I
Met die dood van Diane Keaton besoek ek weer Francis Ford Coppola se klassieke en grootse trilogie: The Godfather I, II en III. Gebaseer op Mario Puzo se roman wat in 1969 verskyn het.
Vanselfsprekend weens die puik kinematogrofie. Tonele wat ‘n mens ewig sal bybly: soos die dood van Pacino (Michael Corleone) eensaam met ‘n rondloperbrak dwalend om hom, van mens en God verlate; ‘n moord met ‘n bril; die oopsny van Ciccio se maag deur Robert de Niro (Vito); die dooie perd in die bed van die opponent; die biegtoneel waar Pacino bely, op ‘n indirekte manier, dat hy sy moeder se seun vermoor het (in plaas van die direkte erkenning dat dit sy broer was); die ontploffing van die motor in Sisilië waar Michael se eerste geliefde sterf; Michael wat vir sy broer John Cazale (Fredo) sê jy is nie meer my broer nie en wanneer jy ons moeder besoek, laat weet my ‘n dag vantevore sodat ek nie daar is nie; Diane Keaton (Kay) wat bely hul ongebore seun is nie dood weens ‘n miskraam nie, maar ‘n aborsie; Diane Keaton wat na Al Pacino kyk en ons weet hy lieg oor sy aandadigheid oor die dood van Carlo …
Die raakbyt van ‘n vyand se oor. As jy verraad pleeg, is jy soos ‘n hond. En hoe die vyand gekoggel word, sy kar gekrap word – en vanuit die hoogte van ‘n perd geskiet word. Garcia wat Joey Zasa uithaal, vertolk deur Joe Mantegna.
En uiteraard die slot: met die weemoedige Intermezzo uit Mascagni se Cavalleria Rusticana (1890) waar Pacino getref en dan sy dogter doodgeskiet word op die trappe van die Teatro Massimo.
https://www.youtube.com/watch?v=7OvsVSWB4TI Besoek 19 Oktober 2025
Die gesin, kortstondig verenig in Palermo, Sisilië om die seun, Anthony (Franc D’Ambrosio) te hoor sing in hierdie opera. Die vader wat aanvanklik teen ‘n sangloopbaan gekant is.
Die vertoning, soos die opera, is ‘n vooruitwysing van onheil, ‘n vendetta en liefdesontrou. En die dood met Turiddu wat vermoor word.
Met Pacino se eerste geluidlose skreeu; dan die gil uit sy oopgesperde mond …
Gesinkopeer met Diane Keaton (Kay) se gille en die geliefde neef wat enkele minute gelede die verhouding beeïndig het, wat geskok toekyk: Andy Garcia (Vincent Corleone).
II
In ‘n onderhoud – ‘n ekstra tot die drie films – verduidelik Coppola hoe hy die film gebou het op die roman. Alles uitmekaar gehaal in ‘n groot boek gesit met deurskynende papier. In die kantlyn asteriske en kommentaar oor presies wat hy wil gebruik.
En soos Alfred Hitchcock ‘n storyboard gemaak. Die hele film uitgewerk in tekeninge sodat hy presies geweet het wat hy wil gebruik.
Vir ‘n lang tyd met hierdie leggerboek (prompt-boek) in ‘n dra-sak geloop en in koffiewinkels weer gekyk na tonele. Met asteriske en kommentaar in die kantlyn
Die eerste indrukke van ‘n leser is altyd belangrik, bely Coppola.
Hy verduidelik die proses:
1 is die sinopsis; 2 die tyd, die 1940’s en ‘n periode-drama; 3 beelde en die toon; 4 die soeke na die kern van die verhaal en hier volg hy Elia Kazan se lesing van A Streetcar named desire; 5 gevare wat hy moet vermy soos clichés en te veel eksposisie; 6 ‘n herorganisasie van die boek in ‘n “multi-layered road map”; 7 showing eerder as telling met asteriske waarna hy terugkeer. Hier speel Hitchcock se Psycho ‘n belangrike rol wat informasie gee en só die kyker manipuleer.
Met Puzo is daar onderhandel uiteraard. En Paramount kom toe met hul voorskrifte. O.a was hulle aanvanklik onseker oor Al Pacino. Hy was te klein vir die rol, maar Coppola het voortgedreun.
