
Fourie, geluk met jou jongste, aangrypende bundel.
Joan Hambidge (JH)
Jy is ’n uitgewer en digter. Jy is die skrywer van die bundels Donkerkamer (2011), benoem vir die Ingrid Jonkerprys, en Krap uit die see (2017). Van jou werk is opgeneem in Nuwe Stemme 4, Versindaba 2010 en Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Jy is eweneens opgeneem in Nogmaals vir die bysiende leser, gedigte vir Wilma Stockenström (redd. Joan Hambidge en Marlies Taljard) uitgegee deur Naledi, 2025. Vertel vir ons hoe die werk van die uitgewer, redigeerder dalk ’n invloed het op jou digkuns?
Fourie Botha (FB)
My wêreld, my verwysingsraamwerk, is dié van boeke maak en die publikasieproses, die boek as objek. So bietjie soos Johann de Lange skryf in “Vismot”: “Wakker lank na middernag / fladder ek rusteloos tussen blaaie, / lig & poeierig soos ’n vismot / wat blinkerig afgee / aan ‘Die Hond van God’”.
So, my day job het ’n invloed op sowel die inhoud as die vorm van die digbundels. In Donkerkamer is daar byvoorbeeld gedigte oor foto’s in ’n boek deur fotojoernalis John Liebenberg, Bush of ghosts, wat verskyn het maande ná ek by Umuzi as redakteur begin werk het. In dieselfde bundel skryf ek ’n gedig oor ’n tipograaf (“Dood van ’n tipograaf”). In Krap uit die see is daar eweneens ’n gedig, “Dood van ’n redakteur”. Eersgenoemde is ingegee deur ’n uitlegkunstenaar – sy naam ongelukkig reeds uit my geheue gesuig – wat tydens ’n boekprojek tot sterwe gekom het. Daar was ’n geskarrel om ’n halfvoltooide uitleg op sy rekenaar te vind. “Dood van ’n redakteur” verwys na die moord op Juliet Haw, ’n vryskutter saam met wie ek gewerk het.
Ek is puntenerig oor hoe my bundels saamgestel word. Ek het vir maande lank my hande gewring oor die volgorde van gedigte in Kolam. Soos met die lees van ’n roman, het ek myself oortuig dat bundels sag begin, opbou na ’n klimaks; daarna kom ’n afloop. Dit is vir my belangrik watter gedigte op die verso en watter op die rekto verskyn. Soos uitlegkunstenaars van ouds kom die beter gedigte meestal regs, die korter, kleiner gedigte links. My eie redakteur, Joan-Mari Barendse van Protea Boekhuis, het my met groot geduld ook toegelaat om te sê hoe ek die boek se voorwerk wil hê.
Om self ’n boek te skryf, hou ’n redakteur nederig. Jy bloos vir die spel- en tikfoute, die inkonsekwenthede wanneer jy die manuskrip lewer. My redakteur en proefleser was die vangnet wat ek gewoonlik vir skrywers probeer wees. Maar ek probeer ook die streep duidelik trek: die uitgewer het die laaste sê oor dinge soos die omslag en die boek se tipografiese versorging en ek probeer myself goed gedra!
JH
Jy skryf ’n uiters behendige gedig met spaars of min woorde. Uiteindelik waaier dit uit na ander digters (soos veral Walt Whitman), reise na verre plekke (soos Indië), verwerkings van ander skrywers soos in “Besetenes in die tuinsering” (Alejandra Pizarnik se “Los poseídos entre lilas”), liefdesgedigte, ’n terugkeer na die jeug, ’n ondersoek na die sogenaamde idille, aktualiteitsverse, ekfrastiese gedigte, verse oor blomme, o.a., wat getuig van ’n besondere kennis van die digkuns en al die tegnieke. Hoe navigeer jy die verskillende stylsoorte?
FB
Soos baie ander digters werk ek soos ’n kraai. Ek soek blink goedjies uit om na my nes te dra, sonder ’n fyn uitgewerkte strategie. Dan verweef jy die spulletjie tot ’n soort geheel en hoop die bundel is meer as die som van sy dele. Margaret Atwood verduidelik dis hoe sy haar Empson-lesings by Cambridge benader het, wat later as die boek Negotiating with the dead versyn het. Maar daar is tog ook ’n soeke na ’n soort balans. Ek het byvoorbeeld die vertaling van die stuk deur Alejandra Pizarnik ingesluit in ’n afdeling waar meer drogbeelde, meer waansin nodig was.
’n Vaster vorm pas by my persoonlikheid. Ek kompartementaliseer die verskillende dele van my lewe. Ek hou daarvan om emosies, verhoudings e.d.m. geskei te hou en te orden. Dit is ’n eienskap wat werk vereis – dieselfde tipe werk wat ’n mens heeltyd aan ’n gedig ook laat karring.
