Efemeer
Die wentelende storm
sif sand soos ‘n uurglas
teen die horison van ‘n rooisandduin af
waar tyd hier met versugting vervaag
net warm mirages
efemeer soos asems teen ‘n ruit
wat jou die verte in lei
met kronkelpaaie van grond en wind
wat sonder belofte aanhou strek
jy ry die vlaktes in
laat sak die ruit om die wind teen jou vel te voel
daar’s geen bord of baken nie
net die pad wat jou eerder vra as wys
jy ry aan en aan en aan
luister hoe die klippe teen jou bande spat
tot die aand oopvou
soos ‘n troosmantel om jou skouers
en die nag jou met woestynsterre verlei
soos gode wat oor jou waak
en voor jy weet
bring skemer nog ‘n dagbreek
en daar, op die rand van niks
bly net ‘n skim van hoop
selfs ‘n majestueuse skuif van landskappe
beteken maar min hier, dink jy ook
terwyl die son keer terug
met hitte en skadu’s
net om die eindelose duine
weer oop te kerf.
© Caren Kearley, 2025
