
Digters skryf soms verse oor hul kollegas en skep sodoende ’n alternatiewe literatuurgeskiedenis wat ’n nuwe of aweregse lig op ’n tydperk of genre kan werp. Dit is beslis waar in die geval van Hennie Aucamp.
Die vroegste gedig wat ek kon opspoor waarin Hennie Aucamp sy verskyning maak, is Barend J. Toerien se “Die literatuurgeskiedenis” in sy bundel ’n Plek op die land van 1985 (Toerien 1985: 40). Die digter het in die VSA (”hier oorkant”) gewoon tydens die ontstaan van die vers:
Ek haal laag hoed af vir Van Wyk
al het hy met aksente ons taal verpools
en was met katolieke heiliges skoon katools;
hy bly my Uit die beek, my sonsondergangloosryk.
En Leipoldt my Leipoldt wat my hier oorkant bereik
met Steenwerp se kappertjies, viooltjies en voëls;
Dirk wat woorde inmoker soos spykers of koeëls
en Breyten en Blum sal op my penate-rak pryk.
En hier’s ek ook, al het ek so ’n klomp vrot goed gekrabbel
en Gladstone met sy triest en triestiger tristesse,
Ernst met vrese en al en sy benoude ure,
liewe Uys met sy ryme wat so aneenrittel,
en les bes Hennie Kortkuns met vir aching privates kure:
almal, almal boustene in ons kultuur-gemenebesse.
Dit is interessant dat Toerien na Aucamp verwys as “Hennie Kortkuns”. Aucamp was destyds veral as kortverhaalskrywer bekend, maar tog laat pryk Toerien hom tussen die digters op sy “penate-rak”, sy rak met huisgode. Heeltemal tereg, want in 1985 het Aucamp al twee bundels met poëtiese tekste die lig laat sien: Die lewe is ’n grenshotel – ryme vir pop en kabaret (1977) en Die blou uur – 50 cocktail-kwatryne (1984).
In die sewentigerjare van die vorige eeu was daar literatore soos André P. Brink wat daarop aangedring het dat Afrikaanse skrywers polities betrokke moet skryf. Aucamp het daarop gereageer met die uitspraak dat skrywers te alle tye die reg het om ook oor die “private ache” te skryf (Spies en Malan, 2004: 39). In sy gedig keer Toerien dit met ’n satiriese bedoeling om tot “aching privates”. Dit dui dan op Aucamp se baanbrekerswerk op die literêre terrein van gay seksualiteit.
In “Satelliet” uit Die blou uur (Aucamp 1984: 6) formuleer Aucamp sy standpunt omtrent die “private ache” soos volg:
Ek soek geen ander koppelasie
geen ander basis nie as tuis;
want tuis is waar my liggaam wentel
met elke hartstog ingekluis.
Gay seks met ’n onervare “rent piece” – een van die “hoerejongens” in “’n Queen abdikeer”, eweneens uit Die blou uur – is die onderwerp van “Debutant” (Aucamp 1984: 41). Die “aching private” word hier met die argaïese woord “roede” benoem:
Wat oorbly, ná uittrek, is weerloos sy lyf,
asketies en hoekig, en skaam vir bedryf,
maar sy klant pers dit af met gevat en gevoel
tot krampagtig, teen dagbreek, die roede verstyf.
In “Pissoir” (Aucamp 1984: 43) gebruik Aucamp die volkse woord “knuppel”:
Soet beswyming van die jag:
word Mister Bliss my lankverwag?
Hy rits hom toe, onaangetas,
asof sy knuppel toeval was.
Toerien het dus met sy satiriese formulering ten opsigte van ’n sekere aspek van Aucamp se werk die spyker op die kop geslaan. Aucamp self het in sy briewebundel Mits dese wil ek vir jou sê nogal skerp gereageer op die eensydige tipering van hom as ’n sosiaal onbetrokke skrywer: “Vir iemand wat teen wil en dank as die apostel van die ‘private ache’ gebrandmerk is, het ek meer as my deel op openbare terrein verrig […] Ek is dus gesteld daarop dat ’n briewebundel ook afreken met die vals beeld wat daar van my geskep is – moedswilliglik en ook kwaadwilliglik – as esteet van die ivore toring” (Aucamp 2013: 153).
