Die Engel in die Rots
Ons verloor baie in ‘n leeftyd
soveel drome verwaai in die wind
so baie deure wat agter ons toegaan
soveel vriende wat verdwyn in die nag
soveel herinneringe wat wegstap
sodat al wat oorbly die stille self is
vasgevang in die woorde van ‘n gedig
wat wegkruip in die kamers van die hart
en die geraas in die kop stilmaak
omdat ons finaal die orde van dinge verstaan
nie meer waarheid met leuen verwar nie
of klippe met geweld nie
verstaan dat as alles gesê is
tussen jou en ander
die tyd vir die groot stilbly aanbreek
want hy wat homself verloor
sal homself vind
hy wat homself oorgee
sal homself oorwin
en die wat stil raak
sal hulle plek vind
soos ‘n vergete spoelklip
geslyp deur die lewe
totdat ‘n wandelende digter
dit raakloop en optel
sy polsende hart hoor klop
en die engel in die rots vrylaat
© Stefanus S Vivier, 2026
