man:  Skryf jou opera en ons praat na jou voltooiing hiervan.

 

Ek herinner you aan Shelley se beroemde woorde:

 

The fountains mingle with the river

And the rivers with the Ocean,

The winds of Heaven mix for ever

With a sweet emotion;

Nothing in the world is single;

All things by a law divine

In one spirit meet and mingle.

Why not I with thine?

 

Bedryf drie:                        

 

Die vrou is alleen by die tafel. Op die skerm is daar ‘n foto van ‘n wynplaas.

 

Vrou: Jy het my versaak …  en nou is daar net spekulasie op spekulasie.

“Nothing in the world is single …”

 

Waarom het hy teruggekeer na sy wynplaas? Was daar ongerymdhede?

‘n Gestruwel oor geld?

 

 

Koor: Jy skryf mos iewers:

 

Die siel, onthou ek vanoggend,

is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.

Iets glo soos bottelskok

as dit te gou ontkurk of geskink word.

 

Vrou: Waarom terugkeer na sy vaderland na soveel internasionale aansien?

 

Koor: Versaak deur sy begeleier, dalk?

 

Of op ‘n hoogtepunt vertrek … net soos sy wynplaas wat min, maar goeie wyn lewer …

 

Vrou: Miskien staan die antwoorde opgeteken in al die karakters wat hy vertolk het …

 

Jaquino, Almaviva, Hermes, Belmonte …

 

Die Towerfluit dalk? Mozart se vader het immer gevoel die wonderkind het nooit sy talent genoegsaam ontgin nie …

 

Koor: Spekulasie, spekulasie … wys vir ons die woordestryd.

 

Veenwouden

 

‘n Ouer man en jonger man stoei met mekaar op ‘n trap. Ons sien ‘n wapen.

 

Die jonger man word tweekeer in die bors geskiet. Hierna pleeg die ouer man selfdood. (Dit word nie gewys nie. Ons hoor twee skote en ‘n ruk later ‘n derde skoot).

 

‘n Kort berig flits oor die skerm:

 

Die bekende internasionaal gerekende tenoor, Deon van der Walt is gister op die plaas Veenwouden vermoedelik deur sy vader geskiet. Hy was 47 jaar oud.Van der Walt is tweekeer in die bors geskiet en die vader in sy slaap. Die wapen is langs die vader se lyk aangetref.

 

Die ouer man en sy seun sing ‘n duet:

 

Een keer

het ek jou

probeer troef

en op ‘n party

jou uitgedaag

tot ‘n sangstryd.

 

Uiteindelik seun

moet ek erken

jy is die groter ster …

 

O vader,

as ek net éénmaal,

maar eenmaal

jou applous kon wen

 

was Covent Garden, die Met,

en al die ander segetogte

van nul en gener waarde

van nul en gener waarde …

 

Nou sing ons net

vir ‘n tafel in die hemel …

 

en ons word soos ‘n wynversnit: één.

 

 

Koor:

Dies Bildnis ist bezaubernd schön:

Die stem soos die woord

word nooit doodgemaak nie. Vanaand,

soveel jare na jou afreis,

klink jou stem steeds hélder op. Asof

jy roep na ons, vir begryp en navraag oor

jou ontydige dood. Dit was ‘n anderste vadermoord;

anders as wat Freud meen,

word Oedipus verslaan.

Ek het jou skrams geken: as jongeling

betower jy my met jou vertolkings van Mozart,

en een aand, iewers in Kalkbaai,

by ‘n ete vol innuendo en spanning, troef

jy almal met ‘n hoogste noot vir ‘n verjaarsdagparty,

die tafel neffens ons. Hoe sou húlle ooit

kon raai dat dit dié sanger-van-formaat was

wat saam Happy Birthday to you vertolk,

nes Anne Sofie von Otter, pas toe jou sangmaat,

nuwe lewe gee aan The day before you came.

Nou sing jy vir my op YouTube

betowerend mooi,

wyl foto’s van jou stadig en afgemete

iets van jou ware aard verraai.

Ek kyk in jou oë,

wonder of jou sagte mond

sou uitroep,

protesteer,

oor die onreg jou aangedoen?

Dit is, dit is alles so

betreurenswaardig

dat jy nie meer in lewende lywe,

maar net vir ‘n tafel in die hemel moet sing.

 

 

 

 

Endnote:

 

1.

Hierdie gedig is geskryf deur Joan Hambidge.

Dies Bildnis ist bezaubernd schön:

Deon van der Walt

Die stem soos die woord

word nooit doodgemaak nie. Vanaand,

soveel jare na jou afreis,

klink jou stem steeds hélder op. Asof

jy roep na ons, vir begryp en navraag oor

jou ontydige dood. Dit was ‘n anderste vadermoord;

anders as wat Freud meen,

word Oedipus verslaan.

