Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
10 February 2026

Joan Hambidge. George Steiner, Eddy van Vliet en “Hierdie mens”

 

I

Eddy van Vliet se Na die wette van afskeid en herfs is vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea in 2021. In 1998 verskyn ’n Pleidooi vir die poësie ook by Protea.  Heilna du Plooy het dit vertaal.

Twee bakens in ons bedryf. ‘n Gesiene digter en iemand wat belangrike stellings oor die poësie gemaak het. Hierdie vers is ‘n vertaling deur John van Tiel in 1994.

 Death

Death. Don’t be afraid. Do not dither
before my door. Come on in.
Read my books. You are part of
nine out of ten. I know about you.

Do not fool me with afflictions
with names nobody dares to mention.
Don’t put me to bed among dribbling
children who know not what they say, of age.
Do not shake money out of my pocket
for pointless hours in classy clinics.

Wipe your feet and make yourself at home.

 

© Translation: 1994, John van Tiel
From: Farewell and Fall
Publisher: Dedalus, Dublin, 1994

 

Eduard Léon Juliaan van Vliet (1942-2002) was ‘n Belgiese skrywer en regsgeleerde. ‘n Mens lees telkemale hoe die verlating van die vader in sy gedigte na vore kom.

Oor albei boeke het hierdie leser indertyd gunstige resensies geskryf.

 

 

Resensie | Eddy van Vliet – Na die wette van Afskeid en Herfs | Protea, 2021

 

Eddy van Vliet – Na die wette van afskeid en herfs (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2021. ISBN: 978-1-4853-1179-9

Resensent: Joan Hambidge

 

Eddy van Vliet se bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet. So staan dit opgeteken op die buiteblad van hierdie verruklike, hartgrypende, lieflike versameling vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea uitgewers.

Dis helder, glashelder gedigte en oënskynlik eenvoudig. ‘n Dieper lees, wys op die parlando-styl en hoe vernuftig beelde sluit. Met ‘n slot wat jou in die maag tref.

Die digter se verse is outobiografies en van sy beste verse handel oor die versaking van die werklike vader wat die spreker probeer terugwen en begryp in die neerskryf van gedigte. Abandonment / versaking is immers die basis van Freudiaanse denke. Dit is weer herleibaar na die verhaal van Oedipus met vaderversaking en -dood.

Die vaderfiguur in hierdie teks word deur die gedigte opgeroep, aangekla en begrawe. En die spreker gaan in die herinnering terug na die oomblik van hierdie abandonment soos in die gedig “Pa” (17). En helaas is die mes verroes en dit is hierdie gevoel van magteloosheid om die vader te konfronteer en oorrompel wat enorme psigiese pyn veroorsaak, maar ook die drif (libido) word vir die kragtige verse.

In die gedig “Die stad” (83) gebruik hy die ont- (negatief): ontneem, ontloop, ontkom en herhaal ontneem. Dit herinner aan Eybers se gebruik van die negatief soos briljant deur Hein Viljoen uitgewys in sy artikel “Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” (Literator | ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Besoek 20 September 2021).

By Van Vliet word die ont- egter omgekeer en die gedig herstel die orde van dit wat die “jy” hom ontneem het. Die digter is ‘n meester van verlies en die ingehoue aanklag wat daarmee saamgaan.

Die dood word direk aangespreek (“Dood”, 89) en uitgenooi om binne te kom:

 

Vee jou voete af en wees welkom.

 

Uit die bundel Glazen (1979) word genoeglike verse opgeneem wat elke liefhebber van whisky en konjak sal geniet. En jenewerdrinkers word ook vermaak.  Die konjakglas word ‘n heer met ‘n ronde pens vir wie Napoleon groete stuur met die slot:

 

Dit is die ware lewe

armoede is ‘n rooi leuen. (33)

 

Dit is my soort digkuns, moet ek openlik bely: outobiografies sonder dat jy hoef te gaan koekeloer in die kaste van die digter om die donker geheime na vore te bring. Die gedig word daardie donker kis vol familiegeheime, maar word ook méér as outobiografie. Die ware digkuns moet immers altyd verby die outobiografiese of konfessionele beweeg in die domein van die primordiale. Daarom is Anne Sexton se gedigte so treffend. Bloedskande en skandale staan opgeteken, maar die gedigte word meer as ‘n bandelose skinderkolom.

 

Hier is ‘n pragvers:

 

Vakansie

 

Dit was warm. Dit was Spanje waar ek vir briewe wag

en telegramme wegstuur. My suster wat nie ’n suster is nie

van verdrinking red. ’n Pa wat my verfilm, te lank in beeld

volgens haar wat hom van my vervreem het.

