I
In die laaste essay “After the book?” (opgeneem in On difficulty and other essays) besin George Steiner oor die leesaksie en boeke. Die privaatheid van lees word bedreig deur ander media. “Le Livre is the proven talisman against death” (1972: 192). Hierdie essay het oorspronklik in 1972 verskyn, maar al die stellings wat hy maak, is op die hier-en-nou van die letterkunde alhier van toepassing. ‘n Ernstige resensie moet ‘n “spoiler alert” hê anders word die leser ontstig, want jy gee dan die storie weg!
Boeke wat net ‘n ruk op ‘n rak staan of voetnote (endnote) wat moet verduidelik, omdat die leser nie ‘n benul het waarvan die skrywer praat nie.
En die verheerliking van die panteon word afgemaak as hiërargies of akademikaans. Hoeveel mense ken nog ‘n gedig uit die kop uit? En ons praat nie nou van “sulke liqourice all-sorts versies” soos Wilma Stockenström dit pragtig opgesom het in haar gedig “Vooraand gekkedag”. Opgeneem in Hierdie mens wat in 2013 verskyn het.
Hierdie essay behoort op alle letterkunde departemente se voorgeskrewe lyste te wees. Of op die kennisgewingbord.
II
‘n Digter wat op vele van hierdie kwessies reageer, is Daniel Hugo. In sy bundel Kategismus (Tursvy, 2025) is hy soms speels. Ander kere ernstig. Maar strykdeur is die leser (altans hierdie leser) bewus van ‘n gesprek met die kanon, implisiete en eksplisiete toespelings, lykdigte, die werk van die proefleser, die funksie én genot van ‘n private boekversameling, tyd van verhuising, die ontginning van ‘n landskap …
Klankontginnings en taalspel is hier volop.
Peepshow
gramati-kaal staan ek voor jou
mét koppelteken maar diskreet belig
kompleet oudio-visie-heel
in die loervertoning van die gedig
(76)
Grimmige grammatika
alte bewus van sy verganklikheid
praat hy reeds in die oorlede tyd
(130)
Daar word gespot met die houvas van die kerk en sondes. Op die agterblad staan daar:
Versugting
ek is op die ouderdom dat traumas en sondes
my inhaal, dat Freud en Calvyn my lewe knou:
was ek maar ʼn onbevange heiden sonder
kennis van pastorie of psigologie, sonder siel en gees
blote vlees, vol verwondering oor die hier en die nou
Die kategismus van hierdie bundel is ‘n terugkyk op sy eie oeuvre soos Johan Myburg tereg uitgewys het in sy besinning oor hierdie bundel op die Versindaba:
Op dié manier verstewig Hugo sy stem, maar gaan hy ook terugskouend in gesprek met sy oeuvre:
In Kategismus is dit die versugting, iewers tussen “onbevange” en “verwondering”, wat die verse ten opsigte van aanslag maar ook inhoudelik rig. Ontgogel, eerder as sinies of openlik bitter, is dié verse van “ʼn ongelowige Christen”, soos Hugo in 1998 al in ʼn onderhoud na homself verwys het. “Ek is opgevoed as Christen, my hele verwysingsraamwerk is Christelik-Westers; ek kan nie daarby verby nie. Maar tot die dag van my dood bly ek ʼn ongelowige Christen.”
https://versindaba.co.za/2025/04/23/resensie-kategismus-daniel-hugo/ Besoek 26 Januarie 2026
Hugo is ‘n belese digter. Hier is verse vir Hennie Aucamp en Johann de Lange. Vir laasgenoemde ‘n verjaarsdagvers wat nou ‘n pynlike huldeblyk word. Emily Dickinson (in ‘n grappige doggerel), Thomas Hardy, Stephen Spender, o.a. Van Wyk Louw, Boerneef, Herman de Coninck wat hy vertaal het. En Kobus Lombard.
Kategismus as leerboek en Hugo se kennis van die Dietse letterkunde is uitsonderlik. Ons het op presies dieselfde tyd in die Afrikaanse letterkunde aangekom. Ons het deur die jare dikwels verskil, maar ‘n letterkunde moet verskille kan huisves. Praat openlik eerder as agter die hand.
As redakteur by die uitgewershuis Turksvy doen hy nou ook belangrike werk. Twee digters het dit bevestig aan my.
Oor sy werk is die volgende deur my geskryf:
https://joanhambidge.blogspot.com/search?q=daniel+hugo Besoek 28 Januarie 2026
Joan Hambidge
Kaapstad
28 Januarie 2026
Bronne:
Eliot. T.S. 1920. The Sacred Wood. Londen: Methuen.
Steiner, George. 1972. On difficulty and other essays. Oxford: Oxford University Press.
Korte mette
By ‘n bekendstelling van jou bundel,
verwys jy speels na ons as die Taal
se twee grootste digters. Letter-lik.
Oor hierdie mikterisme (speels) lag-
gend die gehoor, wyl jy voorlees, Dani-hel,
sonder ‘n deelteken, soms in die leeukuil,
ander kere op die bont babbeljoentjie,
o die ruim neem ‘n hele lewe in beslag:
dit weet ons wel, dit weet ons wel.
O meester van die sonnet en kwatryn,
hierdie vers is nie ‘n nose up nie,
nee nee net ‘n amperse sonnet
van ‘n nomadiese, buigsame ou Let.
© Joan Hambidge
