Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 November 2025

Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek

 

Camdeboo, Van der Waltshoek

 

Die veraf gedruis van die waterval
meng met die stilte van die Kloof.
Bruisende water stort in lang wit slierte
en plons in ‘n skuimende poel.

‘n Stille simfonie weerklink as
die witkruisarend om en om swewe
en geleidelik daal na sy kuiken
oorkant op ‘n rotslys teen die krans.

Blitsige kransvalkies baljaar
in die lugstrome van die Kloof.
Oorkant op rotse sit bobbejane
luilekker in die sonnetjie en bak.

Krapmerke teen ‘n olienhoutstam verklap:
‘n luiperd het in die Kloof geloop!
‘n Skilpad strompel haastig rivier toe.
By die pomphuis skuil knypende krappe.

Tussen granaatbos, rooigras en tamboekie,
toring witstinkhout- en soetdoringbome.
‘n Witgatboompie se kronkeltakke
omarm jou as jy in sy skaduwee skuil.

Bliksemstrale blits donderend al nader.
Toorberg word dof en raak weg.
‘n Woedende storm bars los en sak uit.
Dan bruis kolkende water deur die Drif.

Onlangs het ‘n rots teen Grootberg afgerol.
Rooiribbokke staan teen Perskehoogte.
Bo-op en aan die voet van die Plaat
loop perde en wei blinkvet beeste.

Op die drade sit ondeunde blouape
met sterte wat ondertoe hang.
Spelerige jongetjies stoei in die pad
en grootoog kleintjies klou aan hul ma’s.

Die koedoe staan dwars voor ‘n bos,
sy horings krul adellik na bo.
Stap dan statig oor die pad
en wip veerkragtig oor die draad.

Spekvretertjies flap-flap hul vlerkies
en swaeltjies swiep oor die dam.
‘n Bokmakierie sing luid: “kokkewiet”
terwyl kakelaars wipplank kwetter.

By die boonste dam tuur ‘n visarend.
Gooi sy kop agteroor as hy vorstelik roep.
Kopereende kwaak: “hou-ha, ha”
en kolganse skaats terug op die dam.

Waterhoenders krrik-krrik by die riete.
Tarentale jaag mekaar op die wal.
‘n Rietduiker jag onder die water
en sprei dan sy vlerke in die son.

Golfies kring al wyer en wyer
waar ‘n skurwepadda se laaste hale
in ‘n oogwink geëindig het
voor ‘n blou standbeeld reier.

By die voordeur verklap vinkies:
daar’s ‘n boomslang by hul nessies.
‘n Likkewaan beroof die hoenderneste.
‘n Kobra hou die rotte in bedwang.

Pienk getooide flaminke skep
met bakhandsnawels die alge
in die vlakwater van die dam
op die buurplaas Bothashoop.

Hulle skrik en met hoogtraphale
en malende vlerke styg hulle op,
sweef sierlike ‘n wye draai
en land op ‘n drafstap op die wal.

Op ‘n pikdonker somersaand
verskyn die helder konstellasies
van die Jagter en sy blinkoog Hond
wat die Bul deur die Melkweg jaag.

By die Boord begin ‘n naguiltjie roep.
‘n Skadubeeld verskyn op die gewel van
‘n hoephoep wat vir oulaas haar immer
honger kuikens ‘n naaldekoker voer.

Die maan kom op en herhaal hom
in die dam voor die Waenhuis.
‘n Paddakoor kondig kwakend aan:
ons is hier vir die nag!

Die aardwolf kruip uit. Kyk om.
Jakkalse tjank teen die berg.
Bosvarke en ystervarke grawe
en erdvarke snuffel oral rond.

Van ver wink die opstal se ligte: kom nader!
Die stofpad kronkel wyd om Spitskop,
deur die Drif en verby groen lande,
tot by die stoor, deur die hek en jy is daar.

Van der Waltshoek wys sy siel
as Camdeboo se mense kom kuier.
Ook as stappers die staproetes stap.
Of as balle op die tennisbaan klap.

Buite teen die statige opstal
lei trappies na die solder bo
waar erfgoed gestoor word en
biltong in lang rye hang.

Die lang tafel in die eetkamer
is omring deur skilderye teen die muur.
Die muurhorlosie bokant die ou klavier
slaan steeds die ure op die regte tyd.

Voor die kaggel in die woonvertrek
draai honde en katte kort-kort om.
Hier word gekuier, speletjies gespeel
en luidkeels vir die Bokke geskree.

Verslete stewels en jagterspette
vergaar aan ‘n juk in die Waenhuis.
Ou gewere hang teen die mure.
Museumstukke pronk op die stoep.

Vonke knetter hoog in die lapa
as die kampvuur gestook word.
Jagters, toegewikkel in dik jasse
vertel hul avonture van die dag.

Potskerwe by die murasie getuig:
mense het eens hier gewoon.
Gedenkstene vir die plaas se legendes
dui met eerbied hul laaste rusplekke aan.

 

© Peet van Schalkwyk, Junie 2025

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

2e gedagtes oor “Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek”

  1. VDS Brink says:
    8 November 2025 at 17:17

    Peet, dit is aangrypend mooi!

    Reply
    1. Peet van Schalkwyk says:
      10 November 2025 at 10:30

      Baie dankie Vds

      Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Jacques Boshoff. Ontoereikend
  • Sharon Goliath. Here Hoe Groot Is U
  • Ruan Fourie. kindness is modern magic
  • Cobus Kruger. Deepfakes

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Rust-mijn-ziel: Digters gedenk Aucamp
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d