Die Reuk van Proteas
(Na publikasie refleksie)
los jaloers-buitjies reën
op ander man se plaas
teen suikerbos se rand
dra weer die reuk van proteas
in die wind wat nou waai
oor my nadors droogte
soos gerugte van reën
hoop ek op die waardering vir my woorde
en wonder wat dit alles sal beteken
vir hulle sonder kennis van die nag
die alleenworstel met klanke
wat gewond word
op die tong van ander
en so kry ek weer die reuk van proteas
die hoop op sukses
dit hang hier
oor die dam buite die dorp
sit ek en luister
na die sagte suig aan die wal
die lispel van spoelklippe wat
onder koel water wag
die geslyptes rus nou
na die oerplons
die eenmalige rimpeleffek
die stadige sink en sirkelswaai
die donker diepte in
waarbo wit wolke
beloftes van reën
plets in die verte
wanneer water woorde word
wat in die metrum van die tyd
ongemond en koud
keer op keer aborteer
voordat iets uiteindelik
deur die spektrum beur
en broos soos borrels styg en stamp
in die buik van moeder aarde
se holte in my kop
meet monsters met dom bewegings
van my hand my binnekant
in lepels vol ongemak
my vingers dom grypend
na die potlood in my sak
skryf ek nou op
papier wat nie kan staan
teen die vuur wat kom nie
© Stefanus S Vivier, 2026