III
Die eerste film – ek beskou dit as een lang film – is in 1972 verfilm. Die eerste een speel af tussen 1945 en 1955. Die tweede in die trilogie verskyn in 1974 en dek die periode van 1958 met terugflitse na die beginjare van die familie. (Met ‘n herbesoek weer drie, dan twee en dan een gekyk om die verhulde kodes te ontsluit: Pacino, De Niro en Marlon Brando).
Die derde verskyn in 1990. Ook hier is terugflitse. Die tydraam is die laat sewentigs. Soos die dood van Pous Johannes Paulus I in 1978 en die bankskandaal in 1981 – 1982, die sogenaamde Papal Banking scandal wat geaktiveer word.
IV
‘n Film in drie dele wat die hele lewe saamsnoer: familie, afhanklikheid, die rol van die Kerk, die patriargie, vuilspel (die mafia), nydigheid, gulsigheid. En geld wat alles bepaal.
‘n Mens sou al die sewe doodsondes hier kon raaklees.
Sonde en boetedoening.
Skuld en aandadigheid.
Michael Corleone wat nie die bloedspoor wat hy geskep het, kan ontvlug nie.
Presies soos sy vrou gewaarsku het.
V
Maar die kragtigste film is die derde een. Die gebruik van Mascagni se opera, die Cavalleria Rusticana is ‘n interteks:
https://www.operanorth.co.uk/whats-on/cavalleria-rusticana-aleko/#story Besoek 19 Oktober 2025
Hierdie opera van wraak en teenstand – met religieuse toespelings – gebruik Coppola uiters behendig en dramaties. Paasfees. Die kruisiging van Jesus.
Terwyl Kay en Michael (en hul dogter) die opera bywoon om die seun se optrede by te woon, sien ons hoe mense in die operahuis doodgemaak word. Daar is ook vriende en familie. Ook Connie is hier. Die suster van Sonny, Michael en Fredo. ‘n Sentrale figuur wat deelneem aan die uitwissing van vyande. Vertolk deur Talia Shire.
En verder sien ons hoe die pous sterf en die agterbakse bankier vermoor word. Alles goed geteleskopeer.
Die Cavalleria Rusticana werk met fata (noodlot) en dit is dan ook Kay (Diane Keaton) se woorde wat wáár word: Michael gaan ‘n prys betaal. Sy lieflingdogter word doodgeskiet en sterf in sy arms. En haar laaste woorde is:”Dad.”
In hul laaste konfrontasie verbied hy haar om voort te gaan met haar verhouding. Dis haar neef, berispe die vader haar.
Maar dis egter meer as die feit dat hy bekommerd is oor die neef, die bastardo, se liefde vir haar. Hy het inmiddels die figuur tot ‘n Corleone verhef. Een wat sy vuilwerk nou meer as ooit te vore sal moet doen.
Die humeurige bastardo kan nou voortgaan. Hy het ‘n lisensie om dood te maak, terwyl Michael vantevore woedend was oor sy besluite sonder goedkeuring. ‘n Soort oedipale verhouding.
New York teenoor Sisilië. Met die tweeling-torings wat in die derde deel se openingstoneel staan.
‘n Simbool: omineus …
Hierdie rubriek is veral ‘n huldeblyk aan Diane Keaton wat op haar dag romanties verbind was aan Warren Beattie, Woody Allen en Al Pacino. Die subtiele spel tussen hulle is opvallend.
In Sisilië eet hulle saam. Sy bely dat sy altyd sal liefbly vir hom, ten spyte van alles wat gebeur het. Hy op sy beurt hou ‘n mes onder sy keel (in ‘n speelse gebaar) wat vorige ontmoetings aktiveer: dat sy hom eintlik vrees.
En as hy vra om vergifnis, is haar reaksie: ek is nie God nie …
Die konfessie voor die Eminensie het immers gewys (bewys): jy kan net verlossing vind, as jy glo.
En werklik berou het. (Vorentoe in die film merk hy sinies op: “Don’t overestimate the power of forgiveness.”)
Hierdie drie films behandel familieverbintenisse en hoe die Italianers, migrante, in New York leef. Sentimentele musiek, danse, uitbundige feeste, omkopery. Verraad en self-loëning.
Die rol van geloof en die invloed van die Katolieke kerk. En Cavalleria Rusticana beteken Rustic Chivalry.
Inderdaad.
My stel films is by ‘n kerkbasaar gekoop. Hoe ironies.
Joan Hambidge
‘n Korter weergawe het in die gesneuwelde Vrye Weekblad verskyn.
