Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 March 2026

Resensie: “hartklop en asem” en “lugspieëling” (Maletta Fourie)

 

Resensie: hartklop en asem, deur Maletta Fourie. 2022, Turksvy Publikasies EN lugspieëling deur Maletta Fourie, 2024. Turksvy Publikasies

Resensent: Elizabeth van der Berg

 

Maletta Fourie is in 1942 gebore en het grootgeword op ’n plaas in die Carnarvon-distrik, met die Groot-Karoo se vlaktes en ruimte om haar. Sy studeer kuns aan die Universiteit van Kaapstad en daarna mode-ontwerp. Sy was eers getroud met Pierre Swart en ná sy dood met die dramaturg Pieter Fourie. Skilder en skryf is haar passie.

 

 

hartklop en asem (2022)

Maletta Fourie se debuutdigbundel hartklop en asem verskyn in 2022 presies een jaar na die afsterwe van haar man, en is ook opgedra aan hom. Die gedigte is in vyf afdelings ingedeel: “die dag breek”,  “’n vroeë duif”, “donkermaan”, “kiekies” en “die wêreld krimp”.

Die meerderheid van die verse handel oor die natuur, oor voëls, diere, plante natuurverskynsels, die maan, die see, en meer. Sy skryf egter ook oor liefde; nostalgies oor herinneringe, oor die Karoo; en as ouerwordende, oor hartseer, verlies, verlange, en oor afgestorwenes.

Haar gedigte is sterk beeldend en sintuiglik wat veral die visuele, maar ook die reuk-,  gehoor- en tassintuie insluit. Haar liefde vir die natuur wat sy met haar kunstenaarsoog fyn waarneem, kom duidelik tot uitdrukking. Die voorplatkunswerk van die bundel is ook een van haar eie werke wat treffend die vervlietende aard van die lewe illustreer met die twee duiwe in vlug oor die klipperige landskap met die grys lug daarbo. Dit word ook op die verso van die vyf verskillende afdelings herhaal om aan die bundel ’n tematiese binding te gee. Dis egter jammer dat die drukwerk op daardie bladsye nie beter is nie.

In die afdeling “’n vroeë duif” in die eerste gedig gebruik sy dan ook die metafoor van ‘n duif, simbolies van liefde, wat aansluit by die voorblad van die bundel met haar kunswerk van die twee wit duiwe in vlug.

 

Pieter 1

 

soos ‘n vroeë duif

wil ek koer oor ons liefde

ek wil bokspring

soos lammers na die reën

 

Die laaste gedig waarvan die laaste reëls terugverwys na die titel, druk die verskraaldheid en eensaamheid van die lewe se eindtyd uit:

 

die wêreld krimp

 

bleek mis

kruip nader

die wêreld krimp

tot hartklop

en asem

 

‘n Gedig waar klank, die visuele en die tasbare bydra om branders wat op die strand breek, uit te druk, eindig met ‘n besondere beeld:

 

die see

 

terugtrek en stoot

terugtrek en stoot

kleurspel op kleurspel

op nat sand en rots

terugtrek en stoot

nooit nooit tevrede

wit kantgordyntjies

op grys sand en rots

 

Haar evokatiewe, nostalgiese gedig wat weer eens die sintuiglike – die reuk, proe-, en tassintuie – inspan oor die lewe op ‘n Karooplaas, roep soet herinneringe op by enige een wat dit ken:

 

karoo-herinneringe

 

geur roep herinneringe op

die lang gebidde reën

val tuitjies

in die stof

karoo-parfuum

 

die eerste nagmaalwyn

naarsoet

in die warm kerk

die geur van motbolle

van nagmaalpakke

 

die reuk van droë perskes

in ouma se spens

waar canfruit-bottels

rye staan

 

pa se oggendkoffie

koestering

en ma se arms

as sy einas wegsoen

 

koljander wat skroei

bees slag

vleis maal

derms ryg

wors stop

blinkrooi slange

in erdeskottel

 

die soetwarm

van pasgeskeerde wol

die reuk van dip

vir skêrglippe

 

die melkasem

van

‘n lammetjie

die vars kruiereuk

van beesmis

 

die rantsoenkamer

ruik

na pruimtwak

rou rieme

bruinsuiker

in ‘n goiingsak

kersvet

lampolie

en koffiebone

 

na ‘n jaar in die stad

die geur van karoobos

by die eerste hek

dis tuiskom

 

by die huis

dop geurige brode

uit die aga-oond

op bakleikorsie

nog warm

smelt

geel botter

met waterogies

 

pa en ma

se arms

volmaakte

koestering

 

Lesers met ’n liefde vir die natuur sal beslis aanklank vind by hartklop en asem en dit as ‘n bevredigende bundel ervaar.

