Peter Sacks. Vertaling van Engels in Afrikaans (“In These Mountains” / “In hierdie berge”)
Vertaal deur Luan Staphorst
Bibliografiese besonderhede
“In These Mountains” is die lang titelgedig van die Suid-Afrikaans gebore digter, skilder en letterkundige Peter Sacks se debuutbundel wat in 1986 gepubliseer is.
Vertaalstrategie
Twee oorwegings in die vertaling van die gedig verdien vermelding. Die eerste hou verband met Sacks se klaarblyklike inspan van materiaal uit Specimens of Bushman Folklore (Bleek en Lloyd 1911). Hierdie klassieke versameling is meermale in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse letterkunde vertaal, omdig en getransponeer (vergelyk Van Vuuren 2016, Staphorst 2025b). Een van die invloedrykste omvormings in Afrikaans is Antjie Krog se Die sterre sê ‘tsau’ (2004). Siende dat Sacks in sy verwerking swaar op die vertalings soos in die 1911-versameling verwoord gesteun het, het ek Krog se vertaling as basis geneem vir my weergawe. Die afdeling in aanhalings waar die spreker ’n onuitgekende “baas” aanspreek, asook die kort aanhaling met die “Maan” as aangesprokene, het Krog se materiaal ingespan.
Die tweede oorweging is die tipografiese uitbeelding van |xam, die taal van die betrokke Boesmans wat in die Bleek en Lloyd-argief opgeneem is. In Specimens of Bushman Folklore is die |xam-taal wetenskaplik weergegee met ’n getroue en konsekwente gebruik van die tersaaklike klapklanke. ’n Dekade ná die verskyning van hierdie versameling publiseer Dorothea Bleek – Wilhelm Bleek se dogter wat werk oor |xam by haar vader en tante oorgeneem het na hulle sterfte – die verhaalbundel The Mantis and his Friends (1923). Hierdie tweede versameling verwerkte tekste uit die argief volg ’n ander, merkbaar populêre aanslag. Nie net is die |xam-talige tekste nie ingesluit nie, maar die klapklanke is nie teenwoordig by |xam-woorde, veral name, wat in die Engelse verhale teenwoordig is nie.
Sacks het ongetwyfeld ook op hierdie bundel gesteun, vernaamlik in die afdeling waar die figure Kaggen en Kwammanga voorkom. Ten spyte van my kritiek op verwerkings van argiefmateriaal wat |xam-woorde ontkrag deur onder meer klapklanke weg te laat (vergelyk Staphorst 2025a), het ek nie in hierdie vertaling die klapklanke ingevoeg nie siende dat ek nie die rekord wil suiwer deur Sacks se aanvegbare benadering te wysig nie. In tekste wat getrou is aan die |xam-taal word “Kaggen” as “|kaggen” en “Kwammanga” as “|kwammanga” (of “|kwammana”) geskryf.
’n Verdere opmerking is dat die gedig in die bundel deur ’n nota en twee aanhalings voorafgaan. Ek het die nota, wat Sacks se oorspronklike skrywe is, vertaal maar nie die twee aanhalings nie.
In hierdie berge
nota. Die Boesmans, of San, is soms “die eerste mense van Suider-Afrika” of “die mense van die eland” genoem – eland wat ’n spesie Suid-Afrikaanse wildsbok is waarmee hulle ’n besonderse verbintenis gehad het. Gedurende die negentiende eeu het die Boesmans na die woestyne en berge van Suider-Afrika gevlug, en daar ’n tydelike heenkome weg van die aantog van nuwe setlaars gevind.
Die oorblywende Boesmans van die woestyn leef nou grootliks in die Kalahariwoestyn van Namibië en Botswana. Meeste woon op reservate, en ’n groot aantal mans is deur die Suid-Afrikaanse Weermag as spoornyers en soldate in die guerillastryd op die grens van Namibië gebruik.