Johann de Lange is die digter wat die meeste gedigte aan Aucamp gewy het. In 1991 dra hy die bundel Nagsweet as geheel aan hom op. Dit is sy mees uitgesproke versameling verse oor gay erotiek en daarmee erken hy Aucamp as wegbereider op dié gebied.
Vier jaar later neem De Lange die kwatryn “Kortkuns” in sy bundel Wat sag is vergaan (De Lange 1995: 24) op:
Wat lê langs die wraklyn
gebied dat jy kyk
en neerskryf, opteken,
voor die bene verbleik.
Met “Kortkuns” verwys De Lange waarskynlik nie net na Aucamp se kortverhale nie, maar ook na sy kwatryne en aforismes. Sedert Die blou uur van 1984 het daar nog ’n bundel kwatryne van Aucamp verskyn, naamlik Koerier – 69 opdrag- en ander kwatryne (1999). Die aforismes is opgeneem in Pluk die dag – aforismes en ander puntighede (1994).
Aucamp skryf dikwels oor sosiaal uitgespoeldes – dié wat hulle langs die “wraklyn” van die samelewing bevind. Dit is bekend dat hy dikwels op die Seepuntse promenade en by Graaff se Poel gaan “cruise” het – ook by die nudistestrand Sandy Bay.
De Lange se gebruik van die woord “wraklyn” het my geïnspireer tot die kwatryn “Enkellpendes: Seepunt” in Takelwerk (Hugo 2015: 27), wat ek ook aan Aucamp opgedra het.
dié wat langs die sosiale wraklyn loop
bly – self gestrand – enkel en alleen staande
met die dikwels beskaamde hoop op
intimiteit: die lyf se kontrabande.
Hierop reageer De Lange dan weer bewustelik of onbewustelik in die kwatryn “Bo die wraklyn” in ’n Hunkering se grein (De Lange 2016: 112). My frase “die lyf se kontrabande” word by hom “’n nag se buit”.
Vandag skuil die boland weer,
die vertes hang lang sluiers uit;
in gedagte loop ons langs die see:
grys waters, swart klip, & ’n nag se buit.
“Rust-mijn-ziel, ’n droom” staan in De Lange se bundel Vaarwel, my effens bevlekte held (De Lange 2012: 99). Onder die gedigtitel voeg die digter by: “vry na ’n droom van Hennie Aucamp”:
Altyd weer dieselfde droom: winter, & nag
op die Stormberge. Ek is verlate, oud & dors getrek,
kom aan te voet waar Rust-mijn-ziel altoos wag.
Van die opstal is net ’n murasie oor. Tolbos & sand
bied geen toeverlaat. Net die een vertrek
staan desolaat: die kombuis met ’n lig wat brand.
Ma sit voor die swart stofie met sy krom pote op die teëls.
Die tafel staan gedek, & by my ou eetplek
is daar netjies ’n stapeltjie pos met buitelandse seëls.
Ek gaan sit & in my hande lig ek hare, koud & kromgetrek,
& streel hulle of ek vir ’n oorsig kon vergoed, of ’n gebrek.
Dié droom word beskryf in Aucamp se bundel kortprosas, Kommerkrale – ’n AB-jap vir akoliete (Aucamp 1989: sonder pagina), staan daar die volgende inskrywing waarvan die titel ontleen is aan die naam van die plaas in die Oos-Kaap waar hy grootgeword het, “Rust-mijn-ziel”:
Altyd weer dieselfde droom:
Dis nag, en winter op die Stormberge; en ek is oud en verlate, en kom te voet op Rust-mijn-ziel aan.
Van die opstal het net ’n murasie oorgebly. Ook hier is geen skuiling nie. Maar wanneer ek om die hoek van die bouval stap, sien ek dat een vertrek bly staan het, en dat daar lig in dié kamer brand.
