Desembergedig
Een helder ster
Ek onthou
besige winkelsentrums
met reuse kersbome,
helder liggies,
en kersfeesklokkies.
Ek onthou
Jingle Bells
en Mary’s boy child,
winkel in
en winkel uit.
Lankal terug
se beelde en klanke bly,
maar die blink
in kinderoë se kyk
gaan met tyd verby.
Ek smag nou
na ʼn stille nag.
Ek smag na die donker,
met één helder ster.
Ek smag na die eenvoud
van herders in die ope veld,
op soek na ʼn kind
in ʼn krip,
in doeke toegedraai
sodat hierdie wêreld
dalk ánderkant toe kan draai
om vrede op aarde te vind.
© Andrea Sieberhagen, 2025

Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n terapie sessie te stap met ‘n jong kind wat 13 jaar (lank) van haar 15 jaar op aarde ernstig misbruik was – dis donker sonder die blink kinder ogies. Net blink trane…die STER van Kersfees alleen kan die ánderkant bring!
Dankie Andrea dat jy my help om hoop te hê vir hierdie kind! Jou gedig spreek die werklikheid aan…