 

Dit was Spanje waar ek die haat verduur

soos brandnetelvuur ná ’n woeste gespeel in die veld,

die rykdom ervaar soos ’n bediende

die skittering van die silwerservies.

 

Dit was met my rug op Franco se portret gedraai

dat ek in my gedagtes die volmaakte moord kon pleeg.

 

 

En hier is nóg een van sy verse, in die oorspronklike taal:

 

 

Afscheid van mijn vader [1]

 

Ik wil alleen maar zeggen dat ik het niet weet.

Dat ik het allemaal niet zo duidelijk zag,

zoals gebleken achteraf.

 

Het tuinhek diende plotseling gesmeerd.

De lege plekken op de muur bedekt en vlug

vlug de geur van scheerzeep weg.

 

De kalende die Homerus declameerde. De maïsvretende.

De charmante die uit Frankrijk parfum meebracht. Hadden zij

ook hun koffers gepakt, de huisvrienden van de vrije dag?

 

Ik schreef het reeds meer. Die morgen

liep hij van de keuken naar de straatdeur

en kwam niet weer.

 

Uit: Jaren na maart, 1983.

 

Eddy van Vliet (1942-2002) sorg vir vele leesplesiere.

 

 

Monday, March 25, 2013

Eddy van Vliet – ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998)

 

Eddy van Vliet. ’n Pleidooi vir die poësie. (Vertaal deur Heilna du Plooy). Protea Boekehuis, 1998. ISBN 0 620 22858 X.

Resensent: Joan Hambidge

 

Ons leef in ‘n wêreld waar die  digter ‘n agtergeblewene geword het. Oralsoor is dit die tyd van die romanskrywer, van die vertelling. Kyk maar net hoé bloedloos het ons Afrikaanse poësie geword.

Die ou bestendige name lewer dieselfde werk. Die jong talente is of dood-stil of tokkel al hul metafore op die verhoë uit. Self-gepubliseerde poësie-tydskrifte is tam. Oor die “gehalte” is daar ook nie meer eenstemmigheid nie en die gebruis op die digterlike toneel het plek gemaak vir ‘n skouerophaling.

Heilna du Plooy se vertaling van Eddy van Vliet se Poëzie: Een Pleidooi maak immers weer die debat wakker. Van Vliet is ‘n regsgeleerde en praktiseer tans as advokaat in Antwerpen. Du Plooy is digter en akademikus en hierdie kombinasie verduidelik haar belangstelling in die onderwerp.

In haar voorwoord skryf Du Plooy dat dit dan ook interessante perspektiewe vir die leser oopmaak wanneer ‘n digter oor sy/haar eie werk kommentaar lewer. Om Van Vliet se elegante essay op te som in enkele sinne, sal nie reg laat skied aan die bedoeling van hierdie teks nie.

Tog is daar ‘n paar interessante stellings wat ‘n mens bybly: die digter kyk soos ‘n kind na die werklikheid; sintuie word oopgestel; vir hom/haar is die vlinder ‘n dubbelgevoude liefdesbriefie op soek na die adres van die blom (Jules Renard).

Die digter het volgens die man-in-die-straat nie kontak met die werklikheid nie; nee, skryf Van Vliet, die digter het werklike kontak in ‘n lewe waar ons oorval word met te veel taal, te veel advertensies, te veel sinnelose beelde. Die digter heraktiveer weer die betekenis van woorde se oorsprong en maak die blik op die verdorwe werklikheid nuut.

Hy verwys ook na Enzensberger se beroemde ars poetica van 1963 wat soos volg begin:

 

Moenie odes leer nie my seun,

lees die treinroosters: hulle is noukeuriger.

Rol die seekaarte op, voordat dit te laat is.

Wees waaksaam, moenie sing nie.

Daar kom ‘n dag waarop hulle opnuut lyste

teen die deure kom vasspyker

en die wat nee sê op die bors sal merk (p. 13).

 

Daar word hiermee ‘n ironiese blik op die funksie van die digkuns gegee waarvan die nutswaarde nie herleibaar is tot ‘n teken – $ – nie, maar iets is waarsonder ons nie durf bestaan nie.

Ook kan die digkuns nie die politieke werklikheid verander nie; al was dit dan die eis van digters soos Pablo Neruda, Erich Fried, Jevgeni Jevtoesjenko, Rafael Alberti, Hans Magnus Enzensberger, Bertold Brecht en ander.

