
As lusmaker plaas ons die Inleiding tot die boek:
INLEIDING
Geoffrey Chaucer, die seun van ’n welgestelde wynhandelaar, is omstreeks 1343 in Londen gebore. Hy het gedien as ’n kamerjonker in die koninklike hofhouding en het verskeie veeleisende openbare ampte beklee. Die koning het ook geheime buitelandse sendings aan hom toevertrou. In 1372 en 1378 het hy Italië besoek en kennis gemaak met die werke van Dante, Petrarca en Boccaccio, en sy eie digterskap is deurslaggewend beïnvloed.
Sy Troilus and Criseyde, in 1386 voltooi, is ’n verwerking van Boccaccio se Il Filostrato waarby ander bronne ook betrek is. Chaucer noem sy gedig ‘n vertaling, maar dit is veel meer as ’n vertaling, want dit is juis wanneer hy van Boccaccio afwyk dat sy digterlike talent besonder opvallend is.
Hoe jammer dan dat Troilus and Criseyde vandag so weinig bekend is. Dit is die gevolg van ’n aantal hindernisse waarmee ’n moderne leser te kampe kry by die lees van die gedig. Chaucer was bewus daarvan dat sy gedig ’n werk van wêreldgehalte was, maar hy het ook besef dat taal met verloop van tyd verander en dat Troilus and Criseyde vir toekomstige geslagte dalk onverstaanbaar kon word. Op een plek sê hy:
Ons weet dat tale oor ’n duisend jaar
verander, en woorde wat in die verlede
gebruiklik was, klink nou verspot en raar …
(II. 23-25)
en elders:
… en as mense dit hierna miskien wil lees,
bid ek dit sal vir hul verstaanbaar wees.
(V. 1798-9)
Modernisering (van Middelengels tot Moderne Engels) help om ’n teks verstaanbaar te maak. Dit bring egter verarming mee omdat die moderniseerder dit moeilik vind om van die bronteks weg te beweeg en ’n sinsdeel gehandhaaf word, selfs al het die betekenis in die loop van baie eeue verander. Dis eers wanneer ’n gedig in ’n ander taal herdig word dat die totaliteit van ’n werk gerekonstrueer word deur die ontginning van die taaleie van die doeltaal.
’n Tweede hindernis is die vreemdheid van die verlede. In Troilus and Criseyde is daar beskouinge oor die mediese wetenskap wat vir ons uiters vreemd en onaanvaarbaar is; astrologie word ernstig geneem want die stand van die hemeliggame dui immers op wat gaan gebeur; Chaucer put uit die rykdom van stories uit die klassieke oudheid, waarvan ons slegs hier en daar kennis dra. Hier kom verhelderende voetnote dus van pas.
’n Besondere aspek van die kulturele agtergrond van die gedig is hoe die verliefdes optree. Chaucer wys op die verskeidenheid van individuele gedrag, maar ook op die eenvormigheid wat geld as gevolg van die heersende konvensies binne ’n samelewing:
… In ander lande
word dit as ’n onwelvoeglikheid beskou
as verliefdes hul gedra soos hier te lande,
sonder inagneming van allerhande
gebruike, sedes, tradisies en so meer;
hoe lande optree is ’n saak van eer.
(II. 37-42)
Vir Middeleeuse adellikes het liefde hoofse liefde beteken. Die man word oorweldig deur liefde vir ’n geïdealiseerde dame en ly aan siektesimptome wat alleenlik deur sy geliefde se begunstiging gelenig kan word. Hy durf sy lyding egter nie aan haar bekendmaak nie, want haar goeie naam moet deur geheimhouding bewaar word. Al wat vir hom oorbly is om hom in onbaatsugtige diens aan haar te wy en op dié manier haar guns te wen. Dit op sigself is vir ons ’n hindernis by die empatieke lees van die gedig. Al raad wat ek die leser hiervoor kan bied is om te volhard, want dit sal die moeite loon.
Hoewel die verliefdes in Troilus and Criseyde hul anders gedra as wat vir ons gebruiklik is, verseker Chaucer se mensekennis en skeppende vermoë dat ons sy karakters as eg menslik ervaar. Ons gewaarwording van hulle as terselfdertyd vreemd en bekend is maar een voorbeeld van die sonderlinge ineenstrengeling van antieke Troje en Chaucer se tyd, van heidense gode en Christendom, van voorbeskikking en verantwoordelike optrede, van aardse liefde en die mens se geroepenheid tot hemelse heil. En hierdie kreatiewe spanninge laat die leser steeds gretig uitsien na die ontknoping van die teenstrydighede.
Chaucer was ’n Christen wat vir Christen-lesers geskryf het en die ontknoping bevestig die liefde en heerskappy van Christus en die nietigheid van ons aardse bemoeienisse. Hy maan sy lesers dus:
O, jul jongmense in wie die liefde ontwaak
en toeneem jaar na jaar, vermy beslis
aardse ydelheid. Jul is gemaak
deur die Here God na Sy gelykenis;
bly dus by Hom. Dink net, die wêreld is
’n kermis en dit gaan so gou verby
soos die soet reuk van blomme in die wei.
(V. 1835-42)
Dit is Chaucer se prestasie dat Troilus and Criseyde ten spyte van die genoemde hindernisse meer as 600 jaar nadat dit geskryf is die leser nog steeds verrykende leesstof kan bied.
Maak gerus kontak met John Boje (bojej@stalbanscollege.com) om ‘n kopie aan te vra.


Dié inleiding is inderdaad ‘n aptytwekker soos min.
Besonder insiggewende inleiding wat onmisbaar is wanneer mens so ‘n vertaling lees. Baie geluk met ‘n wêreldklas vertaling John Boje.