Paryse Dagboek
tongtippietoets
(Kersfees 2005)
jy is my amuse langue
x
x
x
skryf hy ooit voor
in ’n geskenkboek –
as verre Franse nasaat
praat ek met ’n
Hugenote huig-r
my Frans
is beperk tot
ateljee kafee
sjampanje
sjiek sjarmant
nonchalant
cul de sac
abattoir
& sy 3 soentjies?
dit was uit die wapen van Amsterdam
*
soen
(by ’n foto uit 1950)
jy sê jy hou so baie van Parys
die mense soen so in haar strate
jaarliks probeer 1000de paartjies Doisneau
se beroemde piksoen in die stad van liefde
na-aap om hul verliefdheid ten toon te stel
dat die foto geposeer & fake was om Parys
se stadsbeeld blink te vryf was die 1ste bewys
van die skrywersbeginsel show don’t tell
jy wys my – as verliefde digter –
op dié visioen se ontmaskering
ék is meester & maak jou monddood met my tongsoen
*
kunstenaarsplein
(2017 – arrondissement 18)
leeghoofdiges sit op die trappe
hang aan lamppale staar uit oor
Parys vanaf die Sacré-Cœur lig-
hoofdig wit op ’n heuwel in die stad
toegegee – uitsig oorstyg kitsch
wie méér soek stap om na
die plein waar kunstenaars
op openbare verdienste vir
hulself ’n eie stalletjie kon kry
so word portrette van toeriste
geteken in potlood of houtskool
so word mense se silhouette
uit stywe swart papier geknip
so word kinders bekoor met ’n
halfuur snelkursus in voukuns
so word miniatuur aquarelle
met stadsuitsigte geskilder
vir die’s wat iets wil saamvat
terug huis toe iets tasbaars
gekoop op die Place du Tertre
ook ék swig vir die kitsch om jou
liewe gelaatstrekke – so hoekig sterk
dat skilders na kwaste gryp & roep –
as aandenking te laat verewig
toegegee – alles is sentiment
*
die swart kat
(ook in arrondisement 18)
ons sit in die foyer van teatercafé
Le Chat Noir – my oog vang die plakkaat
van ’n swart kater met ’n hooghartige blik
’n oureool om sy trotse kop waarin
Montmartre fyntjies geskryf staan
bewus gestileerde snorbaarde sy vag
het hy half-arrogant half-aggressief opgesit
die café is sý gebied waar sangers &
skrywers hul absint vir inspirasie kom drink
benede sy stand verag hy toevallige toeriste
nuuskierigs soos ons Victor Hugo – ja
Jacques Brel – ja Jacques Offenbach – ja
bohémien Erik Satie het van Le Chat Noir
sy stamkafee gemaak hier as kroegpianis
sy fluweelvreemde etudes uitprobeer
onder die kat se kieskeurige skrefiesoë
die klassieke plakaat was ons voorspel
in ’n internasionale skadu poppespeltoer
