Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 December 2025

Resensie: “Stilles Gespräch” (Jan Pretorius, vert. deur Robert Schall)

 

 

Resensie: Stilles Gespräch: Gedichte zu Fotografien von Geo Jooste deur Jan Pretorius, vertaal deur Robert Schall. Naledi, 2025

Resensent: Marlies Taljard

 

In 2024 verskyn Jan Pretorius se boek Stil gesprek met foto’s deur Geo Jooste by Naledi. Hierdie pragboek is nou in Duits vertaal deur Robert Schall wat reeds naam gemaak het met sy vertalings van Duits na Afrikaans. Hy het onlangs die formidabele taak voltooi om Goethe se Faust in Afrikaans te vertaal en tans is vertalings van hom en Bernard Odendaal weekliks op Versindaba te sien.

 Stilles Gespräch is ’n foto-boek met 26 ekfrastiese gedigte na aanleiding van natuurfoto’s van die internasionaal bekende Bloemfonteinse fotograaf Geo Jooste. Die Duitse vertaling staan telkens langs die foto, terwyl die oorspronklike Afrikaanse gedig op die volgende bladsy regs (langs die linker blanko-blad) verskyn. Die eerste indruk is dié van verwondering, fyn afronding en ’n esteties bevredigende voorkoms. Die foto’s is adembenemend. Die gedigte meestal minimalisties-beskoulik. Soos verwag kan word by so ‘n boek, sluit die gedigte aan by die foto’s, hoewel nie een van die aspekte – foto’s en gedigte – oorheers nie. Die filosofies-beskoulike aspek van die gedigte is inderdaad ʼn interpretasie van die foto’s en het daardeur universele geldigheid.

Robert Schall vertaal hoofsaaklik woordeliks, hoewel nie woord-vir-woord nie. Omdat Afrikaans en Duits na verwant is aan mekaar, is so ʼn vertaalstrategie moontlik. Ook die bladbeeld van die vertaling bly meestal getrou aan die oorspronklike. Ek haal ter illustrasie die gedig “loutering” (p. 59) en die Duitse weergawe, “läuterung” (p. 57) aan. Die gedig staan langs ʼn foto van vier ruiters en hulle spieëlbeelde in ʼn dam.

 

loutering

 

wit, swart, skimmel, rooi

omgekeerd in lig voltooi

 

stille ruiterbeelde val

vasgevang in blink kristal

 

glimmering deur troebelheid

glansend uit onsuiwerheid

 

stralende verheldering

lig-uit-lig se suiwering

 

bo na onder, oor en weer

blou in blou gereflekteer

 

ewige sereniteit

vasgevang in dubbelheid

 

*

 

läuterung

 

fuchs uns schimmel, schwarz und weiß

werfen licht auf blaues eis

 

reiterstatuen im fall

aufgefangen in kristall

 

hochglanz einer lauterkeit

schimmer aus unsauberkeit

 

strahlend-klare läuterung

lichterzeugte säuberung

 

oben, unten, da und hier

blau in bläue reflektiert

 

ewige gelassenheit

viermal reiter/pferd zu zweit

 

Literêr-teoreties sluit die gedigte waarskynlik die sterkste aan by die idee van antropomorfisme en die posthumanisme deurdat die mens in die gedigte nie sentraal staan nie, maar dat gefokus word op die dier as aktiewe subjek wat “menslike” eienskappe vertoon, soos nadenke, bewuste besluitneming en ander kognitiewe prosesse. Daar is egter ook dié gedigte waarin die dier bloot gepersonifieer word en dit dus ’n metafoor word van die mens “agter die gedig”. Diere word hier dikwels “vertaal” in menslik-toeganklike taal. Deur eienskappe wat meestal aan mense toegedig word, aan diere toe te dig, word empatie met die dier gesuggereer en die leser aangemoedig om die natuurlike wêreld op vernuwende wyse te sien en te beleef. Enkele voorbeelde volg.

In die oomblik voordat die jakkals die muis verslind, word die volgende gedagtegang aan die muis toegedig:

 

Duits:

Wirst du, wenn seine Zähne

dich zerfleischen,

du deine Knochen knacken hörst,

als williges Opfer sterben,

damit sich der Kreislauf

vollenden kann?

  1. 9)

 

Afrikaans:

Sal jy dan, as sy tande deur

jou spiere skeur en

jy jou beendere hoor kraak,

gewillig as offer sterf

sodat die siklus

voltooid kan raak?

p.. 11

 

Ook die begin van die gedig “Verzweiflung” (Afr. “Vertwyfeling”) suggereer agentskap by die rooibok:

 

Duits:

Siehst du, nein, weißt du,

Impala Ricke,

dass du ergreifend schön bist …

  1. 13

 

Afrikaans:

Sien jy, nee, wéét jy,

rooibokooi,

dat jy skrynend mooi is …

  1. 15

 

Nietemin, die teoretiese aspek is nie vir my die belangrikste beoordelingskriterium nie. Dit is ʼn bundel wat emosioneel en suiwer esteties geniet kan word – veral ook deur ʼn Europese gehoor. Dit bevat immers dié kwaliteite wat Europese gehore verwag in ʼn koffietafelboek oor Suid-Afrika – én soveel meer!

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Marlies Taljard. “Völuspá”
Joan Hambidge. George Steiner en Christopher Norris: Wilma Stockenström se “Hierdie mens” →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot
  • Krige Visser. die wedstryd op Marchand

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d