
It would not have been possible for us to take power or to use it in the ways we have without the radio.
—Joseph Goebbels: All the light we cannot see
Ek was ’n alleenkind, ’n buitestander, maar ek het een goeie vriend gehad: ’n radio. Ek was in standerd 2 toe my ma vir my ’n radio vir my tiende verjaardag gekoop het. Ek het getrou smiddae en saans die programme gevolg – ook al die boekprogramme van 1982, en in die jare daarná.
In die digitale tegnokrasie waarbinne ons leef is die radio een van min analoog-wonders wat onafhanklik bly voortbestaan het. Slimfone het die meeste funksies oorgeneem, byvoorbeeld die neem van foto’s of die gebruik van ’n sakrekenaar, om net twee te noem, die moontlikhede inderdaad is eindeloos – maar die ouwêreldse radio het selfstandig oorleef. Ek dink dikwels aan die gesiglose gehoor van duisende, of miljoene mense wat na ’n uitsending luister. Baie van hierdie luisteraars is al jarig, of alleen – en in my geestesoog sien ek hulle sit op die rand van ’n bed, by ’n kombuistafel … Mense wat alleen saam is, ingestel op dieselfde frekwensie en waar blote klank die visuele – die teater van die verbeelding – aktiveer. My ouma het altyd gesê haar radio is haar enigste geselskap, en my oumagrootjie het saans, by name, vir die radiokarakters van die Du Plooys van Soetmelksvei gebid, want vir haar was dit reëel; die mense in die radioboks het wérklik bestaan. As eensaamheid ’n huisvriend kon hê, sou dit vir seker ’n radio wees. Dit bly steeds ’n magiese instrument en te midde van die feit dat mens daagliks gebombardeer word met toeps en opdaterings van digitale toestelle, is ’n radio wonderbaarlik simplisties.
Gedurende WOII het die radio groot tegnologiese vooruitgang ondergaan. Die Nazi’s, en spesifiek die Ryksminister van Propaganda, Joseph Goebbels het duidelik besef wat se kragtige propaganda-instrument ’n radio is. Dit is waarskynlik in die hedendaagse tyd waarin ons leef vergelykbaar met Fox News, wat ’n mondstuk vir Trump se MAGA-beweging is.
Daar is twee romans (beide verwerk tot filmproduksies) wat die rol van die radio as magiese, maar ook gevreesde instrument tydens WOII beskryf, naamlik All the light we cannot see deur die Amerikaanse skrywer Anthony Doerr (2014), en Jacob the liar (1969) deur Jurek Becker.
Eersgenoemde het die Pulitzer-Prys vir fiksie (2015) ontvang.
All the light we cannot see speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog en spil rondom die karakters Marie-Laure LeBlanc, ’n blinde Franse meisie wat skuiling soek in haar groot-oom se huis in Saint-Malo nadat Parys deur Nazi-Duitsland binnegeval is, en Werner Pfennig, ’n briljante Duitse weeskind wat danksy sy vaardighede in radiotegnologie in ’n militêre skool opgeneem word. Die boek wissel tussen parallelle hoofstukke wat onderling Marie-Laure en Werner se verhale vertel, met ’n nie-lineêre verhaalstruktuur. Die skryfstyl is liries en poëties, en die uitgebreide sensoriese detail opvallend. Die verhaal besin oor die etiek van die verwoestende aard van oorlog, maar ook Doerr se fassinasie met die wetenskap en natuur.
Toe Nazi-Duitsland Frankryk in 1940 binneval, vlug Marie-Laure na die kusdorp Saint-Malo om skuiling te soek by haar groot-oom, Etienne, ’n teruggetrokke Eerste Wêreldoorlog-veteraan wat aan PTSS ly en sy tyd verwyl met die uitsaai van opvoedkundige klankopnames dwarsoor Europa.
