Pa-staan-tyd
Kersfees, 2025
Skrynwerker Josef,
Joods verloof maar onveroorloof tot die liefdesdaad,
swanger jonkvrou nogtans aan die hand (per eselsleiriem),
moes Bethlehem toe, stamvadersdorp van hom,
om daar op staatsbevel getel te word.
In die strooi en stront daar van ’n stal
het hy die kind gehoor en -sien gebore word
waaroor ’n droombesoeker dit eens had –
nie syne nie!
Toe kom skaapwagters wat,
ewe uit die veld geslaan,
vertel dat engele hulle aangesê en toegesing het
om te gaan kyk waar lê ’n lankbeloofde redder;
uit die Ooste daag fynkammers van die hemeltranse
by die staldeur op
al agter, glo, ’n leidstêr aan –
die hande bak, soos skryne vol geskenke, voor ’n koning.
Hy, Josef, stáár
na wat daar lê en wiegel in die arms van Maria,
sý Maria ….
G’n anderman se kind nie.
Állemanskind.
Alomliefdeskind.
Vir Wie hy en sy ’n wyle
pa en ma moet staan,
soos hierop hóéveel haas verdwaasdes
bestemd vir tuiskoms in geloof.
© Bernard Odendaal, 2026