 

 

 

 lugspieëling (2024)

‘n Lugspieëling, of fata morgana dui op ‘n komplekse, vinnig veranderende ‘mirage’ wat bo die horison verskyn en veroorsaak word deur lig wat deur opgestapelde lae koue en warm lug gebuig word. Voorwerpe word daardeur vertrek wat hulle verwring, omgekeerd, of drywend laat voorkom. Dit is ‘n Italiaanse term, vernoem na die Arthuriaanse towenares, Morgan le Fay, en spruit uit ‘n geloof dat hierdie lugspieëlings wat dikwels in die Straat van Messina gesien word, feekastele in die lug, of vals grond was om matrose na hulle dood te lok. (Skybrary)

Dit gaan dus daaroor dat lugspieëlings uitlok, verlei, beloftes inhou … net om te besef dat dit slegs ‘n oënskynlike werklikheid, ‘n illusie was. Die metaforiese toepassing daarvan sal by talle lesers aanklank vind.

In die gedigte waarvan ‘n klompie oor hierdie tema handel, word ‘n spanning geskep tussen droom en werklikheid.

In die volgende vers was die ervaring van “die lewe dans” vir die digter maar net uiteindelik ‘n “bisarre gedagte, “kortstondig”:

 

lugspieëling

 

die lewe

dans

gewigloos

‘n illusie

op die horison

fata morgana

verleiding

na niks

‘n bisarre

gedagte in tyd

gebuigde lig

kortstondig

 

Hoop en beloftes vir ‘n beter lewe wat verpletter word, word skrynend in “ons droewe land” uitgedruk, en kon waarskynlik ‘n geslaagde sonnet geword het:

 

ons droewe land

1994

 

kinders uit die agterstrate

sing uit volle bors

“i believe i can fly

I believe i can touch the sky”

hul flenterklere

word pouvere

wat blink

in die son van

hoop en geloof

maar vanaand

slaap hul koud

met honger magies

die hoop

weer eens

ontknoop

here god

wees hul genadig

behou hul geloof

dis al wat hul het

 

Die slotgedig bring tog ‘n positiwiteit in die opsig dat daar, ten spyte van ontnugtering en teleurstelling, kosbare gekoesterde herinneringe is.

 

vashou

 

ek wonder oor

onthou

“ont-“ is tog ‘n wegneemwoord

jy kan sien

soos deur ‘n sluier

jy kan voel

met jou hart

maar nie

in jou hande

vou

dis ‘n ontneemwoord

‘n afstandwoord

 

herinner

is ‘n innerige woord

‘n binnewoord

‘n sagter

koesterwoord

‘n bggry-woord

‘n luierwoord

‘n vashouwoord

herinnering

is kosbaar

‘n weer-

ervaar

 

Interessant is dat die gedagte van iets wat as werklikheid ervaar word, maar dan eindig in teleurstelling en die besef dat dit slegs ‘n illusie was, duidelik tot digters se verbeelding spreek, en dat hulle dan daaraan uitdrukking gee. Daar is heelwat gedigte in die wêreldletterkunde met die titel “Fata Morgana”, soos byvoorbeeld die bekende vers deur H.W Longfellow, ook Christina Rossetti, Roberto Ottoboni, Cicely Fox Smith, Elena dL, Linda Maria Baros, en veel meer; asook ‘n 2026 vers deur Noorweër, Tor Magnor Solvang.

Die verse uit hierdie bundel toon ‘n groter digtheid en diepte by die digter as by die debuutbundel aan, en kan definitief by lesers aanbeveel word.

 

Bibliografie

Skybrary Fata Morgana

https://skybrary.aero/articles/fata-morgana

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Die digkuns as ’n tranche de vie

4e gedagtes oor “Resensie: “hartklop en asem” en “lugspieëling” (Maletta Fourie)”

  1. Anita Sutherland says:
    20 March 2026 at 15:39

    Dankie Malet jou woorde wek beelde .Dis werklik wonderlik hoe jou woorde n lewe van hulle eie kry.Ek lees en lees en lees weer.Dankie

    Reply
  2. Prof Nico Luwes says:
    20 March 2026 at 07:55

    Sjoe Malette, baie geluk met die publikasie van roerende gedigte met pragtige reuk- sien- voel- proe- bedink- herbeleef ervarings -ook vir die leser! Is dit beskikbaar by boekwinkels hier in Mosselbaai omgewing? Mooi dag daar! Liefde Alet en Nico

    Reply
  3. RENATA KRUYSWIJK says:
    19 March 2026 at 18:22

    GELUK Maletta .
    Jou gedigte dryf my hart in, wonderbaarlik hoe jy peins en kuns maak met woorde, met lewenservaring koester en deel.
    Dit is verstommend hoe jy slaag daarin om soveel tot lewe te laat kom met min, tog treffende woorde, dit is voorwaar voortreflik !!!!

    Renata

    Reply
  4. George says:
    19 March 2026 at 18:13

    Wonderlik, in gevoelvolle Afrikaans. Kan oor en oor gelees en waardeer word.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d