Ma sit vir my en wag voor die swart stofie met sy krom pote. Die tafel staan gedek, en by my ou eetplek is daar ’n netjiese stapeltjie pos met buitelandse seëls.
Ek gaan sit by Ma en streel haar hande soos ek nooit gedoen het toe sy nog gelewe het nie.
De Lange volg die oerteks redelik noukeurig. Die toevoegings “Tolbos & sand”, “oud & dors getrek” en “op die teëls” is klaarblyklik gemaak ter wille van die rymskema: aba cbc dbd ee. Die slot bevat wel ’n interpretasie wat nie in die oorspronklike voorkom nie.
In die laaste digbundel wat tydens Aucamp se lewe verskyn het, Skulp – kwatryne, verdig hy hierdie gegewe tot vier reëls in “Tuiskoms” (Aucamp 2014: 67):
Teen digte skemer bereik ek die plek;
erf en huis verlate, geen rokie wat trek
en lig agter die ruite nie; ongetwyfeld
is ek tuis: ’n leë dop vir my leë ek.
De Lange neem Aucamp se woord “roede” vir die penis (in “Debutant”, Die blou uur) oor in die tweereëlige vers “Roedes en roetes”. Dit staan in sy bundel Stil punt van die aarde (De Lange, 2014: 59):
Watter koers ’n man se lus hom ook vat,
sy eerste, grootste liefde bly sy lat.
In dieselfde bundel staan die gedig “Driemanskap” wat aan Hennie Aucamp opgedra is. Daarin word Aucamp se “hoerejongens” gewysig tot “huurjongens”. De Lange se skatpligtigheid aan Aucamp – wat hy met die opdraggedigte so gul erken – is dus nie beperk tot die ontginning van die gay tema nie, maar behels ook die gebruik van spesifieke woorde. Daarby kom ook De Lange se voorliefde vir die kwatrynvorm wat waarskynlik, ná Die blou uur, geïnspireer is deur die voorbeeld van Aucamp, wat weer in die voetspore gevolg het van I.D. du Plessis se Kwatryne van 1941.
Terug na Barend J. Toerien. Die titelgedig van sy bundel Parte speel handel oor die digter se liggaamsdele: neus, tong, oë en voël (penis). Die slotstrofe van “Voël” (Toerien 1991: 21) kan sekerlik gelees word as ’n soort teregwysing aan Aucamp én De Lange wat dikwels verslag doen van die manlike lid se doen en late:
Vleeslus word alleen gestil deur die liggaamlike,
al was jou rondtastinge, keer op keer
nooit alleenlik na die lyflike:
daardie tergende wolkskadu Liefde
het jy sonder ophou na gebéúr
en jou kop aanhou bly stamp, rou en disnis
en met wie en waar is nobody’s business.
Hennie Aucamp sterf op 20 Maart 2014. Twee jaar later verskyn Johann de Lange se digbundel ’n Hunkering se grein. Die laaste afdeling van die bundel, “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals” bevat elegiese verse wat hoofsaaklik aan Aucamp gewy is. Daar is ook ’n vers geskryf by die afsterwe van Adam Small en een vir C. Louis Leipoldt, “In memoriam: Slampamperman”.
Die afdelingtitel verwys nie net na Aucamp se grootwordplek nie, maar is ook ’n sametrekking van twee kortverhaaltitels uit sy oeuvre: “Rust-mijn-ziel: ’n aandgesang” en “Die hartseerwals”.
“By ’n tagtigste verjaarsdag, ’n verleentheidsvers” (De Lange 2016: 104) is geskryf vir Aucamp se verjaarsdag op 20 Januarie, presies twee maande voor sy dood:
’n Veilige tog deur die kielsog
van die woord.
Maak seker daar’s geen swerkaters
aan boord,
geen verstekelinge, resente swyne –
net genoeg raaswater & serafyne.
Serafyne is engele van die hoogste rang wat volgens Jesaja 6 lofliedere sing. Hulle word rymend gekontrasteer deur die afkrakende resensente oftewel “resente swyne” wat nie by die verjaardagviering welkom is nie. En in plaas van “swerkaters” moet daar genoeg – halfrymende – “raaswater” wees.
