
I
Philip de Vos is Afrikaans se Ogden Nash, die Amerikaanse beoefenaar van sogenaamde ligte verse. Afrikaans is en was nog altyd ‘n bietjie skepties oor die humoristiese of speelse vers. Hierdie soort vers beklee ‘n belangrike plek in die panteon van die digkuns, omdat die digter se vermoë om met ryme en onderduimse toespelings te kan werk, tot die uiterste beproef word. Daniel Hugo kry dit bepaald reg. Onder draai die duiwels immer. De Vos hou van hekel en terg. Kyk onder andere na Kat se blad (saam met Piet Grobler) wat eers as strokies in De Kat en Insig verskyn het. Dit verskyn in 1999.
Die lys van sy publikasies is lank. En min skrywers het so ‘n volkse aanhang as De Vos, eweneens voormalige operasanger én fotograaf. Van sy foto’s is geboekstaaf in Milieu (2006).
II
In hierdie rubriek word daar vandag gekyk na die regte tyd vir die verskyning van ‘n boek.
Nou onlangs ontmoet hierdie leser ‘n uitgewer van NB toevallig saam met ‘n redakteur van die uitgewery. Daar word gepraat oor tendense en modes en smaakmakers. En ‘n nuwe publikasie van Philip de Vos word gewys. En ek bely my bewondering vir Philip de Vos en ontvang die boek met dank. Dit heet:
Die jaar toe dit gemmerbier gereën het.
So word dit bemark:
Sommige stories wag ’n leeftyd vir die regte oomblik. Ná bykans 48 jaar vind Philip de Vos se vrolike avontuur, Die jaar toe dit gemmerbier gereën het, uiteindelik sy pad van die laai na die rak. Geskryf in 1977 maar lank vergete, verskyn dit nou in ’n splinternuwe uitgawe, uitgegee deur Human & Rousseau, met verbeeldingryke illustrasies deur Theodore Key.
Soos met al De Vos se werk, is hierdie boek ’n feestelike bederf – vir kinders én vir die grootmense en grootjies wat steeds ’n bietjie kind in hul hart dra. Die storie borrel oor van pret: ’n vrou met ’n rooi sambreel, geheimsinnige wakiste, verlore kinders, ’n waaghalsige lug-ontsnapping en natuurlik 123 bottels gemmerbier!
Daardie aand begin ek die kinderverhaal lees en vind dit wonderbaarlik. Dis indertyd aan Leon Rousseau voorgelê wat aanbeveel het De Vos moet verse skryf. (Die res is natuurlik geskiedenis …)
Om oor kinder- of jeugverhale te skryf, moet jy weet waarvan jy praat. Wyle Lydia Snyman, ‘n kenner van hierdie genre, het altyd benadruk dat die kind nie onderskat moet word nie. Sy was wel fel gekant teen reekse soos Trompie of Saartjie wat steeds in my biblioteek staan. Langs Jaco Jacobs en vele vertalings uit Japannees en Skandinawies.
Snyman (ook bekend as Lydia Pienaar) het self kinderverhale vertaal. (Lydia Snyman was Henning Snyman se eggenoot.)
III
Waarom is Die jaar toe dit gemmerbier gereën het indertyd nie gepubliseer nie?
Dalk die verwysings na die Tarot of die heerlike gelanterfanter met ou volksliedjies?
Dalk die rasaspek wat vir doerie tyd dalk te “gewaagd” was?
Of die gespot met die droogte wat Moedverloor teister met verwysings na die Agtertrekkers, geheimsinnige wakiste wat in doerie tyd nie mog nie?
Of dalk die “geheime” resepte en volkspele wat opgestuur word?
Of die implisiete kritiek op die biddag vir reën?
Hierdie leser vermoed dat dit veral die tarot en die Katisja-figuur wat die Afrikaner(heiligdom) binnedring.
Die spel met stereotipes maak van hierdie boek ‘n wenner. Kyk na die name en Christoffel is die hennetjie.
IV
Agt-en-veertig jaar later en ons kyk anders na alles óm ons. Kinders is meer gesofistikeerde lesers in 2025 as toentertyd.
Hierdie boek is nie alleen ‘n jeugverhaal nie. Dit is bepaald iets meer, omdat die skrywer primordiale kwessies aktiveer. In sy beroemde Trilogie van die Lewe het Pasolini die film Il fiore delle mille e una notte in 1974 gemaak.
