Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
24 October 2025

Resensie: “Lostorring” (Jadrick Pedro)

 

 

 

Resensie: Lostorring deur Jadrick Pedro. Turksvy Publikasies, 2025

Resensent: Nini Bennett-Moll

 

I

Jadrick Pedro se jongste bundel, Lostorring handel oor die verwerking van huishoudelike geweld en seksuele trauma. Perdro se eerste twee bundels was selfpublikasies, en versamelbundels waarin sy werk opgeneem is, sluit in: Digterstemme 2020 (Minimal Press) en In woorde gebaar (Die Mengelmoesdigters). In 2021 is hy as die wenner van die Hugh Hodge Poetry in McGregor Award aangewys by die oop-mikrofoon-geleentheid vir sy gedig “Pa”. In 2022 behaal hy die tweede plek in die Afrikaanse afdeling van Poetry in McGregor se digkunskompetisie. Hy deel graag sy werk by feeste soos die Tuin van Digters in Wellington en die Adam Small Fees in Pniel.

 

II

Suid-Afrika word wêreldwyd beskou as een van die lande met die hoogste vlakke van geslagsgeweld en kindermishandeling, ’n krisis wat deur president Cyril Ramaphosa as die land se “tweede pandemie” beskryf is tydens verskeie toesprake (of “familievergaderings”: 17 Junie 2020, 25 November 2020, en 11 April 2025).

Volgens ’n studie deur die UBS Optimus Foundation is bevind dat 35,4% van Suid-Afrikaanse adolessente ’n vorm van seksuele mishandeling ervaar, wat beteken dat minstens een uit elke drie kinders in hul leeftyd met hierdie trauma te doen kry. Kinders tussen 14 en 17 jaar is besonder kwesbaar, met ’n hoë risiko vir herhaalde mishandeling, wat kan lei tot langtermyneffekte soos posttraumatiese stresversteuring, angs en depressie.

Die Human Sciences Research Council se eerste nasionale studie oor geslagsgeweld, vrygestel in November 2024, toon dat 36% van vroue ouer as 18 jaar in hul leeftyd fisieke of seksuele geweld ervaar het, met 24% wat geweld deur ’n bekende manspersoon ná aan hulle gerapporteer het. Die vrouemoordkoers in Suid-Afrika is 24,6 per 100 000 mense, ses keer die wêreldgemiddeld.

Staats- en burgerregte-organisasies laat slagoffers in die steek weens ontoereikende implementering van wetgewing, onderbefondsing, ’n gebrek aan vertroue in die regstelsel, en beperkte voorkomingsprogramme.

Om hierdie pandemie aan te spreek vereis ’n multifokale benadering wat bestaande kultuurnorme soos patriargale onderdrukking uitdaag, befondsing vir NGO’s verhoog, polisie-opleiding verbeter, en vroeë ingryping bevorder.

Die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika is deel van ’n jaarlikse internasionale bewusmakingsveldtog wat tussen 25 November en 10 Desember plaasvind. Hierdie veldtog fokus op die bekamping van geweld teen vroue en kinders en word in Suid-Afrika ondersteun deur die regering, burgerlike organisasies en gemeenskappe. Dit sluit bewusmakingsprojekte, optogte en voorligting in om geslagsgeweld, asook kinder- en vrouemoord aan te spreek.

Seksuele geweld teen seuns in Suid-Afrika is ’n ernstige probleem, maar dit word dikwels ondergerapporteer weens stigma, skaamte en kulturele norme wat van mans en seuns verwag om “sterk” te wees en nié slagoffers nie. SAPD-data onderskei nie altyd tussen die seksuele geweld tussen seuns en dogters nie, maar nasionale opnames dui daarop dat seuns ongeveer 10-20% van kinderslagoffers van seksuele misdade uitmaak, met ’n hoër voorkoms onder adolessente seuns.

 

III

Lostorring se voorplat toon ’n glasgefiltreerde (glass filtered) beeld van ’n jongman se agterkop. Reeds met die omslagontwerp word die splitsing van die spreker se identiteit gesuggereer: dié betrokke foto op die voorplat is dan ook ’n gewilde keuse van grafika wat gereeld voorkom op webtuistes wat sielkundige steurnisse bespreek.