Madame Manec, Etienne se huishoudster, raak betrokke by die Franse Weerstandsbeweging. Maar ongelukkig raak sy ook siek en sterf. Marie-Laure en Etienne sit Madame Manec se werk voort deur die Weerstandsbeweging te help om geheime en gekodeerde boodskappe via radio-uitsendings te stuur. Etienne word uiteindelik gearresteer en na Fort National gestuur op grond van (valse) klagtes van terreur.
In Nazi-Duitsland, op sy beurt, is Werner Pfennig ’n weeskind, woonagtig in ’n Katolieke jeugsorgsentrum in die steenkoolmyndorp, Zollverein. Hy is besonder intelligent en beskik oor ’n natuurlike aanleg vir die bou en herstel van radio’s. Hy ontdek hierdie vaardigheid vir die eerste keer in 1934 op agtjarige ouderdom toe hy en sy jonger suster Jutta ’n stukkende radio opgetel, herstel, en gebruik het om na wetenskap- en musiekprogramme te luister wat dwarsoor Europa uitgesaai is. Dit was spesifiek die opvoedkundige programme van ’n naamlose Franse professor wat die twee weeskinders geboei het. Ek haal aan uit die roman:
“Together they smuggle the wire home and loop it back and forth through nail holes in the eave outside the attic window. Then they attach it to their radio. Almost immediately, on a shortwave band, they can hear someone talking in a strange language full of z’s and s’s. “Is it Russian?”
Werner thinks it’s Hungarian.
Jutta is all eyes in the dimness and heat. “How far away is Hungary?”
“A thousand kilometers?”
She gapes.
Voices, it turns out, streak into Zollverein from all over the continent, through the clouds, the coal dust, the roof. The air swarms with them. Jutta makes a log to match a scale that Werner draws on the tuning coil, carefully spelling the name of each city they manage to receive. Verona 65, Dresden 88, London 100. Rome. Paris. Lyon. Late-night shortwave: province of ramblers and dreamers, madmen and ranters.
After prayers, after lights-out, Jutta sneaks up to her brother’s dormer; instead of drawing together, they lie hip to hip listening till midnight, till one, till two. They hear British news reports they cannot understand; they hear a Berlin woman pontificating about the proper makeup for a cocktail party.
One night Werner and Jutta tune in to a scratchy broadcast in which a young man is talking in feathery, accented French about light.
The brain is locked in total darkness, of course, children, says the voice. It floats in a clear liquid inside the skull, never in the light. And yet the world it constructs in the mind is full of light. It brims with color and movement. So how, children, does the brain, which lives without a spark of light, build for us a world full of light?
The broadcast hisses and pops.
“What is this?” whispers Jutta.
Werner does not answer. The Frenchman’s voice is velvet. His accent is very different from Frau Elena’s, and yet his voice is so ardent, so hypnotizing, that Werner finds he can understand every word. The Frenchman talks about optical illusions, electromagnetism; there’s a pause and a peal of static, as though a record is being flipped, and then he enthuses about coal.
Consider a single piece glowing in your family’s stove. See it, children? That chunk of coal was once a green plant, a fern or reed that lived one million years ago, or maybe two million, or maybe one hundred million. Can you imagine one hundred million years? Every summer for the whole life of that plant, its leaves caught what light they could and transformed the sun’s energy into itself. Into bark, twigs, stems. Because plants eat light, in much the way we eat food. But then the plant died and fell, probably into water, and decayed into peat, and the peat was folded inside the earth for years upon years—eons in which something like a month or a decade or even your whole life was just a puff of air, a snap of two fingers. And eventually the peat dried and became like stone, and someone dug it up, and the coal man brought it to your house, and maybe you yourself carried it to the stove, and now that sunlight—sunlight one hundred million years old—is heating your home tonight . . .
Time slows. The attic disappears. Jutta disappears. Has anyone ever spoken so intimately about the very things Werner is most curious about?
Open your eyes, concludes the man, and see what you can with them before they close forever, and then a piano comes on, playing a lonely song that sounds to Werner like a golden boat traveling a dark river, a progression of harmonies that transfigures Zollverein: the houses turned to mist, the mines filled in, the smokestacks fallen, an ancient sea spilling through the streets, and the air streaming with possibility.”
