I
Hierdie bundel word soos volg beskryf deur Daniel Hugo namens die uitgewershuis Turksvy:
In scent of places beskryf die digter twee maniere van reis – geografies en geestelik. Die reis begin in suidelike Afrika, word voortgesit in Brittanje en Europa, en eindig dan weer in Afrika. Medereisigers, landskappe, stede en kunswerke vorm die ryk geskakeerde en kleurvolle materiaal van haar poësie. Die gedigte is inderwaarheid dagboekinskrywings van ’n pelgrim deur die lewe. Die leser reis saam en word self ook deur die ervaring verryk en verruim.
‘n Mens sou dit kon tipeer as ‘n tranche de vie (slice of life). Op ‘n indirekte en direkte wyse word die pelgrimsreis via vreemde landskappe, die digkuns, meditasie en skilderye beskryf. Die digter heet Julijana Rossouw, skilder en digter.
In Afrikaans het ons die digkuns van Johan van Wyk, ook skilder en digter. En natuurlik Breyten Breytenbach. Marilet Sienaert het veral uitstekende bydraes gelewer oor die huwelik tussen skilder- en digkuns.
https://alternation.ukzn.ac.za/wp-content/uploads/2025/11/07-Sie-min.pdf Besoek 6 Januarie 2026
II
‘n Skildery langs ‘n gedig gee hier ‘n ander betekenis soos die een neffens “streets of Bordeaux” (69) waar sy roep na die geliefde:
my toes rubbing cobblestones
to get the feel of you
embracing what is near
(…)
Maar hy antwoord nie! Alles bly koud en triestig …
Hy is inderdaad ‘n bliksem. ‘n Woedende liefdesvers.
Reis as selfkontrontasie en kortstondige ontmoetings met ander word onder die loep geneem.
‘n Mens bly as leser deurgaans bewus van ‘n tussenin-ervaring van alles. Liminaliteite. Soos dit klinkend beskryf word in “stones and dust” (120):
trains separate
roads lead on “caballos Andaluces” (84) is asemsnakkend goed in die vormbeheer.
Die digter gebruik ook vreemde tale om die nuwe landskap op te vang of te “vertaal”.
Ons beweeg in die intieme dagboek in (en uit) met gedigte as pensketse of meditasies. Ook die gevoel dat ‘n mens baie druk nodig het om ‘n gedig oor niks te kan skryf!
Die assosiatiewe aard van hierdie gedigte is opvallend. Die sintuiglikheid van die gedigte is opvallend en om iets te ruik, roep alte dikwels die verlede op, soos ons weet uit Marcel Proust se madeleine-koekie wat gedoop word in Herinneringe aan verlore tyd. Hierom is daar dan vele gedigte wat met tyd werk. Toe en nou.
Ook die selfgesprek soos in “selfie” (46). Wie kyk hier na wie? Wie is die objek? Is dit net sy self? Of stap iemand anders voor die kamera in? Of weg?
“To photograph people is to violate them, by seeing them as they never see themselves, by having knowledge of them that they can never have; it turns people into objects that can be symbolically possessed. Just as a camera is a sublimation of the gun, to photograph someone is a subliminal murder – a soft murder, appropriate to a sad, frightened time.” Aldus Susan Sontag in On Photography.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=susan+sontag+on+photography
Besoek 6 Januarie 2026
Die digter as voyeur kom na vore in “she boards the train at Belleville, Paris” (60).
Twee passasiers wat skryf en die een oënskynlik nonchalant en die een vrou verlaat die trein by Auvers. ‘n Ander vrou klim op, minder aantreklik, maar word ook beskryf.
Die ooreenkomste tussen die skryfproses, ‘n foto en skildery word dus so geaktiveer.
Die gedigte getuig van uitsonderlike kennis oor die skilderkuns soos ons sien in “three views of Paris” (66).
Die leser word dus uitgenooi om die skilderye te bekyk (wat tans maklik is, danksy die internet). Pisarro se afstand teenoor Bonnard se reën en sambrele, met Gogh se opwaartse blik na die son …
Wie kyk? Na wie word gekyk? Dubbelblik. Die digter dekonstrueer telkemale die maklike blikhoek.
Van foto’s en selfone beweeg ons na films soos in die gedig “don’t look now” (93) gebaseer op Nicholas Roeg se film uit 1973, wat werk met Daphne du Maurier se verhaal uit 1971.
‘n Film oor die parapsigologie met twee ouers wat die dood van hul kind verwerk en in Venesië ontmoet hulle twee susters wat heldersiende is. Die tantes beweer die kind probeer met hulle kontak maak. ‘n Film oor die okkulte deur Roeg, soos in Bad Timing uit 1980 ,‘n meester van die montage en terugflitse.
In haar gedig word die kind die spreker (waarskynlik); of die gedig word gebruik om onafgehandelde sake te besweer? Ook ‘n film waarin daar (vir die tyd) grensoorskrydende intimiteite was tussen Donald Sutherland en Julie Christie.
Roeg se film handel oor tyd wat saamsmelt: verlede, hede én toekoms. Die man en vrou soek die kind en uiteindelik is die dood van die man die pynlike uiteinde van alles.
As films nuwe rendisies kan beleef, soos o.a. Hitchcock se klassieke Psycho, wat Gus van der Sant in kleur weergee (en herinterpreteer) in 1998, mag digters sekerlik ook teruggaan op bekende gegewens. Ook Vermeer kom in hierdie bundel aan bod. Vermeer is uitstekend in Afrikaans onder andere deur T.T. Cloete en Tom Gouws “verpak” in ekfrastiese verse.
In die filmkuns ken ons Peter Webber se briljante film uit 2003 met Colin Firth en ‘n skroomvallige Scarlett Johansson.
Hier word Griet aan die woord gestel: ‘n binnespraak dus.
Só klink Cloete so skittervers in Driepas (1989):

Die gedig as ‘n “snit uit die lewe” word saam geplaas in ‘n montage van ervarings, indrukke, assosiasies.
III
Die voorblad bied etlike simbole vir die leser: die kruis, die jin en jang, treinroetes, dalk ‘n plattegrond? …
Hierdie bundel is asof die leser ‘n kunstenaar se ateljee besoek. Sommige gedigte in hierdie bundel is dus nog nie heeltemal voltooi nie, terwyl ander jou imponeer.
Maar dis soos ‘n sketsboek. Of dalk ‘n film wat nog geredigeer moet word met baie footage?
Soos by films is daardie ekstras altyd insigryk om te besoek op ‘n DVD. Wat het die regisseur uitgesny uit die verhaal? En waarom?
Die bundel is besonder mooi uitgegee.
Joan Hambidge
Kaapstad
5 Januarie 2026
scent of places
JuliJana Roussouw
Turksvy uitgewers
ISBN: 978-1-83492-088-7
164 bladsye
R280.00
ABOUT THE AUTHOR
JuliJana Roussouw received an MA in Creative
Research in Poetry from Roehampton
University, London. Her chapbook, ra-t, was
published by Shearsman Books, Oxfordshire,
England. Her poems have been published in
South African and UK magazines. As juli Jana
she has held a number of exhibitions in South
Africa and overseas. She presents Word &
Visual workshops in Cape Town. As both
poet and visual artist she expresses herself
with the brush and the word. It is a matter of
seeing, absorbing and then allowing an overflow of expression.