Die gedig transendeer die politieke werklikheid, omdat dit praat met universele beginsels. Dit mag mense op ‘n indirekte manier insig gee in hul situasie, maar dit verander nie werklikheid op ‘n direkte manier nie. Ook wys Van Vliet daarop dat besinnings oor die digkuns dikwels tot stom-vervelige herhalings kan lei. Sy Pleidooi – gelewer voor nie-ingeligtes – wil juis die dromende denke verduidelik en mense bewus maak van die feit dat hulle die kind (en hierby inbegrepe die digter) in hulself doodgemaak het.

Dit was Lorca, onthou ek, wat so ‘n kreatiewe ouma had. Selfs water wat kook is beeldend, metafories aan hom oorgedra. Hierom waarskynlik dat hy tot selfs in sy laaste gedigte nooit die blik van die kind afgesweer het nie.

Ek dink in hierdie verband aan sy breirympie – vertaal deur Uys Krige en opgeneem in Spaanse dans (Perskor, 1991, p. 41):

 

Mammie,

ek wil graag silwer wees.

 

My kind,

dan sal jy koud kry, ek is bevrees.

 

Mammie,

ag, was ek maar van goud gemaak.

 

My kind,

dan sou drie dieners oor jou waak.

 

Mammie,

ek sou ‘n diamant wil word.

 

My kind,

dan slyp hulle jou mos klein en kort.

 

Mammie,

was ek maar ou Kleurklasie.

 

My kind,

dan kry jy snags skoon bewerasie.

 

Mammie,

was ek maar ‘n waterval.

 

My kind,

jy sal verkluim … en val en val.

 

Mammie,

ek sou graag ‘n vlam wil wees.

 

My kind,

dan kwyn jy … en dis klaar met Kees.

 

Mammie,

brei my in jou kussing in.

 

Dit, ja dit,

my skat,

ek gaan nou op die plek begin!

 

Die boek is voorsien van ‘n goeie bibliografie en die werklike bonus is ‘n handvol goeie gedigte van Van Vliet self. In die lieflike “Verliefd” (p. 45) word die liefde soos volg tipeer:

Liefde als een veelvoud van vergissingen.

 

(…)

 

II

Hierdie mens van Wilma Stockenström bevestig alles wat Eddy van Vliet oor die digkuns skryf. En George Steiner ook.

Is daar by Stockenström ‘n pleidooi vir die poësie? Bepaald.

 

Hierdie mens

Hierdie mens se gesig val uitmekaar.

Die hand los vrug en vleis en pen.

Die voet swik sommer gelykgronds.

 

Hierdie mens noem homself inskiklik mens,

lag ‘n klankbaan na dit wat wentel,

splits en splyt, spikkels wat spikkel,

 

diepdonkerdisarooi, sporrieblou se blou.

Van hierdie mens bly net geluid oor

wat vorm soek om in te woon.

(24)

 

Die soeke na klank in die vers en kleure van die disa en sporrie word in die vers ópgevang:

wat ‘n vorm soek om in te woon.

 

 

https://pza.sanbi.org/heliophila-coronopifolia Besoek 9 Februarie 2026

Family: Brassicaceae

Common names: Blue Flax, Wild Flax, Showy Sunflax (E), Blousporrie, Sporrie …

This dainty, blue annual is an absolute delight when it comes into flower. Upright and graceful, with small cups of bright blue flowers,the plants appear to dance in a light breeze.

 

*

 

Een van die verwyte wat teen die poësie gemaak word, is dat niks met die werklikheid te make het nie, skryf Van Vliet op bladsy 26.

‘n Goeie gedig laat ons die werklikheid skérper sien én hoor. Hy haal dan ook Rutger Kopland se tere vers aan op bladsy 28:

 

Jonge sla

Alles kan ik verdragen,
het verdorren van bonen,
stervende bloemen, het hoekje
aardappelen, kan ik met droge ogen
zien rooien, daar ben ik
werkelijk hard in.

Maar jonge sla in september,
net geplant, slap nog,
in vochtige bedjes, nee.

uit: Alles op de fiets (1970).

 

By Stockenström ‘n “waarneming en gevolgtrekking” (32).

Met elke herbesoek van Hierdie mens word die leser getref deur die taalspel en verwysings na Dante:

 

Lasciate ogne speranza, voi ch’intrate (19).

 

En oor Dante skryf Steiner insigryk in sy studie: “Dante Now: The Gossip of Eternity” opgeneem in On Difficulty.

(Word vervolg)

 

Joan Hambidge

Kaapstad

9 Februarie 2026

Bronne:

 

Eliot. T.S. 1920. The Sacred Wood. Londen: Methuen.

Steiner, George. 1972. On difficulty and other essays. Oxford: Oxford University Press.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. George Steiner en Christopher Norris: Wilma Stockenström se “Hierdie mens”
Joan Hambidge. Eddy van Vliet en “Hierdie mens” →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d