Geweld, seksuele aanranding en die trauma en dood van geliefdes vorm die vernaamste tematiek in Pedro bundel. Gedigte oor ’n gewelddadige – en ook afwesige – vader kom insgelyks voor.

Die onderliggende logika aan die bundel is die dekonstruksie en rekonstruksie van die spreker se identiteit. Hy lê homself volledig bloot op die lesersaltaar; met sy gedigte sloop hy homself tot op ’n punt wat dit amper ondraaglik raak, dan kom die keerpunt en kentering op p. 54 (“Niemand tot iemand”), wat dui op ’n bekering na die Christelike geloof.

Om losgetorring te word, skep assosiasies van ’n spreker wat homself losmaak en weerloos en onbeskut voor die leser staan. Op die agterplat beweer Diana Ferrus ook tereg: “Baie mense vra hulself af wie die stywe omhulsel gaan lostorring waarin die samelewing hulle vasvang. In hierdie bundel bevry die digter homself met digkuns, rou en onpretensieus. Hy het ’n natuurlike aanleg vir woorde, ritme en metafore.”

“Lostorring” roep insgelyks suggesties van die een of ander onthulling, of openbaring, voor die oog; dit is die uitmekaarhaal van ’n geheel. En dít is wat Pedro met hierdie aangrypende, dog deprimerende bundel doen: Hy gebruik digterlike taal om sy verwonding te verwerk. Die bundel is as geheel ’n katarsis en verskeie soorte trauma word aangespreek, soos die spreker se molestasie as jong seun (30) en seksuele geweld, óók aan die hand van sy eie vader (33). Die moeder, wat uiters gewelddadig aangerand word deur die spreker se alkoholis-pa (22), is die enigste anker in sy uitsiglose en brandarm bestaan. Ongelukkig sterf sy toe hy slegs 11 jaar oud was (25), en die leser lei af dat die kerk en welsyn ingegryp het in die jong spreker se lewe (14). Daar is verse wat handel oor die dood van ’n oupa (36), asook die spreker se onthulling dat hy gay is en ’n onvervulde lewe, gekenmerk deur promiskuïteit, lei (43). Verdere temas sluit in die spreker se depressie (42) en dwelmmisbruik (29). Die leser verneem voorts van die spreker se jonger broer, wat op tien dae oorlede is (49).

Die aanbod van die gedigte is eksplisiet en grafies, en Pedro draai geen doekies om nie – dit is juis die direkte en helder, ongefiltreerde skryfstyl wat die aandag vestig op die viktimisasie van seuns en mans. Dít is die uiteindelike spil waarom die bundel draai: ’n jongman, afkomstig uit ’n gemarginaliseerde gemeenskap en in ’n land waar daar soveel geweld teenoor kinders voorkom, “praat uit” oor die pyn van mishandeling wat hy as seun ervaar het. Onderliggend aan al hierdie trauma lê die ontgogeling van volwassewording. Die gedigte is geskryf as praatpoësie, met weinig digterlike tegniek afgesien van woordspel, metafore en soms terloopse rym.

’n Formele rubrisering ontbreek. In stede hiervan het die bundel as geheel ’n narratiewe onderbou. Daar is ’n begin, opbou, eksposisie, afloop en slot, soos dit ook in die geval van ’n ‘gewone’ narratief is. Maar die bundelnarratief verkeer ongelukkig nie in ewewig nie. Die afloop geskied te vinnig en te maklik, te abrup; en die narratief snel na die einde met die slotgedig, ”Hunkering na spraakvryheid” (59-60). Daar is wel enkele natuurgedigte wat op die suiwering en berusting van die spreker, wat soveel trauma verduur het, dui, maar dit oortuig nie. Die bundel sou kon baat met ’n duideliker meer omvangryke ontknoping ná so ʼn katarsis.

Uiteindelik is Jadrick Pedro se bundel onverbloemde belydenispoësie wat die leser aan die hand neem na die ongenadige wêreld van ’n brandarm gemeenskap waar huishoudelike geweld en seksuele trauma deel van die alledaagse lewe is. Dit is verse wat tegelykertyd skok, ontstel en fassineer.

Hierdie bundel is nie vir sensitiewe lesers nie, alhoewel lesers se toleransie jeens leesstof mog verskil. Die gedigte word ’n meedoënlose bestekopname van die pyn in ’n gebroke huis, maar te midde van die somberheid en volgehoue katarsis, breek die lig uiteindelik deur in verse wat die spreker se veerkragtigheid van gees en selfontdekking boekstaaf.