Die klaviermusiek waarna verwys word, is Debussy se Clair de lune, wat skakel met die middernagtelike opvangs van die professor se programme; die magiese teenwoordigheid van die maan, asook die spel tussen lig en donker in die skemer- en newelwêreld van ’n maanverligte nag.
In 1940 kom die Nazi’s te hore van Werner, die Wunderkind, wat vir hom ’n plek in die Nasionale Politieke Instituut vir Onderwys by Schulpforta, ’n streng staatskosskool wat Nazi-waardes onderrig, besorg.
In Schulpforta begin Werner om in radiotegnologie te spesialiseer onder leiding van professor Hauptmann. Twee jaar na sy inname in dié elite skool vra Werner om Schulpforta te verlaat, maar prof Hauptmann jok oor Werner se ouderdom en oorreed Nazi-amptenare om hom na die weermag te stuur.
Werner word in ’n Wehrmacht-eenheid geplaas, te wete ’n gespesialiseerde radio-korps wat deur Europa reis om onwettige en vyandelike seine op te spoor. Toe die eenheid Saint-Malo bereik, spoor Werner Etienne se sein op. Hy herken die stem en musiek as dié van die misterieuse professor, wat die wetenskapprogramme wat hy in die weeshuis geluister het, uitgesaai het, en hy verklaar nie die verbode sein nie. Hy volg dit tot by Etienne se huis en raak betower deur Marie-Laure toe hy haar by ’n bakkery sien ingaan. Hy besluit om dié sein geheim te hou en vir die res van die eenheid te weg te steek – want die radioprogramme van sy jeug was al wat ooit vir hom sinvol, suiwer en betowerend was. Insgelyks het Marie-Laure as jong kind, toe woonagtig in Parys, na die professor se magiese programme geluister – min wetend dat die misterieuse professor inderwaarheid haar groot-oom, Etienne was.
’n Groot gedeelte van All the light we cannot see van speel af in Saint-Malo. Toe die Verenigde State se magte in Augustus 1944 Saint-Malo beleër, skuil Marie-Laure in die solder. Sy gebruik haar oom Etienne se sender om hulp te ontbied deur self uit te saai, terwyl sy ’n braille-weergawe van Jules Vernes se wetenskapsfiksieroman, Twenty thousand leagues under the seas voorlees. Die roman het gekodeerde boodskappe vir die Geallieerdes bevat, en Marie-Laure, haar blindheid ten spyt, word ook ’n dapper lid van die Franse Weerstandsbeweging.
Intussen val Werner en ander soldate vas onder ’n hoop puin in ’n kelder nadat die Amerikaanse magte die hotel, waarin hulle bly, gebombardeer het. Hy ontdek en herstel ’n radio in ’n poging om hulp te kry en die spoor lei hom tot by Marie-Laure se uitsendings. In stede om haar te vervolg, gaan hy na haar huis om haar te red.
In All the light we cannot see is die radio ’n baken van hoop in ’n wêreld wat deur oorlog verwoes is. Vir Marie-Laure, wat haar sig op ’n jong ouderdom verloor het, word die radio ’n venster op die buitewêreld. Die radio bring nie net nuus en musiek nie, maar ook die stemme van diegene wat weier om stil te bly in die aangesig van onderdrukking en totalitêre mag. Dit is as gevolg van ’n radio dat Marie-Laure en Werner se paaie gekruis het, al is dit aanvanklik indirek. Beide karakters het na die misterieuse professor se programme, wat oor wetenskaplike wonders en filosofiese idees gehandel het, geluister; en wat aan beide ’n gevoel van menslikheid in ’n andersins uitsiglose bestaan gebied het. Die roman wemel van die poëtiese beskrywings van ’n radio, wat amper ’n hipnotiese kwaliteit aanneem:
“Werner likes to crouch in his dormer and imagine radio waves like milelong harp strings, bending and vibrating over Zollverein, flying through forests, through cities, through walls. At midnight he and Jutta prowl the ionosphere, searching for that lavish, penetrating voice. When they find it, Werner feels as if he has been launched into a different existence, a secret place where great discoveries are possible, where an orphan from a coal town can solve some vital mystery hidden in the physical world.”