Van die Bergboesmans is daar niemand oor nie. In 1872 het ’n wit kommandogroep ’n “strafstrooptog” teen die laaste groep in die Natalse Drakensberge uitgevoer. Daar word oorgelewer dat hierdie klein groep ’n skilder ingesluit het – met rotstekeninge wat die enigste oorblywende spoor van die Boesmans in hierdie gebied is.
***
Today in a German dictionary, I saw elend
And the heart in my breast turned over, it was—
It was a word one translates wretched.
—Randall Jarrell
Kung Bushmen call all strangers zhu dole, which means “stranger” but, literally, “dangerous person;” they call all non-Bushmen zo si, which means “animals without hooves,” because, they say, non-Bushmen are angry and dangerous like lions and hyenas. But Kung Bushmen call themselves zhu twa si, the harmless people. Twa means “just” or “only” in the sense that you say: “It was just the wind” or “it is only me.”
—Elizabeth Marshall Thomas
***
Ek onthou bergwater wat oor klippe so
glad loop daar is geen klank nie – selfs met
die oor digby vloei dit sagkens asof
die klippe in die water versmelt het, tot lig.
In hierdie berge wei wildsbokke nog vry,
blesbok, hartebees, die roetbruin oorbietjie en oop kranse,
klipspringers naby klipbanke, elande swaar
snuffel saggies op skuinstes laer, hulle liggame
heuninggekleurd, vloei met die gras te same.
In sandsteenspelonke vind ons elande
op die mure geskilder, sommiges van die voorletters bekrap,
ander in die hoër grotte onaangeraak.
Hoewel ons menslike figure saam met die diere sien hardloop het,
kon die skilderye deur die wind afgelaat gewees het,
of deur water wat deur die stene sypel vir al wat ons
van Boesmans weet: ’n tipe geel pigmee,
ek onthou hoe ek as kind gehoor het, hoe hulle natuurlik
in hierdie wêreld ’n eeu gelede uitgesterf het –
’n volk tot die moderne wêreld wanaangepas.
Tog eens, op ’n vier dag rit, kamp ons
in ’n smal spelonk, en soos wat ek my slaapsak
onder ’n krans diep in die skuiling uitrol sien ek
klein skilderye dof op die rots,
amper-swart beelde wat roer in die laaste
vuurlig en rook – ’n groep mans
met koppe van wildsbokke, lang maskers met elandhorings,
’n gespikkelde slang op die kronkelende aar van klip,
nog ’n figuur soos ’n bidsprinkaan
gereed vir ontvlugting. En lank voor sonsopkoms
ontwaak ek koud in die donkerte hoor
die strompelende perde wat die gras stamp,
die geluid van wind, van water wat drup
hoewel ek geen reën gewaar het nie, en die onsekere figure
beweeg in die lae rots oorhoofs.
***
“Baas, u weet dat ek hier sit en wag vir die maan
om om te draai vir my, sodat ek kan teruggaan
na my plek. Sodat ek weer
na my mense se stories kan luister, wat van
gunter kom. Want hier het ek geen stories nie.
Maar ek dink werklik ek moet slegs
vir die maan wag, sodat ek vir my baas kan vertel
dat ek voel dat dit die tyd is wanneer ek moet sit
tussen my medemense, wie stap en hul gelykes ontmoet.
Hulle luister na die stories daar.
Ek moet eers my arms ’n bietjie afkoel
sodat die moegheid dit mag verlaat,
wagtend op ’n storie – dit kan in my oor insweef.”
***
Sewe figure stap in enkel gelid
by die sandsteenmuur uit, stap na benede
deur wasige brokkies verweerde rots,
sommige met ’n paal of stok vooruitgehou
om liggaamsgewig oor die ongesiene pad uit te sprei.