Ek het jou skrams geken: as jongeling

betower jy my met jou vertolkings van Mozart,

en een aand, iewers in Kalkbaai,

by ‘n ete vol innuendo en spanning, troef

jy almal met ‘n hoogste noot vir ‘n verjaarsdagparty,

die tafel neffens ons. Hoe sou húlle ooit

kon raai dat dit dié sanger-van-formaat was

wat saam Happy Birthday to you vertolk,

nes Anne Sofie von Otter, pas toe jou sangmaat,

nuwe lewe gee aan The day before you came.

Nou sing jy vir my op YouTube

betowerend mooi,

wyl foto’s van jou stadig en afgemete

iets van jou ware aard verraai.

Ek kyk in jou oë,

wonder of jou sagte mond

sou uitroep,

protesteer,

oor die onreg jou aangedoen?

Dit is, dit is alles so

betreurenswaardig

dat jy nie meer in lewende lywe,

maar net vir ‘n tafel in die hemel moet sing.

 

Hierdie vers is opgeneem in Meditasies (Human & Rousseau, 2013).

Dit is vertaal deur Charl JF Cilliers:

Deon van der Walt

The voice, like the word,

is never stifled. This evening,

so many years since your departure,

your voice still clearly resonates, as if

calling to us for clarification of

your untimely death. It was fillicide,

but, in contrast to what Freud thought,

the father vanquished Oedipus.

I never knew you well: as a young man

I was transformed by your renditions of Mozart,

and one evening, somewhere in Kalk Bay,

at a dinner full of innuendo and tension

you held the highest note of all for that birthday party

at the table next to us. How could they ever

have guessed that it was such a distinguished singer

who was singing “Happy Birthday to You”,

like the new breath of life given to “The Day Before You Came”

by your recent partner in song, Anne Sofie von Otter.

Now you sing for me on You Tube

captivating me

while photos of you, slowly, by degrees,

reveal something of your true nature.

I look into your eyes,

wonder if your soft mouth

will call out,

protesting

at the injustice done to you?

It is, it is all so

lamentable

that you are no longer here to sing

except at some table somewhere in heaven.

 

 

  1. Die verhaal van Oedipus en Laius is ‘n klassieke verhaal. Koning Oedipus (Oedipus rex) van Sofokles) vorm die basis van Freudiaanse psigoanalise waar die kind die vader simbolies moet vermoor om ‘n eie identiteit te vind. In hierdie opera word die gegewe ómgekeer: die vader vermoor die seun …

 

  1. Shelley http://www.bartleby.com/106/184.html

 

P.B. Shelly

Love’s Philosophy

I.

The Fountains mingle with the river

And the rivers with the ocean,

The winds of heaven mix for ever

With a sweet emotion;

Nothing in the world is single,

All things by a law divine

In one another’s being mingle—

 

Why not I with thine?

 

II.

See the mountains kiss high heaven

And the waves clasp one another;

No sister-flower would be forgiven

If it disdain’d its brother:

And the sunlight clasps the earth,

And the moonbeams kiss the sea—

What are all these kissings worth,

If thou kiss not me?

 

  1. Vraag

Vir Margaret Rosabel Mezzabotta

 

Ontydig, voortydig jou vertrek

na ‘n ander onbekende oord.

Die siel, onthou ek vanoggend,

is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.

Iets glo soos bottelskok

as dit te gou ontkurk of geskink word.

Jy sou my dadelik kon reghelp:

dit staan in die Egiptiese Boek van die Dood.

Om jou dood te begryp

Is ‘n hiëroglief onontsyferbaar

in ‘n donker gang onbegaanbaar.

Die dood keer woordordes om,

dit laat ons terugkyk, onthou, selfs gryp

na klein momente van die toeval –

soos hoe ek eenmaal jou bril skoongemaak

het, oor duister simbole met jou praat.

Vir hierdie lykwaak, groot gelykmaak,

is ek as digter onvoorbereid,

nee, eerder onbereid.

Die sogenaamde consolatio of vertroosting

van ‘n medium (Kyk, sy stuur ‘n roos)

of die flikker van ‘n kers

maak niks ongedaan nie. Wat beteken ontval.?

Dat jy te vinnig – na my sin –

paradyswaarts

moes gaan. Dat jou siel

oënskynlik sonder voorbereiding

weggeruk is. Dat rose verwelk,

kerse ophou flakker…

Ek wou nog vra:

“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap

sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”

 

(Lykdigte, Tafelberg, 2000).

 

Joan Hambidge

Kaapstad

16 Oktober 2025

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Pasolini en Koning Oedipus
Joan Hambidge. Films en opera: The Godfather →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. XXXIX
  • AVBOB Persverklaring
  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig

Nuutste kommentaar

  1. Cobus van den Berg on Krige Visser. parodie en ironie20 July 2026

    Dankie Krige. Ek lees dit oor en oor….sodat dit kan insink.

  2. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  3. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  4. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d