Die radio simboliseer dus ’n brug tussen mense wat deur oorlog, nasionaliteit, chaos en geografiese grense heen geskei is. Dit verbind die geïsoleerde en blinde Marie-Laure met die wêreld, en gee vir Werner ’n glimp van ’n lewe buite die Nazi-propaganda wat sy jeug oorheers. In hierdie sin is die radio ’n simbool van die menslike behoefte aan konneksie, en die krag van idees om grense te oorskry. All the light we cannot see word uiteindelik ’n oproep tot bewussyn – wat die radio as medium inspan – aangesien dit die onsigbare, soos klankgolwe, sigbaar maak deur verbeelding en kennis.
Die radio speel ook ’n sleutelrol as ’n instrument van weerstand teen Nazi-onderdrukking. Etienne se geheime uitsendings vir die Franse Weerstandsbeweging is ’n daad van moed en verset, wat die risiko van ontdekking inhou. Dit was onwettig vir die Franse Weerstandsbeweging om radio-uitsendings te maak of daarna te luister. Die Nazi’s het streng beheer uitgeoefen oor kommunikasiekanale, insluitend radio’s, om die verspreiding van anti-Nazi-propaganda, weerstandsboodskappe en Geallieerde inligting te voorkom. Die straf vir die maak van onwettige uitsendings was swaar: gevangenisstraf, marteling, deportasie na konsentrasiekampe of teregstelling.
Vir Marie-Laure word die radio ’n manier om aktief deel te neem aan die oorlog, ten spyte van haar blindheid en haar jeug. Wanneer sy later in die roman self die radio gebruik om boodskappe uit te saai, word sy ’n stem van hoop vir die Geallieerde magte, wat ook die krag van die individuele stem beklemtoon.
Terselfdertyd is die radio nie net ’n simbool van die goeie nie. In die hande van die Nazi’s word dit ’n wapen van propaganda en beheer. Werner, wat sy talent vir radiotegnologie gebruik om vir die Duitse weermag te werk, word gedwing om radio’s te gebruik om Geallieerde uitsendings op te spoor, wat indirek lei tot die vernietiging van weerstandsnetwerke. Hierdie dubbelsinnigheid van die radio – as ’n instrument van beide vryheid en onderdrukking – weerspieël die morele kompleksiteit van die karakters se keuses in die roman. Dit beklemtoon Doerr se tema dat tegnologie nie inherent goed of boos is nie; dit is die menslike bedoeling in die gebruik daarvan wat die betekenis bepaal.
Die radio word dus ’n simbool van die “lig” soos in die titel van die roman verwys word – die onsigbare krag van idees, verbeelding en waarheid wat as triomf van die menslike gees seëvier.
Die mistifikasie van die radio in WOII is ’n dominante subteks tot All the light we cannot see. Ek stel weer vir Werner, die briljante outodidak, aan die woord:
“Werner’s mind drifts; he is thinking about the book in his lap, The Principles of Mechanics by Heinrich Hertz. He discovered it in the church basement, water-stained and forgotten, decades old, and the rector let him bring it home, and Frau Elena let him keep it, and for several weeks Werner has been fighting through the thorny mathematics. Electricity, Werner is learning, can be static by itself. But couple it with magnetism, and suddenly you have movement—waves. Fields and circuits, conduction and induction. Space, time, mass. The air swarms with so much that is invisible! How he wishes he had eyes to see the ultraviolet, eyes to see the infrared, eyes to see radio see radio waves crowding the darkening sky, flashing through the walls of the house.”
Asook:
“Radio: it ties a million ears to a single mouth. Out of loudspeakers all around Zollverein, the staccato voice of the Reich grows like some imperturbable tree; its subjects lean toward its branches as if toward the lips of God. And when God stops whispering, they become desperate for someone who can put things right.”
