
Koos Kombuis (André le Roux du Toit) is op 5 November 1954 in Kaapstad gebore. Sy familie trek gedurende sy kinder- en skooljare baie rond, maar vestig uiteindelik in Stellenbosch. Taal was nog altyd vir Kombuis iets wat hom na aan die hart gelê het. Hy leer lees op ’n baie vroeë ouderdom en tik reeds van kleins af romans op sy pa se tikmasjien. In die vroeë tagtigs skryf hy vir twee jaar op vryskutbasis vir Huisgenoot kortverhale. Hy publiseer ’n hele paar romans, kortverhale en gedigte onder die skrywersnaam André Letoit.
In die laat 80’s verskyn sy eerste CD, Ver van die ou Kalahari, by Shifty Records en word dadelik deur die sensuurraad verban. Koos se musiek word verder as protesmusiek gebrandmerk deurdat hy in 1986 deelneem aan die Voëlvry Toer saam met ander bekende musikante soos Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand. In 1994 behaal sy CD Elke Boemelaar se Droom kommersiële sukses en vestig Kombuis hom in die Afrikaanse musiekbedryf.
Hy sien homself egter eerder as skrywer as musikant. In 2003 verskyn sy derde roman Hotel Atlantis, gevolg deur The Secret Diary of God (2003) en Raka die Roman (2005). In 2013 vertaal en verwerk Kombuis die I Ching in Afrikaans (i-Tjieng, ‘n GPS vir Verdwaalde Siele) en in 2018 verskyn die roman Blasjan en die Blou Kitaar . Behalwe vir romans verskyn daar ook talle kortverhaalbundels (My Mamma is ‘n Taal (2001), Afrikaans my darling (2003), Die Reuk van Koffie (2011)) en memoirs (Seks & drugs & boeremusiek – die memoires van ‘n volksverraaier), om maar ‘n paar te noem, uit sy pen.
Sy eerste digbundel, Suburbia, verskyn reeds in 1982 en word gevolg deur vier ander oor die volgende dekade of twee. Sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die dye trek die dye aan, Liggaamlose taal, Goudaar, Kraaines en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Vandag wil ek my blou skoene dra (2018) is Kombuis se eerste gedrukte digbundel in meer as twintig jaar.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
