Resensie: hartklop en asem, deur Maletta Fourie. 2022, Turksvy Publikasies EN lugspieëling deur Maletta Fourie, 2024. Turksvy Publikasies
Resensent: Elizabeth van der Berg
Maletta Fourie is in 1942 gebore en het grootgeword op ’n plaas in die Carnarvon-distrik, met die Groot-Karoo se vlaktes en ruimte om haar. Sy studeer kuns aan die Universiteit van Kaapstad en daarna mode-ontwerp. Sy was eers getroud met Pierre Swart en ná sy dood met die dramaturg Pieter Fourie. Skilder en skryf is haar passie.

hartklop en asem (2022)
Maletta Fourie se debuutdigbundel hartklop en asem verskyn in 2022 presies een jaar na die afsterwe van haar man, en is ook opgedra aan hom. Die gedigte is in vyf afdelings ingedeel: “die dag breek”, “’n vroeë duif”, “donkermaan”, “kiekies” en “die wêreld krimp”.
Die meerderheid van die verse handel oor die natuur, oor voëls, diere, plante natuurverskynsels, die maan, die see, en meer. Sy skryf egter ook oor liefde; nostalgies oor herinneringe, oor die Karoo; en as ouerwordende, oor hartseer, verlies, verlange, en oor afgestorwenes.
Haar gedigte is sterk beeldend en sintuiglik wat veral die visuele, maar ook die reuk-, gehoor- en tassintuie insluit. Haar liefde vir die natuur wat sy met haar kunstenaarsoog fyn waarneem, kom duidelik tot uitdrukking. Die voorplatkunswerk van die bundel is ook een van haar eie werke wat treffend die vervlietende aard van die lewe illustreer met die twee duiwe in vlug oor die klipperige landskap met die grys lug daarbo. Dit word ook op die verso van die vyf verskillende afdelings herhaal om aan die bundel ’n tematiese binding te gee. Dis egter jammer dat die drukwerk op daardie bladsye nie beter is nie.
In die afdeling “’n vroeë duif” in die eerste gedig gebruik sy dan ook die metafoor van ‘n duif, simbolies van liefde, wat aansluit by die voorblad van die bundel met haar kunswerk van die twee wit duiwe in vlug.
Pieter 1
soos ‘n vroeë duif
wil ek koer oor ons liefde
ek wil bokspring
soos lammers na die reën
Die laaste gedig waarvan die laaste reëls terugverwys na die titel, druk die verskraaldheid en eensaamheid van die lewe se eindtyd uit:
die wêreld krimp
bleek mis
kruip nader
die wêreld krimp
tot hartklop
en asem
‘n Gedig waar klank, die visuele en die tasbare bydra om branders wat op die strand breek, uit te druk, eindig met ‘n besondere beeld:
die see
terugtrek en stoot
terugtrek en stoot
kleurspel op kleurspel
op nat sand en rots
terugtrek en stoot
nooit nooit tevrede
wit kantgordyntjies
op grys sand en rots
Haar evokatiewe, nostalgiese gedig wat weer eens die sintuiglike – die reuk, proe-, en tassintuie – inspan oor die lewe op ‘n Karooplaas, roep soet herinneringe op by enige een wat dit ken:
karoo-herinneringe
geur roep herinneringe op
die lang gebidde reën
val tuitjies
in die stof
karoo-parfuum
die eerste nagmaalwyn
naarsoet
in die warm kerk
die geur van motbolle
van nagmaalpakke
die reuk van droë perskes
in ouma se spens
waar canfruit-bottels
rye staan
pa se oggendkoffie
koestering
en ma se arms
as sy einas wegsoen
koljander wat skroei
bees slag
vleis maal
derms ryg
wors stop
blinkrooi slange
in erdeskottel
die soetwarm
van pasgeskeerde wol
die reuk van dip
vir skêrglippe
die melkasem
van
‘n lammetjie
die vars kruiereuk
van beesmis
die rantsoenkamer
ruik
na pruimtwak
rou rieme
bruinsuiker
in ‘n goiingsak
kersvet
lampolie
en koffiebone
na ‘n jaar in die stad
die geur van karoobos
by die eerste hek
dis tuiskom
by die huis
dop geurige brode
uit die aga-oond
op bakleikorsie
nog warm
smelt
geel botter
met waterogies
pa en ma
se arms
volmaakte
koestering
Lesers met ’n liefde vir die natuur sal beslis aanklank vind by hartklop en asem en dit as ‘n bevredigende bundel ervaar.

