Vir myself, op my verjaarsdag
Ek skryf sinne, maar in die nag wanneer boogskutters rus
Wanneer die Negester helder oor ons skitter
en die maan in die ooste sekel
Wanneer die nag swyg oor rots, fynbos en berg
Wanneer fosfor ‘n oerson laat oopvlam uit die see
En alles, alles aan ons almal behoort
Woorde is ook almal s’n
net mý sinne is myne
waardeur ek herinneringe oopskryf
Waters laat vloei
Lig laat brand
Klanke oopdraai
Wonders laat verwonder
Dieper in verdiep
En gedagtes oorsein
Ek is met water en woorde vir die mond gebore
en ‘n waaiering van sterre wat soos lig uit my sproei
en wie ek aanraak, laat ek skitter
My woorde is lig
tergend, onnutsig
soos die klikkerpaddas in my tuin
murmelend soms soos water oor ‘n rots
of ‘n waterval wat ‘n reënboog span
– en soms stout
(watter heiliges uit die diereriem het my verlaat en versaak?)
My woorde bot en blom
saai stuifmeel vir plesier
Word ‘n wegwyser, ‘n voetpad, ‘n oortog
Niks kom maklik nie
Ook dade wat nie aan die ewigheid grens:
Ek weet, my waterwoorde, klipwoorde, rotswoorde, wolkwoorde
is gebek, is geboek
Seën my woorde met sterresproei
Besweer dit met wierook
Geur dit met boegoe en hotnotskooigoed
vir bedwelming, ‘n ander verbeeldingsfeer
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte ook in my siel bly skitter
© Gerard Scholtz, 2026
