
Marlies Taljard (MT)
Meyer, weer eens welkom – jy is reeds ’n ou bekende op Versindaba.
Onlangs het jou bundel Amplitudes en koloriete by Imprimatvr verskyn. Vertel asseblief iets oor die ontstaan van die bundel en die betekenis van die titel.
Meyer van Rensburg (MvR):
Wel, Marlies, soos jy weet was ek eens ‘n klankopname-ingenieur en nou doen ek olieverf skilderye: daarom is my gedagtes maar gereeld met die twee onderwerpe besig. Die gedigte het vir eers so een-vir-een aangeloop gekom, maar dit het toe later as ‘n tema ontwikkel, en ek moes ‘n titel vind wat by die groep verse sou pas. Toe ek begin besef dat ek onbewustelik die kleure van klankverskynsels ontgin sowel as om klanke in skilderye raak te sien. Daarom beskryf Joan Hambidge my as: “die oog wat hoor; die oor wat sien”.
Amplitudes verwys natuurlik na klank, en die amplitude is die maksimum verplasing of afstand wat ‘n punt op ‘n vibrerende liggaam of golf vanaf sy sentrale, ongestoorde posisie (of ewewigsposisie) beweeg of die ossilasie tussen klanke. In eenvoudiger terme is dit die “hoogte” van die klankgolf, gemeet vanaf die middel van die golf tot sy piek (kruin) of sy laagste punt (trog). ‘n Hoër amplitude beteken dan dat die golf meer energie dra.
Die eerste afdeling se titel, Weerklankkleure, dui alreeds aan dat weerklanke kleure het, maar dit sê ook dat ek alweer by klank betrokke is, soos in my heel eerste bundel, maar hierdie keer effens anders.
Koloriet is sowel kleurgebruik van ‘n skilder as die musikale kleur van ‘n instrument of groep instrumente. Die woord pas toe presies in met wat ek wou doen:
dit was ultra-cool
as die klanknuanses soos musiekkleurdruppels oor my spoel
(Selfanalise, p.27)

MT
Jy is ʼn teoloog. Wat beteken dit presies? Wat behels jou werk? Hoe beïnvloed jou werk en jou oortuigings jou kuns? Is jou spirituele gedigte vir alle mense bedoel, of slegs vir Christene?
MvR
As teoloog doseer ek al vir die afgelope 40 jaar by verskillende Bybelskole en universiteit-kolleges, tans op die Internet vir mense in Engeland asook vir verskillende Afrika-state. Dan, met ‘n Poolse kollega wat saam met my studeer het, doseer ek ook vir mense in Poland, België, New York en Frankryk. Dit beïnvloed natuurlik my gedigte, daarom skryf ek:
en gee my ’n agenda:
wanneer om wat te doen
totdat ek my menings en dade
sakrosankt met eteriese regswese kan versoen
in koloratuurwoorde
met mening wat ek neerskryf
om vir my sin te maak
spreek my gewoonweg aan
want ek wil eenvoudig voor U Sjekina staan.
(Rigtingsoeker, p.14)
Natuurlik het my koloriete ook gelei na kolorature, wat kunstige solosang beteken. Die spirituele gedigte in die bundel is vir almal bedoel, nie net Christene nie, want ek dink ons almal soek rigting en waarheid in die lewe en ek probeer om dit so toeganklik as moontlik vir almal te maak. Om die waarheid te sê, die hoofkarakter in hierdie besondere gedig is eintlik van die Joodse geloof, want hy dra sy warboele wette “op sy voorhoof in ‘n boksie” en hy “laat sy bindsandale losval” terwyl hy boetgesange, dankpsalms en hosannas sing.
MT
In ʼn resensie van Amplitudes en koloriete op Versindaba skryf Nini Bennet-Moll:
Van Rensburg se tematiese kern spil om die sinergie tussen klank (verteenwoordig deur “amplitudes”) en kleur (vergestalt in “koloriete”). Die digter gebruik hierdie elemente om die kompleksiteit van menslike ervarings te verken – van die stille vibrasies van verlange, tot die lewendige uitbarstings van vreugde.
https://versindaba.co.za/2025/08/19/resensie-amplitudes-koloriete-meyer-van-rensburg/
Wat is jou reaksie hierop, Meyer?
