
Resensie: Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes vert. deur W.J. Henderson. Naledi, 2025.
Resensent: Marlies Taljard
Onlangs verskyn W.J. Henderson se Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes by Naledi. Henderson is, volgens die flapteks, ’n voormalige dosent in Griekse en Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg. Verskeie vertalings uit Latyn het al uit sy pen verskyn, onder andere drie bande van Die geleerde digter.
In die Inleiding som die vertaler die basiese lewensloop van Publius Ovidius Naso (gebore 20 Maart, 43 v.C.; oorlede in 17 n.C.), asook sy belangrikste werk op. Dit is bekend dat die digter in 8 n.C. deur Keiser Augustus na die huidige Roemenië verban word waar hy tot sy dood in ballingskap bly. Blykbaar het Ovidius nooit geweet waarom hy verban is nie. In ballingskap skep hy sy beroemde Tristia (Droewige berigte) in 5 boeke (Henderson, 2025:12).
Ovidius se Heroïdes (Heldinne) of Epistulae Heroidum (Briewe van Heldinne), is ’n versameling van 15 Latynse gedigte wat in die vorm van elegiese koeplette geskryf is. Dié vorm is oorspronklik deur Griekse liriese digters beoefen en is later ook deur Romeinse digters soos Catallus oorgeneem. Die Heroïdes is fiksionele briewe wat deur minnaresse aan beroemde helde geskryf is wat hulle om een of ander rede verlaat het – hetsy omdat hulle intussen dood is of omdat hulle in die omhelsings van ander vroue vasgevang is of omdat hulle om een of ander rede nie wóú terugkeer nie. ‘n Verdere stel van ses gedigte wat bekend staan as die Dubbele Heroïdes wat in moderne weergawes van die tekste as 16 – 21 genommer word, word ook aan Ovidius toegedig. Dit is briewe van bekende mitologiese minnaresse en minnaars aan mekaar. Deur die betrokke karakters self aan die woord te stel en nie van eerstepersoonsvertelling gebruik te maak nie, lewer die skrywer ’n belangrike stilistiese bydrae en dra hy by tot die skep van ’n nuwe genre. Henderson (2025:12) som die styl van die Heroïdes soos volg op:
“… elegant, retories, vlot, onderhoudend, vindingryk, vol mitologiese verwysings, stylvol, slim en vernuftig. Ovidius hanteer die elegiese koeplet (sesvoetige reël gevolg deur ʼn vyfvoetige een) met oënskynlike gemak.”
Die Heroïdes is vermoedelik deel van Ovidius se vroeë werk. ’n Spesifieke ontstaansdatum ontbreek, maar verwysings in Ovidius se ander werk plaas die ontstaan van die eerste 8 gedigte tussen 25 v.C. en 16v.C. Deur die jare het verskeie teorieë oor die ontstaansgeskiedenis en die outeurskap van die gedigte die lig gesien, soos dit maar gebruiklik is wanneer sulke antieke oorgelewerde tekste ter sprake kom.
Dit is jammer dat Henderson nêrens sy vertaalstrategie uiteensit nie. Veral wanneer antieke tekste met hulle streng rymskemas vertaal word, wil die leser van die vertaalde werk graag weet van watter strategieë die vertaler gebruik gemaak het om die antieke teks gemaklik te laat klink in die sekondêre taal en steeds ‘n noukeurige vertaling van die teks te verseker. Die vertaling van Latynse poësie na Afrikaans of enige ander moderne taal bied immers groot uitdagings wat betref grammatika, sintaksis en poëtiese effekte soos ritme, metrum en rymklanke. Latyn se buigsame woordorde maak dit veral moeilik om te vertaal na Afrikaans met sy redelik streng woord- en sinsorde waarin die elegiese koeplet as vorm nie altyd die beste vertaalopsie bied nie. Besluit die vertaler dus vir artistieke effek of vir ʼn akkurate vertaling waar albei nie moontlik is nie? Dit lyk asof Henderson so ver as moontlik akkuraat vertaal sonder om die vorm geweld aan te doen én om so vormgetrou te vertaal as moontlik sonder om die betekenis te veel te verwring. Nietemin, die finale produk gee die betekenis en die gees van die werk getrou weer en behou daarby die antieke vorm sodanig dat die leser die vervreemdingseffek daarvan kan beleef en geniet.