Gebaseer op die bekende Duisend en een Nag (Arabiese Nagte). Deel van hierdie reeks is die Decameron en Canterbury Tales.
In die eerste film is daar die bekende storie-binne-in-die-storie. In die Decameron (1971) speel die mirakel en fantasie uit rondom leuens. Die kwessie van bedrieërs of kansvatters word ontmasker. Die stommerik wat seks het met nonnetjies (wat wil weet hoe dit is om seks te hê), begin skielik praat wanneer hy met die oudste non moet seks hê. In plaas daarvan om haar oortreding te bely, word die jongeling tot ‘n heilige verklaar. Want hy het skielik ‘n stem.
Alles gebaseer op Boccacio se verhale uit die veertiende eeu. In die oorspronklike teks word honderd verhale vertel deur tien mense in Florence om die Swart Dood uit te stel. Decameron beteken letterlik ‘n tien dae-gebeurtenis.
Die “inferential walks” (aldus Umberto Eco) wat die leser en kyker maak, is van belang. Hoe en waar Pasolini afwyk van die oorspronklike teks en dit moderniseer en meer satiries maak, is opvallend. Die intertekstuele raamwerke is tersaaklik met Pasolini wat sy geniepsige houe inkry teen die kerk, leuens en valsheid.
Die filmkuns as digkuns. En Pasolini neem wraak op Ninetto Davoli, sy biseksuele geliefde wat hom verlaat het vir ‘n vrou in 1973. Die kaal Davoli word in die film gekastreer in ‘n onthutsende toneel. Wraak in die storie (die vrou se hart is gebreek, omdat die man verlief geraak het op ‘n ander vrou) wat ‘n somberder word deur die regisseur wat hier intree en dus dubbele wraak pleeg. In die film Il fiore delle mille e una notte.
Die volledige Fellini is deur Philip de Vos vir my afgelaai en sy kennis van films en opera is alombekend, in geval iemand hierdie leser van “overcoding” wil beskuldig.
In De Vos se verhaal is daar bekende boereliedjies wat hy verdraai en verander. In hierdie boek sien ons dan die geboorte van die digter en skrywer van heerlike jeugverhale. Veral musiek is sy métier.
In 1986 Wolfgang Amadeus Muis en in 1989 Die Worcester Asporcester en ander lustige limericke.
Hy het ook vir voornemende digters verduidelik hoe die limerick werk:
https://www.litnet.co.za/so-skryf-mens-n-limeriek/ Besoek 8 november 2025.
‘n Treffer:
’n Tannie woonagtig in Bloem
Was bang toe ’n by om haar zoem.
Toe slaan sy hom plat
Dat heuning so spat
En spuit hom toe poegaai met Doom.
*
In sy kortverhaalboek werk hy met primordialiteit. Die tarot, onrus, mirakels …
Die bekende teenoor die onbekende. Onmoontlike probleme (soos in Boccacio se verhale) én ontsnappings.
Koningin van die Amakeias teenoor Sarie Marais.
Die apteker se “medikasie” teenoor die “musieklike” familie.
Die vrylating van die slawe teenoor die blikpapegaai …
“Al die veld is vrolik” en konsertinas teenoor die weerhaan wat neerplons in ‘n verroeste hopie.
Katisja sing van die Cyperus esculentus (38):
https://en.wikipedia.org/wiki/Cyperus_esculentus Besoek 8 November 2025.
En daar is ‘n geheime Gemmerbierresep ingesluit! (Met ‘n waarskuwing dat dit gevaarlik kan wees.)
Theodore Key se illustrasies is uiters gepas. Die boek word tereg opgedra aan Leon Rousseau wat die boek indertyd afgekeur het.
Die motto’s (ernstig én speels) ontlok ‘n glimlag.
Wie sou ooit kon dink hoe Pasolini en Philip de Vos bymekaar sou uitkom? En godesydank vir die kursus indertyd aangebied oor Eco en Boccacio by UCT.
Joan Hambidge
Kaapstad
8 November 2025
Bronne:
Eco, Umberto. 1981. The role of the reader. Londen: Hutchinson.
Snyman, Lydia. 1968. Die kind en sy literatuur. Kaapstad: Haum.

Inderdaad ‘n wonderlike boek vir sowel jeuglesers as volwassenes. Vol slimmighede en ou wyshede.
As kenner van die tarot sien mens ook ‘n ander soort vernufspel.
Dankie, Joan, jou resensie is net so ‘n lekkerte om te lees soos Philip se boek.