lugspieëling (2024)
‘n Lugspieëling, of fata morgana dui op ‘n komplekse, vinnig veranderende ‘mirage’ wat bo die horison verskyn en veroorsaak word deur lig wat deur opgestapelde lae koue en warm lug gebuig word. Voorwerpe word daardeur vertrek wat hulle verwring, omgekeerd, of drywend laat voorkom. Dit is ‘n Italiaanse term, vernoem na die Arthuriaanse towenares, Morgan le Fay, en spruit uit ‘n geloof dat hierdie lugspieëlings wat dikwels in die Straat van Messina gesien word, feekastele in die lug, of vals grond was om matrose na hulle dood te lok. (Skybrary)
Dit gaan dus daaroor dat lugspieëlings uitlok, verlei, beloftes inhou … net om te besef dat dit slegs ‘n oënskynlike werklikheid, ‘n illusie was. Die metaforiese toepassing daarvan sal by talle lesers aanklank vind.
In die gedigte waarvan ‘n klompie oor hierdie tema handel, word ‘n spanning geskep tussen droom en werklikheid.
In die volgende vers was die ervaring van “die lewe dans” vir die digter maar net uiteindelik ‘n “bisarre gedagte, “kortstondig”:
lugspieëling
die lewe
dans
gewigloos
‘n illusie
op die horison
fata morgana
verleiding
na niks
‘n bisarre
gedagte in tyd
gebuigde lig
kortstondig
Hoop en beloftes vir ‘n beter lewe wat verpletter word, word skrynend in “ons droewe land” uitgedruk, en kon waarskynlik ‘n geslaagde sonnet geword het:
ons droewe land
1994
kinders uit die agterstrate
sing uit volle bors
“i believe i can fly
I believe i can touch the sky”
hul flenterklere
word pouvere
wat blink
in die son van
hoop en geloof
maar vanaand
slaap hul koud
met honger magies
die hoop
weer eens
ontknoop
here god
wees hul genadig
behou hul geloof
dis al wat hul het
Die slotgedig bring tog ‘n positiwiteit in die opsig dat daar, ten spyte van ontnugtering en teleurstelling, kosbare gekoesterde herinneringe is.
vashou
ek wonder oor
onthou
“ont-“ is tog ‘n wegneemwoord
jy kan sien
soos deur ‘n sluier
jy kan voel
met jou hart
maar nie
in jou hande
vou
dis ‘n ontneemwoord
‘n afstandwoord
herinner
is ‘n innerige woord
‘n binnewoord
‘n sagter
koesterwoord
‘n bggry-woord
‘n luierwoord
‘n vashouwoord
herinnering
is kosbaar
‘n weer-
ervaar
Interessant is dat die gedagte van iets wat as werklikheid ervaar word, maar dan eindig in teleurstelling en die besef dat dit slegs ‘n illusie was, duidelik tot digters se verbeelding spreek, en dat hulle dan daaraan uitdrukking gee. Daar is heelwat gedigte in die wêreldletterkunde met die titel “Fata Morgana”, soos byvoorbeeld die bekende vers deur H.W Longfellow, ook Christina Rossetti, Roberto Ottoboni, Cicely Fox Smith, Elena dL, Linda Maria Baros, en veel meer; asook ‘n 2026 vers deur Noorweër, Tor Magnor Solvang.
Die verse uit hierdie bundel toon ‘n groter digtheid en diepte by die digter as by die debuutbundel aan, en kan definitief by lesers aanbeveel word.
Bibliografie
Skybrary Fata Morgana
https://skybrary.aero/articles/fata-morgana

Dankie Malet jou woorde wek beelde .Dis werklik wonderlik hoe jou woorde n lewe van hulle eie kry.Ek lees en lees en lees weer.Dankie
Sjoe Malette, baie geluk met die publikasie van roerende gedigte met pragtige reuk- sien- voel- proe- bedink- herbeleef ervarings -ook vir die leser! Is dit beskikbaar by boekwinkels hier in Mosselbaai omgewing? Mooi dag daar! Liefde Alet en Nico
GELUK Maletta .
Jou gedigte dryf my hart in, wonderbaarlik hoe jy peins en kuns maak met woorde, met lewenservaring koester en deel.
Dit is verstommend hoe jy slaag daarin om soveel tot lewe te laat kom met min, tog treffende woorde, dit is voorwaar voortreflik !!!!
Renata
Wonderlik, in gevoelvolle Afrikaans. Kan oor en oor gelees en waardeer word.