Juis omdat ek nie self met veel oorgawe dig/leef nie, is ek soms aangetrokke tot digters soos die lewenskragtige Whitman, wat geheel en al iets anders doen. So bietjie soos iemand wat met verwondering en ongeloof na kookprogramme op TV kyk, maar wat nie self van kosmaak hou nie.
Vorm bly ’n manier om ’n greep op emosionele inhoude te verkry. Tegniek help wanneer ek besluite in gedigte moet maak. Ek tel lettergrepe (iets waarop jy my in jou klasse attent gemaak het!) – só kies ek tussen woorde, besluit ek of klein goed soos lidwoorde, of die dubbele nie moet bly (of nie). As ’n eerste weergawe van ’n gedig vyftien reëls lank is, kyk ek of dit nie sonnetagtig in veertien reëls kan wees nie. Tersines wat nie vyfvoetig wil werk nie, skaaf ek dikwels tot haiku.
JH
’n Sentrale vers is:
’n Verjaarsdagwens vir Walt Whitman
I bequeath myself to the dirt to grow from the grass I love
If you want me again look for me under your bootsoles – Walt Whitman
Jou makker, Mark Twain, maak seker hy kry
sy brief by jou uit teen 31 Mei.
Sewentig jaar lank het jy glo vooruitgang aanskou
van agter daardie bossiebaard van jou
waarin diertjies sou kon skuil,
jou waterige oë ’n diep kuil
waar seuns kaal swem en gul verdrink,
al singende aan die body electric.
Hoe gaaf, meen Twain, om te betrag:
die stoompers en -skip se koms, die telegraaf
en spoorweg, ook die telefoon, grammofoon,
die perfekte pluismeul vir katoen,
om ’n toeskouer van rasperdiepdruk te wees,
by die lig van gas, toe elektrisiteit te lees,
om kennis te dra van elektrotipie,
nooit weer geopereer te word sonder narkose nie.
Hierna volg sy wens vir jou verdoemend:
Wil jy nie maar bly leef tot ’n volronde honderd
om wonder ná wonder te sien
hoe die mens sal bly opbloei tot neëntien-neëntien?
Maar sluit liefs jou traanoë, oupa Walt,
terwyl ons fluks met masjiengeweer en tenk,
gifgas, ligspoorkoeël en dieptebom sal werk
om binne dertig jaar jou grassies snuif te trap.
Lewer asseblief kommentaar op hierdie gedig as ’n sentrale een in die digkuns met verwysing na Emily Dickinson se siening ook van hom.
FB
Soos Hansie en Griekie in die sprokiesverhaal het ek verskeie krummels, verskeie stukkies inligting, na die heks se huis in die woud gevolg toe ek die gedig geskryf het. In Indië sien jy nie seeumeeue in Moembaai nie, maar kraaie. Die kraaie het my gelei na ’n dagboekinskrywing van Mark Twain, wat oor die kraaie in Indië skryf. Só begin ek toe sy briewe lees. Een daarvan is ’n brief aan Whitman, wat hom gelukwens met sy verjaarsdag. Twain sê gelukkige sewentigste verjaarsdag en skryf dat hy hoop Whitman sal dit tot by honderd maak. Vir Twain klink dit na ’n gawe idee, siende dat Whitman allerlei moderne uitvindings, soos die gloeilamp en narkose, in sy lewe reeds aanskou het. Whitman is in 1892 op twee en sewentig oorlede. Hy sou in 1919 sy honderdste verjaarsdag gevier het. Dié datum het die deurslag vir die gedig gegee, omdat 1919 die einde van die Eerste Wêreldoorlog was. Ek het begin dink aan al die nuwe tegnologie wat die Eerste Wêreldoorlog teweeggebring het, want dit is ’n feit dat oorlog dikwels tegnologiese vooruitgang stimuleer. Dit het skielik vir my na ’n verskriklike verjaarsdagwens geklink, om uitvindings soos masjiengewere, tenks, gifgas, ligspoorkoeëls en dieptebomme te moet aanskou. Al die tegnologiese vooruitgang waaroor Twain so opgewonde was, sou in die volgende paar jaar gruwelikhede voortbring. Toe raak die gedig ’n manier om vooruitgang te kritiseer, om Twain se wens vir Whitman te kritiseer. Whitman skryf natuurlik ook oor oorlog, die Amerikaanse Vryheidsoorlog, so ook Dickinson. Hulle doen dit op uiteenlopende maniere. Whitman uitgesponne; Dickinson intiem en afstandelik.