MvR:
Dis ‘n goeie opsomming van wat ek in die bundel probeer illustreer: die samewerking van kleur en klank as kunsvorme. Die Nobelpryswenner vir letterkunde, László Krasznahorkai, verduidelik van hoe ‘n mens kuns ervaar:
“Art is humanity’s extraordinary response to the sense of lostness that is our fate…. it lies behind a boundary where we must constantly halt; we cannot go further to grasp beauty – we can only gaze at it from this boundary … Beauty is a construction, a complex creation of hope end higher order.” ( Krasznahorkai, L: “The World goes on”)
Deur die kleure in klank te kan ontgin en die klanke vanuit skilderye te hoor, kom ons ‘n bietjie nader aan daardie grens en ek probeer dus om die komplekse skepping van hoop bietjie te oorskry deur kuns (hetsy in skilderye of klankverskynsels) te gebruik om die lewe meer positief te sien en nie net skilderye as die interaksie van verskillende kleure op ‘n plat vlak te beskou nie asook om te illustreer dat klank meer is as slegs Neil Diamond se “Beautiful Noise.”

MT
Jy woon in Engeland. Vertel asseblief iets oor die plek waar jy woon, hoe jy die “vreemde” land en landskap beleef en of jy heeltemal tuis is daar oorkant – verlang jy soms terug na Suid-Afrika? Sou jy wou terugkom?
MvR
Ons woon in die platteland, in ‘n boomryke gedeelte van Engeland. Om die waarheid te sê, Kent (waar ons woon), word beskou as “die tuin van Engeland.” Ons loop gereeld in die groen velde rond en besoek al die besienswaardighede rondom ons, hetsy Hever kasteel (baie na aan ons, waar Henry VIII vir Anne Boleyn kom kuier het) of bootritte op die Thames-rivier. Omdat die veld selfs regdeur die winter groen bly en die bome se swart stamme kontrasteer met die spierwit sneeu op die bokant van die takke, is mens heeltyd bewus van die kleure in die natuur en die klanke van al die verskillende voëls rondom ons.
Na 21 jaar is ons nou baie goed ingelyf in Engeland en, alhoewel mens verlang na ou kennisse in Suid-Afrika, het twee van ons dogters ons na Engeland gevolg en is ons heeltemal gelukkig. Deur middel van die Internet bly ek darem in kontak met ou vriende in SA.
Die grootste probleem vir my, is dat daar baie min Afrikaanse digbundels beskikbaar is op die Internet, en dus is ek baie dank verskuldig aan Versindaba wat my darem min of meer op hoogte van sake hou.
MT
Hoe verloop jou tipiese dag?
MvR
My tipiese dag is nogal effens luilekker omdat ek afgetree het as’ ʼn lektor wat fisies voor ‘n klas staan. My vrou werk nog as boekhoudster by ‘n firma, so sy staan vroeg op om betyds by die kantoor te wees, maar ek kan bietjie later slaap.
Na brekfis gaan ek gewoonlik vir ‘n uitstappie in die gebied rondom ons huis: daar is ‘n groot dam water net ‘n blok van ons af, waar mense visvang, met baie eende en selfs swane en reiers, en ek het dit al ‘n hele paar keer in al die verskillende seisoensveranderinge geskilder, net om dan weer die skildery te verkoop!
Ek gaan drie keer per week na ‘n gimnasium om te oefen, om fiks te bly (baie nodig op my ouderdom!), maar die ‘n halfuur per bus van my af, so dit neem ‘n groot gedeelte van Maandae, Woensdae en Vrydae in slag, maar Dinsdae word in die skilder-ateljee deurgebring, en Donderdae is gewoonlik my dag om al die notas wat ek gemaak het op my uitstappies of waar ook al, bymekaar te skraap en in verse te verander. Natuurlik bly die vers-makery nie net tot Donderdae beperk nie: ‘n mens moet reg wees as die ingewing kom en enigiets kan ‘n gedig laat ontkiem.
Ons is ook lief daarvoor om na jazzklubs in Londen te gaan (Ronnie Scott’s, veral) of teatervertonings by te woon en die kunsgalerye word natuurlik gereeld besoek! Verder is ons lief daarvoor om saam-saam verskillende moeilike kriptiese blokkiesraaisels uit te pluis. So, weer klanke en kleure!
MT
Ek hoor dikwels as Inhoudsbestuurder van Versindaba dat mense nie gedigte lees nie, omdat dit te moeilik is of omdat digters probeer om lesers met groot woorde en ingewikkelde gedagtegange te beïndruk. Wat sou jou antwoord op so ʼn beskuldiging wees?