Pedro se presiese taalgebruik is afgestem op die visuele, wat die leser dwing om die gruwels te aanskou. Die belydeniskarakter van die poësie maak dit pynlik intiem, tog is daar krag in Pedro se weiering om weg te kyk, byvoorbeeld:

 

Geheimhouding

 

van agter het jy

jou hande gevou

om my

my mond toegedruk

my kop in die grond gedruk

’n kloppende

ereksie

in my opgedruk

 

ek het gesê: “nee!”

ek wou skree

maar sag fluister jy:

“dit is ons geheim”          (31)

Die tema van die spreker se identiteit as gay man word in die bundel vervleg, soms as ’n strewe na vryheid, en soms as ’n dieper laag van kwesbaarheid in ’n gemeenskap wat homofobies is.

 

Ek

 

my lewe loop twee rye spore

die een in die ander verlore

 

manlik nie bevoeg nie

man, nie mans genoeg nie

 

die vervloekte kind

aan die moffiestigma gebind

 

trotseer die waarheid wat kom

met ’n treurige glimlag stom

 

maar voor ek sterk kon staan

gryp skadu’s my aan

 

met homofobiese haat

wat talle letsels laat

 

al is ek so gebore

in seksualiteit verlore

 

met stywe-pinkie-sindroom

flambojant en vroom

 

amper manlik, amper vroulik

 

is ek steeds sonder geluk

al hoe dieper in die kas gedruk             (12)

 

Hierdie verkenning van seksualiteit is nie sonder teenstrydighede nie – dit is beide ’n rebellie teen sy trauma, maar ook ’n desperate soeke na betekenis. Tog is Pedro se werk nooit selfbejammerend nie en eerder ’n jukstaposisie van gedigte wat wissel tussen broos en brutaal.

Ná die katarsis beweeg die spreker na selfaanvaarding. In die slotgedig, “Hunkering na spraakvryheid” (59-60) maak sy selfverwesenliking van dié bundel méér as net ’n litanie van pyn – dit word ’n getuienis van oorlewing. Die laaste gedig is dan ’n ars poëtikale besinning waarin die spreker vryheid en verlossing deur middel van sy digterskap ervaar.

Pedro se belydenispoësie dwing ons om die realiteite van huishoudelike geweld en seksuele trauma in Suid-Afrika se arm gemeenskappe te konfronteer, terwyl dit terselfdertyd die kompleksiteit van identiteit en genesing verken. Die spreker, wat in verskeie opsigte ’n gemarginaliseerde jongman is, gee met dié bundel ook ’n stem aan ander wat in soortgelyke posisies verkeer, hetsy gay, verwond of in deelsaam aan ’n brandarm gemeenskap (“Die lokasie van my hometown”: 51-52).

As antidoot tot soveel verwonding, lewer Lostorring ook ’n kwota nostalgiese en aangrypende gedigte, byvoorbeeld:

 

Mamma, ons onthou

 

in ’n woestyn van armoede

was jou soetsuurdeegbrood

soos manna uit die hemel

jou gedempte fluitmelodie

’n trooslied in ons harte

jou tong-in-die-kies-dae

ná die hooglig van jou elmboog

ons skaterlag-oomblikke

jou handsak ’n skatkis vol onthou

en vandag, Mamma, onthou ons jou

met jou voosgebrande overall

en twaksak in jou trui se mou

maar bo dit alles

jou wit kopdoek

en die bleek van jou dood                      (26)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nini Bennett-Moll. Die rol van die magiese en mitiese radio van WOII.
Nini Bennett-Moll. Die ambivalensie van selfdood →

2e gedagtes oor “Resensie: “Lostorring” (Jadrick Pedro)”

  1. Rina Cascione says:
    28 October 2025 at 13:32

    Puik resensie Nini! Dankie ook vir die agtergrond informasie.

    Reply
  2. Koos de Wet says:
    25 October 2025 at 18:16

    Skitterende en bloot ontwortelde resensie oor ‘n problematies-aktuele tema. Deeglik. Mens sal Lostorring moet lees as jy die essensie van hierdie ingrypings wil ophou veroordeel sonder die nodige insig. Dankie Nini.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot
  • Krige Visser. die wedstryd op Marchand

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d