
Wind, skadu en lig: ʼn Reisboek oor Namibië deur Johann Lodewyk Marais, Skeurklip, 2026
In Wind, skadu en lig doen Johann Lodewyk Marais verslag van drie reise na Namibië/Suidwesafrika: die eerste in 1961, dan weer in 1972 en in 1989. As digter is Marais welbekend en reis as tema kom dikwels in talle bundels voor. Marais is egter ook ʼn onderhoudende verteller en in boeke soos Stormlantern (reise na Botswana) en Kumbukumbu (ʼn reisboek oor Kenia) het hy reeds naam gemaak as reisverhaalskrywer. Soos in dié boeke vorm outobiografiese vertelling ook in Wind, skadu en lig ʼn belangrike agtergrond waarteen die vertelling afspeel.
Vir hierdie leser was die familiegeskiedenisse, vertellings oor die skrywer se ouers, oupas en oumas, ooms en tantes, neefs en niggies en ander verlangse familie en kennisse uit ʼn vervloë tyd besonder interessant, aangesien dit bykans vergete herinneringe opgeroep het. Destyds kon mens familie laat weet dat jy vir ʼn paar dae of weke gaan oorbly en dan is daar gekuier, geëet en gedrink en rondgery – hotelle was te duur en gastehuis destyds nog ʼn onbekende luukse.
In 1961 was die skrywer ongeveer 5 jaar oud, toe hulle met die trein van Harrismith na Windhoek vertrek het:
Twee stewige koffers en ʼn blou hoededoos is vir dié vier dae lange reis gepak. Elkeen van die koffers het ʼn linneoortreksel gehad wat met lissies vasgemaak is. My ma het die netjiese oortreksels met haar Singer-naaimasjien gemaak. Ook was daar die blou en roomwit reisdeken met tosseltjies – lank deel van ons treinreise en altyd my gunsteling.
Ja, dit was hoe mens destyds gereis het! Die hoofstuk is ʼn belangrike deel van die geskiedenis van treinry in Suid-Afrika en ʼn fassinerende optekening van gebruike wat al byna in vergetelheid verval het.
Die tweede hoofstuk handel oor ʼn besoek aan die skrywer se ouma en oupa Oosthuizen in Upington. Weereens word die treinrit in besonderhede geskets, maar hierdie keer kry die besoek self meer aandag. Die skrywer is ʼn entoesiastiese visserman (vergelyk die bundel Rietspruit) en een van die belewenisse wat vertel word, is hoe die skrywer saam met sy pa en oom in die Oranjerivier gaan visvang het. ʼn Besoek aan Windhoek was deel van hierdie reis en die skrywer vertel entoesiasties van halfedelstene en hulle herkoms wat hy daar by sy oom Les en in Kaiserstrasse kon sien, asook van ander uitsonderlike besienswaardighede waarin hy as jong seun belangstelling getoon het.
Kort na hulle tuiskoms het Apollo II op die maan geland en ʼn jaar later is die skrywer se pa oorlede.
Soos in die eerste twee hoofstukke, word die vertelling in die derde hoofstuk steeds geplaas binne die skrywer se persoonlike geskiedenis, maar nou in ʼn groter mate binne die geskiedenis van die land én die wêreldgeskiedenis. Daar het nou amper twee dekades verloop sedert die vorige besoek aan Namibië en sosiale en politieke omstandighede het ingrypend verander. Dit was vir Suid-Afrika én vir Namibië ʼn tyd van politieke omwenteling en die skrywer wou terugkeer na die land wat hy besoek het toe hy veel jonger was – ʼn land wat sy verbeelding aangegryp het. Die rit deur die Kalahari saam met sy vrou en dogter word poëties beskryf. Die natuurbeskrywings is van die mooiste in Afrikaans, maar die aangrypende natuurtonele word gejukstaponeer met die nuwe normaal: by die grens staan ʼn Casspir en onder ʼn tent sit polisiemanne wat die toeriste se ID’s kontroleer. Ook in Windhoek is die VN-amptenare besonder sigbaar.
Hierdie is verreweg die langste hoofstuk in die boek en die skrywer, met sy belangstelling in geskiedenis, neem die nuwe politieke, geskiedkundige en sosiale gebeure wat sedert sy laaste besoek plaasgevind het, deeglik en filosofies in oënskou en bied so ʼn fassinerende blik op ons buurland in ʼn stormagtige tyd wat baie lesers dalk nog onthou.
Benewens die netjiese geheelindruk wat die boek maak, is die foto-insetsel in die middel vir my ʼn groot pluspunt, aangesien mens sodoende die vele karakters wat in die vertelling optree, aan werklike persone kan koppel.
Wind, skadu en lig is ʼn reisboek met ʼn hart – ʼn boek wat nie slegs insig bied in ʼn besondere land en landskap nie, wat nie slegs die romantiek van reis aanskoulik maak nie, maar wat ook ʼn kykie bied in ʼn lewe wat aandagtig geleef word.
– Marlies Taljard