In “Oortog” (De Lange 2016: 116) word die boot-metafoor voortgesit:
Jy’t gehoop om op die middaguur betrap te word,
of wou teen skemering gereed vir die oorgang wees
met die stadskom wat traag oopgaan soos ’n neonblom.
Jy het die nag met sy slaaploosheid & pyn gevrees
wanneer jy oor inkswart waters die boot kon sien kom.
Die voorlaaste gedig in Aucamp se bundel Skulp is “Gesél” (Aucamp 2014: 69). Daarin beskryf hy sy slaaploosheid en stel hy hom die wekker as Charon voor, die bootsman wat hom oor die “inkswart waters” na die onderwêreld sal neem:
Deur die nag hoor ek my wekker tik –
wat verwag ek ook vir vyftig rand?
Ek sal my na sy swart humore skik;
my Charon na die Ander Kant.
Die hoogtepunt van die laaste afdeling in ’n Hunkering se grein is “Dagreis” (De Lange 2016: 109). Aucamp het in Tuine, Kaapstad, in ’n woonstel gewoon met uitsig op ’n stadsparkie. Dit is waar hy in sy slaap oorlede is.
In jou woonstel kom & gaan die lig,
kantel van ruit na ruit,
maar jy’s nie langer na die son gerig.
Die wind se ape-spel
van blaar na blaar bedaar,
& skadu’s ink die park tot luiperdvel.
Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.
Die reël “jy [het] ingekruip onder ’n grou karos” bevat ’n eggo van Aucamp se voorstelling van die dood as “’n ou man in ’n kros”. Dit kom voor in “Aandlied”, die laaste gedig van sy bundel Teen die lig (Aucamp 2012: 64):
Dood kom oor die bulte,
’n ou man in ’n kros,
en is hy in die leegte
moet ek my pen laat los
en eers ons padkos regkry
– die ou sal honger wees, gewis –
twee flessies duineheuning,
’n broodjie en ’n vis.
So vind Hennie Aucamp dan “op langelaas” rus vir sy siel – in sy eie gedig en in dié van Johann de Lange.
Bibliografie
Aucamp, H. 1977. Die lewe is ’n grenshotel – ryme vir pop en kabaret. Kaapstad: Tafelberg.
Aucamp, H. 1984. Die blou uur – 50 cocktail-kwatryne. Kaapstad: Tafelberg.
Aucamp, H. 1989. Kommerkrale – ’n AB-jap vir akoliete. Kaapstad: Tafelberg.
Aucamp, H. 1994. Pluk die dag – aforismes en ander puntighede. Kaapstad: Tafelberg.
Aucamp, H. 1999. Koerier – 69 opdrag- en ander kwatryne. Kaapstad: Human & Rousseau.
Aucamp, H. 2012. Teen die lig. Pretoria: Protea Boekhuis.
Aucamp, H. 2013. Mits dese wil ek vir jou sê – Briewe van Hennie Aucamp, saamgestel deur
Petrovna Metelerkamp. Hermanus: Hemel & See Boeke.
Aucamp, H. 2014. Skulp – kwatryne. Pretoria: Protea Boekhuis.
De Lange, J. 1991. Nagsweet. Bramley: Taurus.
De Lange, J. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, J. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, J. 2012. Vaarwel, my effens bevlekte held. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, J. 2014. Stil punt van die aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, J. 2016. ’n Hunkering se grein. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hugo, D. 2015. Takelwerk. Kaapstad: Human & Rousseau.
Spies, L. en Malan, L. (reds.). 2004. ’n Skrywer by sonsopkoms – Hennie Aucamp 70. Stellenbosch: SUN PRESS.
Toerien, B.J. 1985. ’n Plek op die land. Kaapstad: Human & Rousseau.

Daniel ‘n baie belangrike besinning oor Hennie Aucamp en Johann de Lange.
Met die verwysings wat jy ontsluit.
Die hunkering se grein by albei.