Reisigers wat migreer, elkeen gemantel
in ’n donker karos, of jagters wat ’n opbrengs dra,
boggelrug, effens vooroorgebuig op
hulle slank bene, ’n deel van elke romp
wat in die vaal klip of wolk vervaag
dan herverskyn. Skaduagtige figure belas
en tog swewend soos hulle stap – die pad
wat die dooies dalk mag vat, of geeste wat aanstap tot lewe.
***
“Ons het voor sonsopkoms begin beweeg, tien van ons,
met twee ou Zoeloes voor
wat die Boesmanspore in die ryp volg.
Hulle het te voet gekom, die beeste vergiftig,
toe weggery op perde
wat van die plaas af gesteel is. Twee ure opwaarts
vind ons die perde, drie dood,
een wat steeds skop – elkeen met klein
pylpunte in die bors. Van daar
verloor ons die spoor, maar volg ’n smal
pas waar ’n paar dae tevore ons ’n trop
elande gesien hardloop het asof
deur jagters hoër op onkant betrap.
’n Myl van die sandsteenkranse af
maak ons ons perde vas en kruip voort,
elkeen alleen, hou ’n swaar
duffeljas in geval van pyle.
Kruipend oor die grond – ’n geruis
van droë gras soos wat ons beweeg, die geur
daarvan wat onder ons arms en knieë beur.
“Ek het gerus, kop onderstebo, toe
die eerste geweer die bodem inslaan, weerkaats
vanaf die rante, dan ’n tweede,
en ’n Boesman wat in ’n bal rol,
dan twee figure wat kantwaarts klouter
in die rigting van die grot. Ek mis een, moeilik
om sy geel lyf in die gras te sien,
maar die res van ons vuur voort,
party vorder grotwaarts;
en dan omsingel ons, die geweer-
vuur oorverdowend teen klip.
“Verder terug in die halflig:
die koeël het hom in die bors getref,
hom teen die muur gegooi –
’n klein man, sy vel geplooi,
ek onthou hoe sy hande
vir ’n sekonde oor die steen gesprei het
totdat hy soos ’n leerlap krummel,
sy oë wyd oop, ’n wurgende
suigende geluid in die kuil van die keel.
“Die grot was dig van die rook, die lig
van buite warrel in ’n swaar skag,
ons mans doem daarin op, Boesmans
oor die grond gestrooi.
Almal dood behalwe vir een ou man
wat iemand in die stuit geskiet het om te sien
of al daardie ekstra vlees kon seerkry.
Ons kon nie bepaal nie, hoewel dit vinnig
in ’n dik poel uitgebloei het, die Boesman
wat op sy sy lê en ween
geluidloos, arms na bo om sy gesig te verberg.”
***
Die wind waai deur ’n klein rieteiland
in die bergpoel. Daar in die skaduwater
het Kaggen sy skoonseun Kwammanga
se afgeworpe leerskoen versteek, keer elke dag terug
om dit te sien groei. Hy sing vir dit,
tril sy tong soos wat riete roer
in die wind, ’n sagte geklik soos wat hulle saam leun,
soos jagters eens gesing het,
geroep het “Kwammanga se leerskoen,
Kwammanga se skoen.” Tot die sandaal groei
tot ’n jong eland en na sy arms gekom het.
En hy sou sy kop sagsinnig met heuning vryf,
vryf sy jong flanke met heuninggraat.
Kwammanga, mis drie dae se heuning,
volg Kaggen tot by die bergpoel.
Hy lê onder ’n lang karos, stil
soos ’n laagliggende klip naby die waterrant,
hoor “Kwammanga se leerskoen,” met die sagte
klakkende klank. En deur ’n skeur in die karos,
geskreef teen die lig, sien hy vaal bene
uit die riete uitstap, die nat hoewe
glinster, ’n oranje-oker flank, ’n sagte
vel onder die keel, swart horings wat reguit
van agter die kop uitsteek, die neusgate
wat bewe. En Kaggen nou met heuning
in sy hande, stryk glad die eland se hare.
