Desembergedig
Faktor 2 – Faktor 50
die reuk van Tropical dark tanning
Sonskerm faktor 2
en ek is terug as kind in ons strandhuis
by Gordonsbaai en die koel see
ek alleen saam met myself
op die rotse en die sand
neutbruin in ’n rooi bikini met geen
sterfling se aandag –
behalwe een keer toe twee
seuns agter my klein klippies
teen my rug en bene gooi
die see raak deesdae al warmer, maar
ek swem nie meer nie – ek stap
soos ’n gepanserde soldaat
paraat met Sonskerm 50 op my gesig
gewapen met sonbril en hoed –
globale verwarming ’n hittegolf
wat my agtervolg
©Marthé McLoud, 2025
