Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
10 December 20252 December 2025

Johann Lodewyk Marais. Johann de Lange, iets oor SENSAL en die gay-tema

 

 

Ek het op 1 Julie 1983, ná ek my diensplig voltooi het, by SENSAL begin werk met kollegas soos Charles Malan (die hoof),[1] Francis Galloway, Dorothea Olivier, Martjie Bosman, Betsie Steyn. Peter Kohler en kortstondig Mike van Graan (vir Engels), J.C. Kannemeyer en Lydia von Wielligh-Steyn (onderskeidelik vir Afrikaans en Frans) en H.C. (Manie) Groenewald (vir Afrikatale) het later bygekom.

SENSAL het soms sosiale geleenthede aangebied waarheen skrywers, dosente en uitgewers genooi is, terwyl dit ook die administrasie van die Louis Luyt- en Rapportpryse behartig het. Hierdie geleenthede het jong en aspirantskrywers met nuwe en gevestigde skrywers laat kennis maak. SENSAL was op ’n missie vir ’n “nuwe paradigma” in die letterkunde. Galloway, die redakteur van die literêre jaaroorsigte, en ander literêr-sosiologiese navorsing het die kollig op die Suid-Afrikaanse literatuur laat val, nuwe rolspelers betrek en sterker bande met potensiële medewerkers en medewerkers soos Elize Botha, T.T. Cloete, Jakes Gerwel, Stephen Gray en Chris Swanepoel uitgebou.

Veral die nuwe generasie resensente soos Hilda Grobler, Joan Hambidge en Renée Marais het in Die Vaderland, waar Aletta Greyling (Pakendorf) die boekeblad behartig het, opgeval. Elke maand is daar op die laaste Donderdag van die maand twee bladsye aan resensies van nuwe boeke gewy. Ek het enkele besprekings geskryf,[2] terwyl Johann noue sosiale bande met Aletta en haar man en die redakteur van die koerant, Harald Pakendorf, gehad het.

Met sy gedigte in Standpunte en debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) het Johann aandag begin trek. In 1983 het Sheila Cussons as buitebeoordelaar (nadat Henning Snyman en Lina Spies “nie een van die voorgelegde bundels […] op die verlangde peil vir die toekenning van die Ingrid Jonker-prys” bevind het nie, Johann as die wenner van die prys aangewys.[3] Cussons het die prys in Kaapstad aan hom oorhandig, waar hy onder meer Jan Rabie, Marjorie Wallace en Ingrid se dogter, Simone, ontmoet het. In dié tyd het hy by Klaas Steytler en Elsa Joubert tuisgegaan.

Selfs P.G. du Plessis moes ’n keer in die teekamer by SENSAL tydens ’n gesprek vol nydigheid en spot oor die jonger skrywers en letterkundiges “wat ons [die Sestigers] mos probeer ondermyn” toegee: “Daardie Johann de Lange kán skryf.”

By meer as een geleentheid het Malan, die komplekse hoof van SENSAL, laat blyk dat hy nie gelukkig is met veral die nuwe generasie resensente nie (hy het my byvoorbeeld verbied om Cloete se Allotroop [1985] vir Die Transvaler te resenseer) en sy homofobiese onderrok het in daardie jare soms uitgehang. Hy was ook agterdogtig oor wie almal betrokke of “informante” sou wees vir een of twee rubrieke deur “sluipskrywers” (soos L.I. Bertyn[4]), wat Malan en SENSAL in die visier gehad het. Om met Johann bevriend te wees, het soms agterdog en kritiek ontlok en gelei tot skerp teregwysing wat ’n mens se ore laat tuit het.

Ná sy versigtige hantering van gay-seksualiteit en ná sy tweede bundel, Waterwoestyn (1984), het Johann eksplisiet, uitdagend en verruimend op die onderwerp in sy werk begin fokus, en terwyl Akwarelle van die dors (1982) se buiteblad sonder enige kunswerk was (Human & Rousseau het my ook nie in verband met die ontwerp van my debuutbundel, Die somer is ’n dag oud [1983], insae in die ontwerp gegee nie), het die voorkoms van Johann se bundels baie verander en het hy gesorg dat hy by die besluitnemingsproses geken word. Dit het nie altyd sonder konflik geskied nie (soos ten opsigte van Nagsweet [1991]). Vir Waterwoestyn het Sheila Cussons ’n tekening van die naakte rugkant van ’n seun gemaak waarmee die liggaamlikheid en manlike erotiek in Johann se werk onderstreep is. Daarna het Walter Battiss, Judith Mason en, later in sy lewe, Christiaan Diederichs se werk op die buiteblad verskyn (en ook in Stil punt van die aarde [2014] Mason s’n) en aan sy werk ’n eie karakter gegee. Die samewerking tussen Johann en Mason verdien ’n studie op sy eie.

Met bundels soos Nagsweet (1991) het Johann die gay-tema ten tye van die eerste jare van die MIV/vigs-pandemie met durf aangepak. Sy titels het ook van sy oogmerke en ingesteldheid getuig, terwyl sy voorblaaie die manlike figuur sonder skroom voorgestel het.

[1] Johann Lodewyk Marais, “Hulde aan ’n komplekse mens”, ⟩https://www.litnet.co.za/hulde-aan-n-komplekse-mens/⟨

[2] Veral my besprekings van Breyten Breytenbach se Buffalo Bill (1984) en Charles van Onselen se The small matter of a horse: The life of “Nongoloza” Mathebula 1867–1948 (1984) het my groot vreugde gebied.

[3] Kyk Henning Snyman en Sheila Cussons, “Aanbeveling in verband met die Ingrid Jonker-prys, 1983”, Ensovoort 3(1), 1983, p. 12.

[4] Wat geblyk het Marcus de Jong van De Jongh Boekhandel in Ameshofstraat in Braamfontein en later Gerrit Olivier van Wits te gewees het. Oor De Jong skryf Darryl Accone: “Marcus de Jong: The legacy of a bookshop pioneer and champion of progressive thought”, Mail & Guardian, 21 June 2024. ⟩https://mg.co.za/Friday/2024-06-21-marcus-de-

Jong-the-legacy-of-a-bookshop-pioneer-and-champion-of-progressive-thought/⟨

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Johann de Lange in Sunnyside en Pretoria.
Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d