Alleen, Kwammanga kruip uit sy karos.
Na sy lae geroep roer die riete en die eland
wat draf in die vlak water ontvang
Kwammanga se pyl in die nek. Wanneer ’n eland
spring verskuif die gewig deur die lyf
soos ’n golwing deur ’n poel, of soos kleedstof
ontplooi wanneer dit in die wind geskud word. Wanneer Kaggen
om skemer uitroep bewe slegs die wind
deur die riete en dan ’n onsinlied,
Kwammanga sing soos wat hy die karkas omdraai
op ’n blarebed, sit al die dele opsy:
die binnegoed met ’n stok skoongemaak, die galblaas,
die pens, en die hart; die bloed opgegaar
in ’n put met die eland se huid omlyn.
Die eland se hart, die huidbak met donker bloed.
Kwammanga karring tot die bloed oor
die grond spat, waar elke druppel weggly – ’n wurm,
’n lang rooi akkedis, of ’n slang. Maar Kaggen
gooi die hartvet in ’n bak, neem die spoel
in sy hande. Die bloed word geel,
en uit elke druppel vlug ’n eland die heuwels in.
En Kaggen volg soos ’n wind wat onder
hulle beweeg en roep, bewe sy tong.
So vra die jagters het jy nog nie sy lied gehoor
wanneer die elande begin hardloop nie?
En soos wat hulle jag sal hulle vra,
het jy hom nog nie gehoor huil in die wind nie?
***
Ek keer sedert my kinderjare op hierdie weg terug,
die pad wat deur die Vallei van ’n Duisend Heuwels
tot in die Middeland beweeg, wat die Drakensberge uitklim,
ek en my suster in die agterste sitplek, bied
goedkoop lekkers vir die kinders aan, hartvormige snoepgoed
agt vir ’n pennie by smouswinkels,
elke stukkie met ’n Zoeloespreuk gestempel wat ons nooit
gekon dink het om te verstaan nie. Was dit die skoonheid
wat ons aandag afgelei het, hoë bloekombome
langs die pad, blare wat bewe in kaskades
oor vaal bas, soet hars in die lug?
Koel lug, oop grasvelde wat kantel in die rigting
van berge, kalm beeste met hulle hoofde
bewegingloos na benede gebuig, asof hulle die gras drink.
En verbywegend veel vinniger as die plase,
elke dan en wan ’n kraal met hutte soos ’n byekorf
binne die buitelyn van ’n heuwel, ’n gedwaal van halfgeklee
kinders op die werf, hoenders, honde,
almal gly verby, die beeswagtertjies kaalvoet
in winter, stokkiesbene onder lang dun jasse,
sakke wat klap om hul heupe. Ons waai,
maar selfs hulle was natuurskoon; die vrouens balanseer
’n liggaam se lengte brandhout op hulle koppe –
agt uur se bymekaarmaak, maar vir ons beweeg hulle
met ’n gemaklike droomagtige gang deur die velde.
Terwyl ek hierdie keer terugvlieg, kyk ek na hoe die sterre
verander soos wat ons laer af Afrika afbeweeg, totdat ek
’n bergspoor volg, die droë klei wat krummel waar mens loop.
In ’n sylangse sloot skeur drie vissermanne sagte
deurskynende skepsels in die vaal grond,
deurboor hulle met ’n slank metaalspies.
Amper vormlose embrio’s met wurmagtige ledemate wat ontluik,
net genoeg bewus om weerloos te wriemel
soos die metaal deur organe glip wat net-net
sigbaar onder die vlees pols. Die geruk
en gegil, die bloedige pen, die hopies wat kriewelend
halfdood onder die son gelaat word, een wat van naby af bekyk word
bloei uit die membraan van sy mond –
steeds nader, totdat ek wakker word, my kop
wat in sweet teen die vensterblinding gly.
