I
In gedigte oor die maan aktiveer Wilma Stockenström ‘n boeiende gesprek met ander tekste. Eddy van Vliet se “Aardedonker”, opgeneem in Heilna du Plooy se vertaling ’n Pleidooi vir die poësie (Protea: 1998).
So klink Stockenström se gedig “n Mondvol”:
Sekelmaan, groei nie,
taan nie, hang net
oopmond en wag
dat iets ingevlieg kom
en musiek maak,
fagot, kitaar, tamboeryn,
‘n mondvol soet
toonlere engelrein af
aarde toe, ver boontoe.
Engelrein in Engels:
angelic, pure, immaculate, or innocent. ‘n Duitse adjektief wat dui op ‘n sondelose aard.
‘n Sekelmaan is die maan in sy wassende of afnemende fase, wanneer dit slegs as ‘n dun, geboë lyn sigbaar is, soortgelyk aan die vorm van ‘n sekel. Dit simboliseer dikwels verandering, verganklikheid en oorgangsfases, aangesien dit die oorgang tussen ‘n nuwe maan en ‘n volmaan verteenwoordig. Die vorm word vergelyk met ‘n sekel. (Also sprach google.).
Ook die tydelikheid van alles en die bittersoet aard van ons bestaan.
‘n Posisie van liminaliteit dus en hierdie leser dink ook aan Maria/Marié in Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937) wat handel oor onbeantwoorde liefde en ‘n boek waarin die gespletenheid van die ek-verteller belangrik is.
In die gedig is daar toonlere. Stygend en dalend, immer die grondslag vir harmonie. Hierom is musiek in nie-Westerse lande vir ons vreemdklinkend.
Hier is die sekelmaan wagtend op ‘n musiekinstrument in die mond geplaas…
Maar dit verander van fagot, na kitaar, na tamboeryn …
En hier neem die gedig mý na Alison Louise Balsom (gebore 7 Oktober 1978) daardie uitstaande Britse trompet-solis.
Luister hier:
Alison Balsom, ‘Haydn Trumpet Concerto in Eb, 1st mov …
YouTube·Alex Suzano·23 Nov 2009
II
So klink Boerneef se “Ek het ‘n vreemde voël hoor fluit”:
Ek het ‘n vreemde voël hoor fluit
in die matjiesgoed by Doringspruit
dis ‘n mooi lied
dis ‘n treurige lied
want die voël is alleen in die fluitjiesriet.
https://versindaba.co.za/2023/08/14/joan-hambidge-litotes/ Besoek 15 Februarie 2026
Uiteindelik kan ‘n mens opmerk dat die leesproses altyd een van assosiasies is. Want die digter skep ook ‘n wêreld van beelde en klanke. Beeldklank.
En so dig Seamus Heaney in “The given note” (1969):
https://voetica.com/poem/6790 Besoek 15 Februarie 2026
III
En wanneer ‘n mens die digter Stockenström hoor voorlees, besef jy daar is ‘n wêreld agter die klanke.
Die vertolking van ‘n gedig met ‘n voorleser deur ‘n opgeleide aktrise, lei ons na die ongesêde. Uiteraard is dit nou maar so dat sekere digters eerder nie moet voorlees nie.
Want dit rammel en drammel.
Maar wanneer digters rég voorlees, word dit ‘n mondvol soet toonlere.
En: die klank van voorlees én die tekens voor jou op papier (of op ‘n rekenaarskerm) is presies daardie soort opposisie wat ons vind in Sy kom met die sekelmaan.
IV
Klank en ritme. Rym versterk die musikaliteit soos alliterasie en assonansie.
Kyk wat doen Johann de Lange in hierdie volgende gedig:
Ommesientjie
LSD trip
Na binne in arabeskminiatuur
word op wat buite is voortborduur.
Die nege chakras vibreer polifoon,
elke klank iriseer ’n pouoog-patroon.
Ook wat pervers is, trek jou, wat giggel of gil:
deur tyd se sleutelgat word alles paskwil.
Wat skedelig mooi is, of geil, of onguur,
word ’n tydlose oogwink jou tweede natuur.
(Die algebra van nood. 2009).
‘n Paskwil (pasquinade) is ‘n satire of spottende, lasterlike vers. In ‘n Nederlandse mediese konteks verwys dit na medikasie vir kanker, aldus wyle Johann de Lange.
Binne en buite …
Die nege chakras vibreer polifoon,
elke klank iriseer ’n pouoog-patroon.
Buite en binne.
Die rympatrone en die gedig word polifonies en meerduidig.
Nou post De Lange dood, kan ‘n mens die vers lees as ‘n ervaring van die oorgang na die ander ruimte. Die tyd se sleutelgat …
En die nadoodse ervaring waar mense verskillende kleure sien en klanke hoor. Daardie tydlose oogwink tussen lewe en dood.
In ‘n ommesientjie is dit verby.
Joan Hambidge
Kaapstad
15 Februarie 2026