JH
Jou kennis van Amerikaanse en Kanadese digkuns is opvallend. In 2008 het jy ’n MA-verhandeling by UCT voltooi met die titel:
Symbolic masters/semiotic slaves : subjectivity and subjection in Atwood, with reference to The circle game and Two-headed poems
Abstract
This dissertation explores the construction of the subject via a relationship of power in two poem sequences, ‘The circle game’ and ‘Two-headed poems’, by Margaret Atwood. I argue that Atwood proposes a subject similar to the kind of subject found in psychoanalysis. Like the psychoanalytic subject, Atwood’s subject is formed in relation to its other. This relation is essentially a power relation and can become unbalanced, forcing one of the two parties into a subjugated position. Atwood not only exposes these skewed relations of power, but also explores possible solutions for escaping or reconfiguring these relationships. The first chapter briefly discusses theories of the subject by Freud, Lacan and Kristeva. I use Hegel’s dialectic between the ‘master’ and ‘bondsman’, and subsequent psychoanalytic and postcolonial applications of it, to examine the construction of the subject in terms of an other in Chapter 2. Postcolonial map theory and Kristeva’s ideas on the abject are used to verbalize the divisions, but also the interactions, between the subject and its other as well as possibilities of escape. Chapter 3 demonstrates these power relationships, and their expression in cartographic terms, in ‘The circle game’. In Chapter 4, I show how processes analogous to the eruption of poetic language into the symbolic order are described in the poetry. Even though these processes do not provide a clear-cut solution to the position of the subjected, their presence signals the possibility of renegotiating unbalanced relationships of power.
https://open.uct.ac.za/items/54ca6487-2553-4cef-a86a-6792422fa93f Besoek 24 Julie 2025
Het hierdie digter ’n invloed op jou gehad? Of moet die leser dit self bepaal?
FB
Toe ek jonger was, het Atwood se sin vir ironie, haar misantropie en die tong-in-die-kies beelde my bekoor. Ek deel haar straightforward idees rondom mag en magsvergrype. “Wars happen because the ones who start them / think they can win”, skryf sy in haar gedig “The loneliness of the military historian”. So eenvoudig soos dit.
JH
Sluit jou bundel aan by ’n postkoloniale debat in die ewige kartografie van magstrukture en die soektog na uitgange?
FB
Ek was nog op universiteit toe postkolonialisme hoogty gevier het en ek moes deur daardie modderput ploeter. Dit is steeds moeilik vir my om weg te breek van hierdie begronding wanneer ek iets krities moet lees. “Kartografie” is ’n sleutelterm. Die lê van grense op regte en simboliese kaarte – tussen jou en my, tussen die ons en die hulle – is hoe mag tot uitdrukking kom. Hoe kom mens uit hierdie strik? Kan mens?
JH
Hierdie bundel ondersoek magstrukture in die digkuns. Wat beteken die titel alles?
FB
’n Kolam is ’n soort geometriese patroon wat soggens op sypaadjies voor gebou-ingange met gekleurde rysmeel gestrooi word. Dit het nie ’n begin of einde nie. Deur die loop van die dag trap mense daarop, saans is daar niks van die patrone oor nie. Smorens begin die mense weer. Die afgelope paar jaar het ek dikwels oor hierdie sirkelgange gedink. Dis soos die “widening gyre” in Yeats se “The Second Coming”. Ons is almal vasgevang. Soms is jy die een met die mag; soms die een daarsonder. Die geskiedenis leer dat wanneer mag omgekeer word, dieselfde vergrype eenvoudig, en tot vervelens toe, weer herhaal word. Die kolam is vertrap; begin dus maar weer.
Tydens Covid kon ’n mens ’n virtuele toer deur Kings’ College se biblioteek in Cambridge neem. Op die skerm sien ek toe die plakker op ’n boks beendere wat studente kan uitneem. Wie se oorskot is dié? Wie word hier deur die Engelse studente bestudeer? Die postkolonialisme wys dis meestal die bene van gekoloniseerdes. Die base doen die kykwerk, die klase word bekyk.
JH
Is die funksie van die digkuns uiteindelik om magstrukture te onttroon?
FB
Ek is miskien te sinies om te dink die digkuns kan daadwerklik soveel mag hê. “For poetry makes nothing happen”, skryf Auden in sy gedig oor Yeats. Maar tog: Taal bly ’n kragtige instrument. ’n Handvol woorde kan jou opbou en onderskraag; ’n nare woord kan jou vir jare kwets. Miskien gaan dit vir my om myself te herinner aan die mag van taal, om te bly kyk hoe hierdie swaard met sy twee snykante aangewend kan word. Want, skryf Auden, die digkuns blý voortbestaan: “In the valley of its making where executives / Would never want to tamper, flows on south / From ranches of isolation and the busy griefs, / Raw towns that we believe and die in; it survives / A way of happening, a mouth.”)
JH
Kies vir ons ’n vers wat met jou praat.
FB
Dalk die klein gedig wat iets van die sirkelgang van die kolam sê:
“Rossignol de la boue”
’n waterblom bloei
tuit oop in klankende slop
’n koortjie paddas
in poele modderwater
sonder hoop; sonder wanhoop

Dank aan Joan Hambidge vir die onderhoud. Verruklik om ‘n werklik goeie gedig te lees;
Rossignol de la boue, die gewig van ‘n digtersduimafdruk op die skaal.