***
Vaal oker, kersrose, die lang gras
by my skene, langer klompies kniehoog met ’n mat
van verlede jaar se groeisels wat elke voet verstrengel
soos wat dit tas na versteekte holtes of hopies
van beskadude grond – knieë, heupe, skouers
volg soos die liggaam
die verandering en druk van die grond opgaar.
Bo ’n smal spoor wat na die spelonk lei,
’n hasige maas van stingels, dun toutjies,
filamente in ’n beligte nes van lugsteuring
waar graspunte in die lig bruis.
Ongesien, dan gesien, ’n klossie gras wat draai
in ’n flakkerende samekoms van massa tot die stilte
van ’n elandshoring, horings terug, die ore
amper deursigtig, sagte grys muil wat ruik
na waar ek staan lank daarna, vasgevang
in daardie eerste besigtiging soos wat die eland
opwaarts voortbeur bekyk die lae
amarantbosse geluidloos totdat
dit in die helling wegraak.
***
In ’n hoë stutmuur bo die vallei,
het sandsteen neersaksel diep in die laer rotsvlak verweer,
ligte filter deur dun geelhoutblare
na die skuilingmure, die klippe van die dak afgeval,
die sanderige vloer; ’n lig sag soos die klank
van water opgelig en galmend in die grot.
Buite die ingang, ’n hoë draadheining –
“Vandale,” verduidelik die Parkbord.
“Ons het ook ’n klein museum in die grot geskep.”
Die verveelde assistent in ’n netjiese safaripak,
“Saniboni” en “Umjani”
(amper my laaste oorblywende Zoeloe-woorde)
groet ons met klankbandkasset in die hand,
“Die agtergrond van die Boesmans:
Hulle lewenstyl en kuns.”
“’n Geharde nomadiese ras, hulle het
hulself hier gevestig toe boere die elande
se weivelde in die Natalse Middeland beset het.”
Wasmodelle, lewensgroot, kru verbeeld –
’n Boesman lê op ’n rafelrige karos,
sy gewig op heup en elmboog, pens wat
skuinswaarts na die stowwerige huid val, ’n skraal
pyl in sy een hand vas, met ’n stuk
onafgerolde garing in die ander gebalanseer.
“… slu veediewe maar heel onskuldig,
hulle kon nie goed soos eienaarskap verstaan nie.
Hulle het oor vee gedink net soos
oor wilde diere.” ’n Vrou, jonk maar geplooi,
vlees gevorm tot voue met die kleur van stof,
’n kind langs haar op die grond,
’n volstruiseierdop, ’n paar dansratels
“uit gedroogde kokonne van papies wat vir gifpyle gebruik is.
Hulle het dit met brokkies been gevul,
bind dit aan hulle voete vas.” En die band
beweeg voort met gode en legendes, Kaggen
en die Maan, stergeeste – mites afgewater
tot offerande en heropstanding, skilderye
as die vergoeding of aanvulling
vir wat die jagters gedood het. ’n Draadjie Boesman-
musiek volg soos wat ons na die kant toe draai.
Die assistent glimlag, keer terug na sy stoel.
Ongeraam, hardloop vrylik oor die mure,
’n trop elande beweeg oor die klip,
klein figure as mens hulle van ’n afstand gewaar,
party wat verdwyn, ander naby
spring na vore, koppe agteroor gegooi, elke liggaam in ’n lang
herhalende kurwe, die sagte V van die nek,
die verskanste rif bo die skouers sink
tot ’n lang geslingerde rug wat weer verrys
oor die romp; die flanke vaalbruin,
die onderflanke en bene beenwit
sodat elke dier opgelig, dobberend
op die rots voorkom. Digby hulle, menslike figure
selfs kleiner, hardloop met lang hale
met stokkies en boë, omsirkel hier ’n eland wat bloei
op die grond, hoewe in die lug, vaal kop
na een kant gepluk. Ander doem in die mis op,
elk versluier deur ’n lang karos oor
die skouer wat die heupe bedek, donker
soos donkerbloed, houtskool, verbrande mangaan.