En van ’n magiese, na ’n mitiese radio tydens WOII. Jacob the lair (oorspronklik Jakob der Lügner, 1969), geskryf deur die Joodse skrywer Jurek Becker, is ’n aangrypende roman wat afspeel in ’n ghetto in die Nazi-besette Pole tydens WOII. Die verhaal spil rondom Jakob Heym, ’n Pools-Joodse winkelier wat in die benarde en uitdagende omstandighede van ’n ghetto probeer oorleef. Wanneer Jakob per ongeluk ’n verbode radio-uitsending hoor, wat hoopvolle nuus oor die oorlog bring, begin hy gerugte oor moontlike bevryding te versprei om die moraal van sy mede-ghetto-slagoffers te lig. Hierdie “leuens” gee die slagoffers tydelike hoop, maar laat Jakob met ’n morele dilemma, aangesien hy nie die waarheid oor die oorlog praat nie. Hy gee voor dat hy ’n geheime radio het, uiteraard ’n leuen, en sy stories oor die hulp wat op pad is, is suiwer fabrikasies.
Die roman ondersoek temas van hoop, oorlewing en die krag van narratiewe in die aangesig van wanhoop. Becker, self ’n oorlewende van die Holocaust, het die roman deels op sy eie ervarings gebaseer. Die verhaal het ’n oop einde, en tussen die roman en die filmproduksie is daar drie moontlike uitkomste:
Jakob en die ander in die ghetto word gedeporteer, en die verhaal impliseer dat hy, soos die meeste, in die kamp sal sterf. Jakob se stories was met ander woorde leuens. Óf: Die ghetto word bevry deur die Rooi Leër, en Jakob se leuens blyk ’n profetiese waarheid te wees. Óf: Jakob word uiteindelik deur die Nazi’s gearresteer vir sy ‘onwettige radio’, en wreed tereggestel. Dit laat die leser/kyker met die etiese dilemma of sommige leuens werklik verkeerd is – en wat as leuens hoop bring, want baie van die ghetto-inwoners het juis oorleef as gevolg van die intrinsieke hoop wat Jakob se leuens gebring het? Die krag van ’n oorlogsradio – al is dit denkbeeldig – word voorts deur hierdie roman beklemtoon.
Die rimpeleffek van ’n magiese radio tydens WOII is ook in Suid-Afrika gevoel. In die onderstaande gedig en jeugherinnering besoek Dolf van Niekerk die dorpie, Edenburg, waar hy grootgeword het. Die historiese posisionering van die gebeure is 1945.
17
Kinders luier voor die winkeldeur,
verwonderd oor die soort musiek
wat uit ’n kas na hulle kom; tussendeur
’n radio wat kraak en loei soos een
golflengte oorgly na ’n ander tot ’n growwe stem
oor steurings heen tot in die straat drie
woorde noem: atoombom, Hirosjima, Nagasaki.
Die kinders skrik hulle stil; oorlogsgedagtes
swerm terug in die brein – prente van murasies
en rook en kinders wat vlug of uitgestrek
in strate lê, vroue wat by lyke ween.
Alles is ver, gebeur elders op aarde
maar woord en beeld het nabymens geword
en hartseer ken nie ligging nie.
Die radio raak stil; uit die kas se onsigbare mond
kom die helder stem van Tito Schipa
en onverstaanbaar pleit hy oor una furtima lagrima. (21)
Dolf van Niekerk. Nag op ’n kaal plein, 2006
Dit het my geluk om dié uitsending van Schipa op YouTube op te spoor; en dít is waarskynlik wat die kinders in bostaande gedig gehoor het, natuurlik net met meer lugsteurings:
https://www.youtube.com/watch?v=y3x8knZaHCE
Verwysing:
Doerr, A. All the light we cannot see. New York: Scribner.

En toe saai die Nazis uit al die pad tot hier en in Afrikaans ook om die Boere te oor tuig dat hulle alles is!
Nini, dis ‘n lieflike artikel, baie dankie!