Weder-opstaan (-ding)
daar kom ‘n dag
(so glo die mense)
dat al wat lewe
en al wat dood finaal
wakker geskrik sal word
deur die blaasgeraas van ‘n trompet
die aarde wat beef en skeur
die oopgaan van die graf
vir die finale skei van skaap en bok
maar ek verkies (vergewe my)
dat die weer-se-opstaan-ding
sal begin met bekende geluide
soos die rooidag kraai van ‘n haan
die dieseldreun van ‘n kragopwekker
honde wat snuffel op die agterstoep
die buitedeur wat toeklap agter pa
die knars van wit gerypte gras
onder voet as hy stal toe loop
ma se besigwees in die kombuis
die reuk van hout wat vlam
die roer van kole in die stoof
die klingel van koppies
die aroma van koffie
vir die kinders wat nog ‘n rukkie
bly inlê warm geknus onder dons
teen die koue van ‘n winternag
omdat hulle uiteindelik weer
vir ‘n laaste keer tuiskom
en in die huis van my Pa met
sy baie kamers wakker word
© Stefanus S Vivier, 2026