En hier op hierdie symuur die jagtersmaan,
die withaarmaan, hou haar wapens
in haar hande, ’n koker oor haar rug
gegooi, vyf pyle naalddun,
haar glinsterende pens met oker bevlek,
donkerwordende bene uitwaarts by die knie gedraai.
“O Maan, gee my die gesig
waarmee u, nadat u gesterf het, wederkeer.”
***
Skadu’s trek skeef oor die plato
verrys soos ’n golf wat teruggegooi word
2000 voet bo die heuwels. Onder,
die Boesmansrivier sny tussen die berg se
grasvelde, gebroke water glinster stroomaf
verdonker in poele, ’n konstante hooggestemde
haas tussen die valleihellings, die uitgeholde
geklonk van klippe op die rivierbed.
Tree vir tree in die water in,
enkels, knieë wat brand dan dom in die vinnige
gety wat my na benede trek, elke hand
wat gryp na ’n rots. Nou styf
uiteengestrek in ’n verswelgde trog van basalt,
voete verstewig op ’n rots, rivier wat
nek en skouers slaan, oorhoofs breek
om in ’n karringende massa in die vallei in weg te spoel.
Om skemer hoog bo die rivier kykend in die rigting
van die plato se buitelyn, denkend aan die pad
terug kus toe. Ver onder, ’n trop
beweeg stadig aan die wei aan ’n smal strook groen.
Hulle beweeg soos ore van koring of wilde gras,
hou stil, kom bymekaar, beweeg aan, beweeg weg.
Wagtend in ’n rou wind op die oop heuwel
’n stoppel verbrande gras onder sool,
die roet dik aan my skoene, ek kyk windop
nogmaals, verloor die harde rante van elke berg,
sien slegs die geskilderde figure stap
vanaf die mure tot in die nag, die jagters en
hulle troppe ontbind in ’n wolk van onverligte stof.
En nou ’n klein fatsoen saamgebondel op
’n sandsteen vloer, verweer en tog aan die roer
asof van slaap, lig die hoof, die wye
misvormde mond donker soos die skadu’s in die spelonk,
donker soos die naglug wat orals heen vloei
tussen hierdie berge leegblaas, die heuwels
geluidloos aan die uithol – geen voëlroep,
geen rivierklank, geen geeste wat vinnig reis
met hulle kokers onder die koue sweef van sterre,
hulle beenskerfratels en hulle stemme
wat in die donkerte en die wind stroom.
Verwysings
Bleek, D.F. 1923. The Mantis and his Friends. Kaapstad: Maskew Miller.
Bleek, W.H.I. en Lloyd, L.C. 1911. Specimens of Bushman Folklore. Londen: George Allen.
Krog, A. 2004. Die sterre sê ‘tsau’: /Xam-gedigte van Diä!kwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /Han≠kass’o en //Kabbo gekies en versorg deur Antjie Krog. Kaapstad: Kwela.
Sacks, P. 1986. In these mountains. New-York en Londen: Collier Macmillan.
Staphorst, L. 2025a. “Om “verd(r)inging” as BADaptation te konseptualiseer: mondelinge tradisie, epistemiese geweld, en die wisselwerking tussen G.R. von Wielligh se Boesman-Stories (1919-1921) en Wendy Maartens se Sankind lees die wind (2024).” Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging 37(1-2): 85-112.
Staphorst, L. 2025b. “Reading Between Fire and Ash: Reflections on Colonial-Era African Archives in the Time of the Archival (B/T)Urn.” International Journal of African Renaissance Studies – Multi-, Inter- and Transdisciplinarity 20(1): 60-77.
Van Vuuren, H. 2016. A Necklace of Springbok Ears: /Xam Orality and South African Literature. Stellenbosch: SUN Press.
