L’appel du vide
(Die roep van die afgrond –
՚n laaste brief aan my jonger self)
Ek kyk af na my hande
een-en-vyftig jaar later
sien ek die letsels
ek onthou
my laaste kaalvoet modderdae,
die klein wilde dogtertjie
wat soggens wakker geword het
sonder gister se skaamte
of môre se gewig.
Ek vou my arms styf om haar.
“Luister… moenie weghardloop nie,
want ek weet nie meer
waar om weg te kruip nie.
Ek weet jy dink liefde is oorlog,
en stilte is ՚n straf
maar moenie haastig wees
om groot te word nie.
Jy sal nog leer
dat sommige mure
nie ՚n hamer soek nie
maar ՚n hand.
Dat brullende storms
altyd êrens begin draai,
dat die son nie kant kies nie
en dat sekere afgronde jou roep
sodat jy jou vlerke kan toets.
Moet net nie weghardloop nie…
want jou lewe is maar net
‘n vlug in tyd.”
© Caren Kearley, 2025