MvR
Wel, daar is seker party verse wat nie eintlik toeganklik vir meeste mense is nie en baie digters skryf vir ander digters. Ek onthou, toe ek op skool was, het ek al ons voorgeskrewe gedigte (Engels en Afrikaans) uit my kop uit geken, maar baie min van my vriende het daarin belang gestel (ek kan nou nog Portia se “the quality of mercy is not strained”-gedeelte uit “The Merchant of Venice” uit my kop uit opsê!). Meeste van my vriende het baie sport gespeel en was daarmee besig, maar ek het maar gereeld my neus in ‘n boek gehad. Ongelukkig was die Afrikaanse onderwysers op hoërskool nie juis briljant met letterkunde instruksie nie en ek het maar meeste van, onder andere, Oppermann en Van Wyk Louw se insiggewende verse op my eie verken en ontgin.
Ek moet erken, daar is party digters wie se gedagtegange moeilik is om te volg. Meeste mense lees ook nie juis enige verhandeling oor verse nie, en daarom bly dit ‘n geslote boek vir hulle: as hulle net wil besef wat ‘n skatkis op hulle wag, sal hulle dalk meer moeite doen!
MT
Wat maak jou gelukkig? Wat maak jou hartseer? Wat maak jou kwaad?
MvR
Die feit dat van my familie hier in Engeland by my en my vrou is, maak my baie gelukkig. My kleinkinders, veral, verskaf my groot genot. Ek het ons kleinseun, Logan, al kleuterskool toe en terug karwei elke dag en agtermiddae saam met hom deurgebring, want sy pa was vir baie jare betrokke met die Britse leër in Afghanistan: Dit was ‘n liefdeswerk vir my en ons is steeds baie na aan mekaar en kyk saam na sport. My dogter en kleindogter is weer baie betrokke in kuns en albei skilder ook besonder goed. My ander dogter hier in Engeland skryf weer fenomenale gedigte in Engels (wat ons gereeld bespreek), en ek is gedurig in kontak met my dogter in Suid-Afrika, want sy bespreek baie geloofswaarhede met my. Verder geniet ek om krieket saam met my ander kleinseun, Kurtis, in hulle agterplaas te speel.
Wat my kwaad maak is mense se wreedhede met mekaar en die traak-my-nie-agtige houding wat meeste mense teenoor ander mense het. Selfsugtige motorbestuurders en verwaarlosing van die essensiële waardes van menswees is iets wat ek nie kan verstaan nie.
MT
Deel asseblief met ons ʼn gedig in Amplitudes en koloriete wat vir jou spesiaal is en vertel ook waarom dit vir jou besondere waarde het.
MvR
Marlies, dis maar moeilik om een gedig te kies, want almal lê maar na aan my hart soos kleinode. Die gedig oor Van Gogh (p. 63,64) en die een oor Copernicus is ek baie lief voor, asook die oor my pa (p. 58 en 34))
Ek is baie gaande oor die musiekinstrumente-gedeelte en die krieket gedigte dink ek is nogal ‘n vonds, omdat ek nog nie iemand anders daaroor gesien dig het nie, veral hierdie een:
Lord’s krieket
(i)
’n rooi bal wat in dolle vaart die lug deurflits
is nie alkant selfkant nie, nes ’n blits,
snel die donker/lig, donker/lig, donker/lig
na my toe: probeer my drie(b)enige kasteel omklits
(p.47)
Alhoewel, as ek dan een gedig moet uitsonder wat iets baie spesiaal vir my beteken, sal ek maar die een kies wat heeltemal per abuis ontstaan het, want, toe Daniel Hugo my aangespoor het om weer in Afrikaans te begin skryf na bykans 40 jaar se stilte nadat Klankmanwoordboom verskyn het, en Heenkoms toe publiseer is, het hy gesē: “Ek is so bly ek het Lasarus van Rensburg uit sy lang slaap opgewek!” Toe skryf ek:
Lasarus: resussitasie-eggo’s
Mals heengekom in die engelse land
lê ek summier my vroeër digkuns neer:
kelder dit toe vir bykans veertig jaar
diep en ver weg in die suidersonland
se doodgerypte winterveldvlakte
sodat daar toe geen gesuis of sweemsel
luid of ongehoorde woordmanklanke
verrys uit wat heimlik dood en swygend
bodemloos dormant begrawe lê nie
tog het iets ideogenies
uit moertaalbanke
spiksplinternuut
hier assendeer
en word nou mildelik
gereel(d) gesmee
om opwekkend
in klank en kleur
sy eksistensie
in omwentelings weer te gee
(p. 9)
Baie van die ander gedigte het hierdie beginsel van nuwe lewe as motief.
Baie dankie vir die belangstelling in my bundel.