Wat die taalgebruik betref, sien ons hier die formele en selfs die verhewe register van Afrikaans wat vinnig besig is om in onbruik te verval. Mens kan die teks ook suiwer as ʼn woordkunswerk geniet. Die volgende aanhaling kom uit Hypsipyle se brief aan Jason (p. 41):
Ek het ook nou geboorte geskenk; juig vir ons twee, Jason!
Die pa het ʼn soet las vir my swangerskap geskep.
Ek is ook gelukkig met die getal: ʼn tweeling; met Lucina
se guns het ek ʼn dubbel pand voortgebring.
As jy vra na wie hulle lyk, word jy in hulle herken.
Hulle kan nie bedrieg nie; die res is hul pa sʼn.
Ek het hulle amper gegee om namens hul moeder gedra te word,
maar die wrede stiefma het my beplande weë gesluit.
Ek was bang vir Medea; Medea is meer as ʼn stiefmoeder.
Medea se hande bewerk allerlei misdade.
Sou iemand wat haar broer se verskeurde liggaam oor
die velde kon verstrooi, my pande kon spaar?
Kenners van die Klassieke en lesers wat in Griekse mites belangstel, behoort aanklank te vind by Briewe van heldinne, maar dit is nie ʼn werk wat in die algemene smaak sal val nie. Ek het die groot aantal verklarende voetnote nuttig gevind om my soms beperkte kennis van mitologiese gebeure en karakters te verfris.
Die teks bestaan dan – soos ek hierbo aangedui het – uit twee hoofdele: die 15 briewe van minnaresse aan afwesige minnaars en ses briewe van paartjies aan mekaar. Die enkelbriewe is van Penelope aan Ulysses; Phyllis aan Demophoön; Briseïs aan Achilles; Phaedra aan Hippolytus; Oenone aan Paris; Hypsipyle aan Jason; Dido aan Aeneas; Hermione aan Orestes; Deïanira aan Hercules; Ariadne aan Theseus; Canace aan Macareus; Medea aan Jason; Laudamia aan Protesilaüs; Hypermnestra aan Linceus; en Sappho aan Phaon. Die dubbelbriewe is: Helena en Paris aan mekaar; Leander en Hero aan mekaar; en Acantius en Cydippe aan mekaar.
Die Inleiding bied ʼn nuttige oorsig oor die teks en sy herkoms, terwyl die Glossarium notas bevat oor sowel die uitspraak van name as notas oor plek- en eiename wat in die teks voorkom.
Wat die inhoud van die briewe betref, is die emosies wat daarin verwoord word, nie vreemd aan ons wat duisende jare later leef nie. Om in jou liefde verlaat te wees, voel vandag net soos dit 2 000 jaar gelede gevoel het, en steeds is die vrou in haar liefde verlaat vurig, woedend, aanvallend en verneder. Of mens dus die geskiedenis agter die briewe ken of nie, maak nie saak nie: dit blý tersaaklik. Penelope skryf aan Ulysses (p. 16):
Ek wat nog ʼn meisie was, toe jy vertrek het, sal
seker, al kom jy gou, na ʼn ou vrou lyk.
Medea skryf aan Jason:
Ek, wat ʼn draak laat slaap het, kan myself nie;
my kuur werk vir enigeen, behalwe vir my.
ʼn Bywyf omhels nou die ledemate wat ek gered
het, en sy pluk die vrugte van my arbeid.
Briseïs skryf aan Achilles (p. 22):
Die brief wat jy lees, kom van ontvoerde Briseïs, skaars
goed met barbaarse hand in Grieks neergeskryf.
Al die vlekke wat jy gaan sien, het my trane gemaak (…)
Briewe van Heldinne met sy mooi voorblad en netjiese formaat is ʼn aanwins vir ‘n boekrak en kan as naslaanbron gebruik word, maar bevat ook gedigte van universele waarde waarmee ons vandag nog kan identifiseer.
Bron:
Henderson, W.J. (vert.) 2025. Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes. Gansbaai: Naledi, 2025.
